Poskoets
'n Poskoets is 'n koets wat gebruik word om pos af te lewer. Pos is tipies in 'n veilige boks aan die agterkant gehou waar 'n gewapende poswerknemer die pos bewaak het. Passasiers kon ook teen 'n hoe-tarief aan boord geneem word.
Hierdie posverspreidingstelsel het in 1784 in Brittanje begin. In Ierland het dieselfde diens in 1789 begin, en in Australië het dit in 1828 begin. Vir effens langer as die 19de eeu was die poskar en die poskoets vir openbare vervoer in Suider-Afrika verantwoordelik.
Vroeë diens
[wysig | wysig bron]In 1801 het ‘n poskar een maal per week pos, goedere en passasiers van Kaapstad na Simonstad vervoer. Eers in 1838 is dit tot twee maal per week vermeerder. In 1849 is na Stellenbosch gery en kort daarna is ander dorpe bereik. Die reis na Wellington, Paarl en Somerset-Wes het elk 5 ure geduur en na Worcester 8 ure. Die reis van Kaapstad na George het 48 uur geneem en dag en nag is gery. Eers vanaf 1856 en kort daarna het poskarre en poskoetse Beaufort-Wes, Graaff-Reinet, Port Elizabeth en Grahamstad bereik.
Roetes en firmas
[wysig | wysig bron]Na die ontdekking van diamante en goud het die behoefte aan vervoer tussen die kus en die binneland skielik toegeneem. In 1870 het ene Arnhold van Ceres se Inland Transport Co. met ‘n tentwa van Wellington (die destydse spoorwegeindpunt) via Ceres na die diamantvelde gery. Soos die behoefte aan vervoer toegeneem het, het ander firmas ook hul dienste begin aanbied en het die vervoernetwerk uitgebrei. Na die Inland Transport Co. het die firmas Cobb & Co., Diamond Fields Transport Co., die Zeederbergs, die Gibson-familie se Red Star Line en andere begin. Koetse het begin ry tussen Kimberley, Bloemfontein en Durban, van Durban via Harrismith na Kimberley, van Kimberley na Potchefstroom, van Pretoria na Barberton, Pelgrimsrus, Lydenburg en van Pretoria via Pietersburg], Mafeking, die Tuli-blok na Masjonaland en Salisbury. Freeman Cobb het veral die roete vanaf Port Elizabeth via Bloemfontein bedien, die firma Walsh, Button & Marshall het Durban met die binneland verbind en die Zeederbergs het amper ‘n monopolie op die roete na Suid-Rhodesië gehad. Op die hoogtepunt van die bedryf het die poskoetspionier Alexander Gibson en sy familie se Red Star Line 450 personeellede gehad en ‘n stal met 2000 perde.
Koetse
[wysig | wysig bron]Dikwels is gebruik gemaak van Abbot-Downing se luukse koetse ingevoer van New Hampshire in die VSA. Destyds was hulle ‘n simbool van beskawing. Die soort koetse het leeg oor ‘n 1000 kg geweeg en was uitstekend geskik vir rowwe terrein. Die reis van Kaapstad na Kimberley het ‘n 7½ dag geduur . Gewoonlik kon 10 mense binne sit en so ‘n 8 buite op die dak. Elke passasier was geregtig om bagasie van so ‘n 20 kg saam te neem. Tien perde of muile het die koets getrek. Was die pad egter swak weens verspoelings of baie sand kon meer perde ingespan word. Die spoed was gewoonlik ‘n 10km per uur en na elke ±30km is vars perde ingespan. Dag en nag is gery.
Einde
[wysig | wysig bron]Teen die einde van die 19de eeu was daar ‘n skaarste aan perde weens perdesiektes en die Tweede Vryheidsoorlog. Meer muile is daarna gebruik. Die Zeederbergs het selfs sebras ingespan, maar die diere het nie oor genoeg stamina beskik vir die soort werk nie. Met die uitbreiding van die spoorwegnetwerk in Suider-Afrika moes die poskoetse daarby aanpas en het hulle langsamerhand oorbodig geraak. Aan die begin van die 20ste eeu het die poskoets uit die Suid-Afrikaanse platteland verdwyn.
Bekende persone
[wysig | wysig bron]Van die bekendste persone betrokke by die bedryf van poskoetse in Suider-Afrika was
- Freeman Cobb (*Brewster, Massachusetts, VSA, 10 Oktober 1830 - †Port Elizabeth, 24 Mei 1878)
- George Heys (*Durban - †Devon, Engeland, 23 September 1939)
- Christiaan Hendrik (Doel) Zeederberg (†Pretoria, 26 Oktober 1907)
- Roelof Abraham Zeederberg (*Pietermaritzburg, 1852 - †Johannesburg, 1944)
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Burman, Jose: To horse and away. Kaapstad: Human & Rousseau, 1993. ISBN 0-7981-3190-X
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 7. Kaapstad: Nasou, 1972. ISBN 0-625-00323-3