Konstanz
Konstanz (plaaslik [ˈkɔnʃtants], Standaardduits [ˈkɔnstants], Frans en somtyds in Engels: Constance) is die grootste stad aan die Bodenmeer en die administratiewe sentrum van die gelyknamige distrik in die Duitse deelstaat Baden-Württemberg. Die geskiedenis van die stad strek terug tot in die Romeinse tydperk. Net suid van Konstanz lê sy Switserse tweelingstad Kreuzlingen.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Baden-Württemberg |
Koördinate | 47°40′N 9°11′O / 47.667°N 9.183°O |
Stigting | Omstreeks 300 n.C. |
Stadstatus | 1192 Vrye Ryksstad |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 55,65 vk km |
Hoogte bo seevlak | 405 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2012) | 79 645 |
- Bevolkingsdigtheid | 1 431/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 8,9 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | -0,2 / 18,5 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 850,5 mm |
Burgemeester | Ulrich Burchardt (CDU) |
Amptelike Webwerf | www.konstanz.de Geargiveer 7 September 2014 op Wayback Machine |
Konstanz, wat aan die suidoewer van die Bodenmeer geleë is, het sy oorsprong in 'n Romeinse fort, Constanta, wat omstreeks 260 n.C. ontstaan het. Die stad was vanaf die 6de eeu tot en met 1821 die setel van 'n Rooms-Katolieke biskop. In 1192 het Konstanz die status van Vrye Ryksstad in die Heilige Romeinse Ryk gekry. Tussen 1414 en 1418 is die Konsilie van Konstanz hier gehou.
Baie van die geboue in Konstanz se Middeleeuse stadskern het tot vandag toe bewaar gebly, waaronder die Domkerk van Konstanz in die Romaans-Gotiese styl wat tussen die 10de en 17de eeu ontstaan het.
Inligtingstegnologie, farmaseutiese nywerhede, masjienbou en toerisme vorm die ekonomiese basis van die stad. Konstanz beskik daarnaas oor twee tersiêre onderwysinstellings, die Universiteit van Konstanz (gestig in 1966) en die Technikon Konstanz vir Tegniek, Ekonomie en Ontwerp (Duits: Hochschule Konstanz Technik, Wirtschaft und Gestaltung), asook 'n aantal musea. 'n Wetenskaplike instituut, die Bodenseeforschungsinstitut, doen navorsing oor die Bodenmeer.