Daniël François Malan
Daniël François Malan | |
Daniël François Malan | |
Ampstermyn Junie 1948 – 1954 | |
Voorafgegaan deur | Jan Smuts |
---|---|
Opgevolg deur | JG Strijdom |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 22 Mei 1874 Riebeeck-Wes |
Sterf | 7 Februarie 1959 Stellenbosch, Kaapkolonie |
Politieke party | Nasionale Party |
Daniël Francois Malan is op 22 Mei 1874 naby Riebeek-Wes in die Wes-Kaap gebore en was 'n kindervriend van sy lewenslange opponent generaal Jan Christiaan Smuts en het 'n tyd lank selfs dieselfde skool as Smuts bygewoon. Hy het op 7 Februarie 1959 in Stellenbosch gesterf.
Dr. D.F. Malan was die eerste minister wat in 1948 die Verenigde Party by die stembus verslaan het en begin het met die invoer van die beleid van apartheid.
Dominee
Hy het geleer om NG predikant te word aan die Victoria-kollege op Stellenbosch en sy doktorsgraad in diviniteit in 1905 aan die Universiteit van Utrecht in Nederland ontvang vir 'n proefskrif oor die filosofie van biskop Berkeley. Hy was predikant in die NG gemeente op Montagu en NG gemeente Graaff-Reinet en het 'n toer onderneem na die sendingstasies in Rhodesië (hedendaagse Zimbabwe) en die Belgiese Kongo in 1913, waaroor hy 'n kort boek, Na Congoland, geskryf het. In die "Penguin Dictionary of South African Quotations" word hy as volg aangehaal: "Ek het gevalle waargeneem waarin die kinders van Afrikaner-families so nakend soos kaffers in Kongoland rondhardloop."
Redakteur
Malan was 'n vurige ondersteuners van Afrikaner-aspirasies en een van genl. James Barry Munnik Hertzog se vroegste ondersteuners. In 1915 is hy aangestel as redakteur van Die Burger, toe die koerant die eerste amptelike koerant van die Nasionale Party geword het. Hy is tot die parlement verkies en het gou bekend geraak om sy logiese en kragtige toesprake. Toe Hertzog die mag oorgeneem het in 1924 het hy minister van binnelandse sake geword.
Opposisieleier
In 1933 het Malan geweier om Hertzog te ondersteun in die samesmelting van die Nasionale Party met Smuts se Suid-Afrikaanse Party, en het daarna gou gehelp met die oprigting van sy eie Gesuiwerde Nasionale Party, wat van krag tot krag gegaan het tot dit in 1948, weliswaar met 'n minderheid van die populêre steun, die regering van Smuts tot 'n val gebring het.
Eerste Minister
Malan het die eerste minister en minister van buitelandse sake geword, in welke hoedanigheid hy Londen besoek en deelgeneem het aan die Statebondskonferensie.
In 1954 het hy uit die amp getree en sy laaste jare gewy aan die skryf van 'n verslag van sy werk in diens van die Afrikanerdom en van sy politieke idees. Hierdie boek staan bekend as Afrikaner-Volkseenheid.