Gaan na inhoud

Ultraviolet

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Ultravioletlig)
Osoonvlakke by verskeie hoogtes en die blokkering van verskillende golflengtes van ultravioletstraling. Feitlik alle UVC word geblokkeer deur suurstof (100–200 nm) of osoon (200–280 nm) in die atmosfeer. Die osoonlaag blokkeer dan die meeste UVB. Osoon het egter byna geen invloed op UVA nie en die meeste daarvan bereik die aarde.

Ultraviolet (afgekort UV, ook genoem ultravioletstraling of ultravioletlig) is elektromagnetiese straling net buite die deel van die spektrum wat die menslike oog kan waarneem. Die golflengte van ultraviolet lê tussen 10 en 400 nm (nanometer), dus "verby violet", en dit is wat die woord "ultraviolet" beteken. In verband met die uitwerking van ultravioletlig op die mens en omgewing, word onderskei tussen UVA, UVB en UVC. Eersgenoemde het ’n golflengte van tussen sowat 315 en 400 nm (lang golwe). UVB se golflengte is tussen 280 en 315 nm en dié van UVC tussen 100 en 280 nm (kort golwe).[1] Straling met ’n golflengte tussen rofweg 10 en 100 nm word ekstreme ultraviolet (EUV) genoem.

Hoewel ultraviolet nie deur die mens gesien kan word nie, kan naby-ultraviolet wel deur sommige voëls en insekte waargeneem word. Die meeste mense is ook bewus van die uitwerking van UV op die vel, wat sonbrand genoem word. Benewens kortgolf-UV wat deur suurstof geblokkeer word, word ’n groot deel (meer as 97%) van middel-UV deur die osoonlaag geblokkeer. Albei sou groot skade aan lewende organismes aangerig het as dit deur die atmosfeer gedring het. Dit is slegs danksy die osoonlaag dat lewe op aarde moontlik is.

Ultravioletstraling is in 1801 deur Johann Wilhelm Ritter ontdek toe hy met silwerchloried gewerk het. Die straling laat silwerchloried vinnig van kleur verander.

Ultravioletstraling in die natuur

[wysig | wysig bron]

Naas die "gewone" sigbare lig straal die son ook ultraviolet uit. Ons is gevoelig vir die lig, maar die ooglens laat dit nie deur nie en beskerm daardeur die netvlies. Bye kan wel ultravioletstraling sien en neem daardeur baie blomme beter waar wat vir die mens onopvallend is.[2]

Uitwerking op die vel

[wysig | wysig bron]

Die intensiteit van die ultraviolet in sonstrale word uitgedruk in die UV-indeks, By ’n hoë UV-indeks is daar meer ultraviolet aanwesig as by ’n lae indeks. Met te veel UV-straling kan die vel rooi kleur of brand of selfs velkanker opdoen. UVB is in dié verband die nadeligste vir die mens. UVA hou dieselfde gevare in, maar in ’n mindere mate. Sonbrandolies bevat bestanddele wat bedoel is om veral UVB-strale te blokkeer; party beskerm die vel ook teen UVA.

Ultravioletstraling laat die liggaam ook vitamien D vervaardig, wat groot voordele vir die mens se gesondheid inhou,[3] maar daarvoor is 15 minute sonlig per dag voldoende.

Meting

[wysig | wysig bron]

Verskeie toestelle bestaan vir die meet van ultravioletstraling. Hoeveel UV die Aarde bereik, hang af van hoe hoog die son sit. In die somer en in die middel van die dag, wanneer die son hoër sit as andersins, is die UV veel sterker. Ook op ’n groter hoogte, soos in die berge, is die intensiteit hoër omdat daar minder lug is wat die straling blokkeer. Op water (soos ’n meer of see) is dit ook sterker weens weerkaatsing op die water. Ook wit sand of sneeu weerkaats die straling en daarom is UV hoër in sulke gebiede.

UV-straling hang ook af van die hoeveelheid wolke in die lug. Wolke keer nie net sigbare lig af nie, maar ook UV. Wolke weerkaats egter ook lig en daarom kan die hoeveelheid ultravioletstraling wat die aarde bereik wissel onder ’n half bewolkte hemel.

Osoonlaag

[wysig | wysig bron]

Die gas in die osoonlaag keer ultravioletstraling af en verminder dus die straling wat die aarde bereik. Die osoonlaag lê op ’n hoogte van tussen sowat 15 en 30 km. Skade aan die osoonlaag weens besoedeling bedreig dus die lewe op aarde. Die osoonlaag het ook seisoene: in die lente is dit op sy dikste en in die herfs op sy dunste. Die weer het ook ’n invloed daarop: in die algemeen is die osoonlaag effens dunner in die omgewing van ’n hoogdrukgebied as by ’n laagdrukgebied.

Gebruike

[wysig | wysig bron]
’n Lig waarmee insekte gelok word.

Vanweë ultraviolet se vermoë om chemiese reaksie te veroorsaak en fluoressensie in materiale op te wek, word dit op baie manier tot voordeel van die mens ingespan. Hier is ’n paar van die gebruike by spesifieke golflengtes van die UV-spektrum.

  • 13,5 nm: Ekstreme-ultraviolet-litografie
  • 30–200 nm: Foto-ionisasie, ultraviolet-spektroskopie
  • 230–365 nm: UV-ID, staafkodes
  • 230–400 nm: Optiese sensors, verskeie instrumente
  • 240–280 nm: Ontsmetting
  • 200–400 nm: Forensiese ontleding, dwelmopsporing
  • 270–360 nm: Proteïenontleding, dwelmopsporing
  • 280–400 nm: Mediese fotografie van selle
  • 300–320 nm: Ligterapie in medies
  • 300–400 nm: Beligting (SSL)
  • 350–370 nm: Insekbeheertoestelle (vlieë word die meeste aangetrek deur lig by 365 nm)[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "ISO 21348 Definitions of Solar Irradiance Spectral Categories" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 29 Oktober 2013. Besoek op 8 September 2013.
  2. Database shows how bees see world in UV, BBC News, 13 Desember 2010
  3. "Oregon State University" (in Engels). Lpi.oregonstate.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2015. Besoek op 8 November 2011.
  4. "Ultraviolet Light, UV Rays, What is Ultraviolet, UV Light Bulbs, Fly Trap" (in Engels). Pestproducts.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 April 2020. Besoek op 8 November 2011.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]