Nowa Huta ['nɔva 'xuta] is die mees oostelike stadsdistrik van Krakow, Pole. Dit is in 1949 saam met 'n ysteraanleg volgens 'n dekreet van Sowjet-leier Josef Stalin gestig.[1]

'n Uitsig oor Nowa Huta
'n Tipiese laan in Nowa Huta
'n stadspoort van Nowa Huta
Die moderne Rooms-Katolieke Maria-kerk

Die planne vir die bou van Nowa Huta is reeds voor die inlywing van Pole by die Sowjet-invloedsfeer ontwikkel, maar oorspronklik sou die nuwe nywerheidstad nader by Silesië met sy steenkoolvelde aangelê word. Vanweë die goed ontwikkelde infrastruktuur met pad- en spoorverbindings na Oekraïne en ander dele van die destydse Sowjetunie is uiteindelik 'n gebied net oos van Krakow gekies. Die Raad vir Wedersydse Ekonomiese Bystand (RWEB, Engels: COMECON) as handelsorganisasie van die Oosbloklande het fondse ter waarde van 450 miljoen VSA-$ vir dié projek beskikbaar gestel.[2] Na Nowa Huta is vervolgens deur die Sowjet-propaganda as 'n "geskenk van Rusland vir die Poolse volk" verwys.

Die bou van 'n nuwe stad met 'n beplande bevolking van 220 000 digby Krakow sou volgens die kommunistiese magshebbers ook politieke doelwitte vervul - Krakow was juis 'n vesting van die Rooms-Katolieke en behoudende burgerdom wat afwysend teenoor die nuwe kommunistiese bedeling gestaan het - en dit selfs in 'n referendum met 'n groot meerderheid stemme afgekeur het. Nowa Huta, wat volgens sosialistiese beginsels van stadsbeplanning ontwerp is, sou as 'n stad van die werkersklas 'n teengewig teen Krakow vorm.

Ondanks die kommunisties-stalinistiese ideologie agter die stadsuitleg is Nowa Huta in ooreenstemming met 'n histories-burgerlike voorloper, die absolutistiese "gansvoetpatroon" (Frans: patte d'oie) met sy vorstelik-representatiewe karakter aangelê - met vyf hooflane wat vanuit 'n sentrale plein loop. In vergelyking met latere sosialistiese bouprojekte, wat met voorafvervaardigde eenhede opgerig is, was die gehalte van Nowa Huta se vroeë boufase relatief hoog. Daar is selfs sekere ooreenkomste met die sogenaamde Gemeindebau van "Rooi Wene" in die tyd tussen die twee wêreldoorloë en die neoklassisisme van die 1930's.

Ironies genoeg sou die werkersklas van Nowa Huta nie aan die kommunistiese bewind se verwagtinge voldoen nie. Hulle was net soos die burgerdom aktief betrokke by die omverwerping van die politieke stelsel. Nogtans het Nowa Huta se "Lenin-staalfabriek" (ná die politieke omwenteling hernoem tot "Sendzimir") met sy lugbesoedeling ernstige skade aan Krakow se historiese monumente berokken. Andersyds is die historiese middestad van Krakow danksy die bestaan van Nowa Huta nooit deur sosialistiese bouprojekte geraak nie. Die staal- en ysterproduksie is ná die val van die kommunistiese bewind drasties verminder en het duisendes werkloos gelaat.

Sekere sosiale konflikte tussen Krakow met sy meer intellektuele karakter en die werkersklas-bevolking van Nowa Huta bestaan steeds. Ondanks die goeie infrastruktuur met paaie en openbare vervoergeriewe ry 'n bewoner van Nowa Huta gemiddeld slegs twee keer na die historiese Krakowse stadsgebied wes van Nowa Huta. Aangesien die nuwe werkersbuurt as 'n selfstandige stad ontwerp is, beskik dit oor alle geriewe.

Bougeskiedenis

wysig

Die stadsgebied van Nowa Huta is in die vorm van 'n halwe agthoek met 'n sentrale plein (Plac centralny, voor die politieke omwenteling met 'n standbeeld van Lenin) aangelê. Vier hooflane en 'n bykomende voetgangerslaan (Aleja Róż) loop vanuit daardie agthoek.

Nowa Huta het bekendheid verwerf vanweë 'n godsdienstige stryd - as sosialistiese stad sou dit vry wees van enige godsdienstige simboliek en instellings. Die bevolking het egter daarop aangedring dat ook 'n kerk gebou moet word. Die destydse aartsbiskop van Krakow en latere pous Johannes Paulus II, Karel Wojtyła, het ná langdurige passiewe weerstand teen die owerheid daarin geslaag om 'n kerkgebou vir die plaaslike gemeente te laat oprig wat in 1977 as Maria-kerk ingewy is.

Dié kerk se argitektoniese vorm simboliseer Noag se ark op die berg Ararat (in die omgangstaal word na die gebou dan ook as arka verwys; dit is blykbaar volgens die voorbeeld van Le Corbusier se kerk Notre-Dame-du-Haut in Ronchamp, Frankryk deur die Poolse argitek Wojciech Pietrzyk ontwerp.[3] Die naturalistiese Christus-standbeeld in die binneruimte is deur Bronisław Chromy geskep. 'n Hele reeks ander moderne sakrale geboue in Pole is deur Nowa Huta se Maria-kerk geïnspireer.

Verwysings

wysig
  1. Michelin - Der Grüne Reiseführer: Polen. München: Travel House Media 2006, bl. 183
  2. The making and remaking of Nowa Huta Geargiveer 3 November 2013 op Wayback Machine (en)
  3. Tomas Torbusz: Polen. Keulen: DuMont 2002, bl. 190

Eksterne skakels

wysig