Wilhelm Bleek
Wilhelm Bleek | |
---|---|
Gebore | Wilhelm Heinrich Immanuel Bleek 8 Maart 1827 |
Sterf | 17 Augustus 1875 (op 48) |
Nasionaliteit | Duits |
Beroep | Linguis |
Bekend vir | Bleek-en-Lloyd-argief |
Wilhelm Heinrich Immanuel Bleek (8 Maart 1827 - 17 Augustus 1875) was ’n Duitse linguis wat navorsing oor onder meer Afrikatale gedoen het. Sy werk sluit in ’n Vergelykende Grammatika van Suid-Afrikaanse tale en sy groot projek wat hy saam met Lucy Lloyd aangepak het: die Bleek-en-Lloyd-argief van ǀXam- en !Kun-tekste. ’n Kort weergawe hiervan is eindelik gepubliseer met Specimens of Bushman Folklore, waarop Laurens van der Post baie staatgemaak het.
Biografie
[wysig | wysig bron]Wilhelm Heinrich Immanuel Bleek is op 8 Maart 1827 in Berlyn gebore. Hy het in 1851 sy doktorsgraad in linguistiek aan die Universiteit van Bonn behaal, ná ’n tyd in Berlyn waar hy Hebreeus studeer en ’n belangstelling in Afrikatale ontwikkel het. Bleek se tesis was ’n poging om die tale van Noord-Afrika en die Khoisan-tale met mekaar te verbind – in dié tyd is geglo daar is ’n verband tussen alle Afrikatale. Sy belangstelling in Afrikatale is tussen 1852 en 1853 verder aangewakker toe hy Egiptiese Arabies geleer het.
Bleek het die Anglikaanse biskop van Natal in 1855 ontmoet en dié het hom aangemoedig om by hom in Natal aan te sluit om ’n Zoeloe-grammatikaboek saam te stel. Ná dié projek het Bleek in 1856 na Kaapstad gereis om sir George Grey, die goewerneur van die Kaapkolonie, se amptelike tolk te word en sy privaat biblioteek te katalogiseer. Bleek het hier ’n aansienlike reputasie as filoloog opgebou.
In 1859 is Bleek om gesondheidsredes vir ’n kort ruk terug na Duitsland, maar het daarna na Kaapstad teruggekeer. In 1861 het hy sy toekomstige vrou, Jemima Lloyd, ontmoet en hulle is op 22 November 1862 getroud. Jemima se suster, Lucy Lloyd, het by die huishouding aangesluit en sy kollega geword. Sy het sy werk ná sy dood voortgesit.
Toe Grey as goewerneur van Nieu-Seeland aangestel word, het hy sy hele versameling aan die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika geskenk, op voorwaarde dat Bleek die kurator daarvan is. Bleek het dié posisie van 1862 tot met sy dood in 1875 beklee. Intussen het hy ook gereeld vir Het Volksblad geskryf en die eerste deel van sy Vergelykende Grammatika in 1862 in Londen gepubliseer. Die tweede deel het in 1869 verskyn.
Die San
[wysig | wysig bron]Bleek se eerste kontak met die San was in 1857 met gevangenes van Robbeneiland en die Kaapse Tronk en Verbeteringshuis. Hy het onderhoude met ’n paar van hulle gevoer en die inligting later in publikasies gebruik. Dié mense het van die Burgersdorp- en Colesbergomgewing gekom en variasies van eendersklinkende "Boesmantale" gepraat.
In 1863 het die plaaslike magistraat Louis Anthing die eerste ǀXam-sprekers aan Bleek bekend gestel. Hy het drie mans van die Kenhardt-distrik na Kaapstad gebring om verhoor te word vir aanvalle op boere (wat eindelik laat vaar is). In 1866 is twee San-gevangenes van die Agterveld naby Calvinia van die Breekwatertronk na die Kaapstadse Tronk oorgeplaas en dit was dus vir Bleek makliker om hulle te ontmoet. Met hulle hulp het hy ’n lys woorde en sinne en ’n alfabetiese woordeskat saamgestel. Die meeste woorde en sinne is deur Adam Kleinhardt verskaf (sien Bleek I-1, UCT A1.4.1).
In 1870 het Bleek en sy skoonsuster, Lloyd, wat nou saamgewerk het om die "Boesmantaal" te leer en persoonlike vertellings en folklore neer te skryf, bewus geword van die teenwoordigheid van ’n groep van 28 ǀXam-gevangenes in die Breekwatertronk en toestemming gekry om een na Mowbray te verskuif om sy taal te leer. ’n Jong man met die naam ǀAǃkúṅta is gekies. Dié was as gevolg van sy jeugdigheid egter onkundig oor sy mense se folklore en ’n ouer man met die naam ǁKábbo is toegelaat om hom te vergesel. ǁKábbo het Bleek en Lloyd se eerste werklike "onderwyser" geword. Mettertyd het ander lede van ǁKábbo se familie en ander families by Bleek en Lloyd in Mowbray gebly. Bleek en Lloyd het hulle taal geleer en neergeskryf, eers as lyste woorde en frases en later as stories oor hulle lewe, geskiedenis, folklore en gebruike.
Bleek en Lloyd het probeer om soveel moontlik antropologiese en etnografiese inligting te versamel. Dit het geslagsregisters, plekke van oorsprong, en die gebruike en daaglikse lewe van die inligtingsverskaffers ingesluit. Foto's en afmetings is ook geneem in ooreenstemming met die wetenskaplike norme van dié tyd. Intiemer en geskilderde portrette is ook gedoen.
Hoewel Bleek en Lloyd (alleen ná Bleek se dood) onderhoude met ander individue gevoer het, het hulle hulle aandag op ses |Xam-bydraers toegespits.
Dood
[wysig | wysig bron]Bleek is op 17 Augustus 1875 op 48-jarige ouderdom in Mowbray oorlede en is in Wynberg begrawe saam met sy twee jong kinders wat voor hom dood is. Sy belangrike werk om |Xam se grammatika en letterkunde te boekstaaf is daarna deur Lucy Lloyd voortgesit en uitgebrei, met die steun van haar suster en Bleek se weduwee, Jemima.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- Bleek, Wilhelm (1858–1863). Handbook of African, Australian and Polynesian Philology. Vol. In 3 volumes. London: Trübner & Co.
{{cite book}}
: Ongeldige|ref=harv
(hulp) - A Comparative Grammar of South African Languages. Vol. Deel I. Londen: Trübner & Co. 1862. Deel II in 1869 gepubliseer.
- Wilhelm Heinrich Immanuel, Bleek (1864). Reynard the Fox in South Africa: Or, Hottentot Fables and Tales. Londen: Trübner and Company.
{{cite book}}
: Ongeldige|ref=harv
(hulp) - Über den Ursprung der Sprache. (heruitgawe met ’n voorwoord deur dr. Ernst Haeckel.) Weimar, H. Böhlau (1868)
- Specimens of Bushman Folklore. (deur Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd) Londen, G. Allen (1911)
- Otto H. Spohr: Wilhelm Heinrich Immanuel Bleek, a bio-bibliographical sketch. Kaapstad, University of Cape Town Libraries (1962)
- Walter Köppe: Philologie im südlichen Afrika: Wilhelm Heinrich Immanuel Bleek (1827–1875). Zeitschrift für Germanistik, Neue Folge 3 (1998)
- Konrad Körner: Linguistics and evolution theory. (Drie essays deur August Schleicher, Ernst Haeckel en Wilhelm Bleek) Amsterdam-Philadelphia, John Benjamins Publishing Company (1983)
- Deacon, J and Dowson, T. (eds) 1996. Voices from the Past. Johannesburg: Wits University Press
- Skotnes, Pippa (1996). Miscast: Negotiating the Presence of the Bushmen. University of Cape Town Press. ISBN 978-0-7992-1652-3.
{{cite book}}
: Ongeldige|ref=harv
(hulp) - Lewis-Williams, J. David (2000). Stories that Float from Afar: Ancestral Folklore of the San of Southern Africa. New Africa Books. ISBN 978-0-86486-462-8.
{{cite book}}
: Ongeldige|ref=harv
(hulp)
Skakels
[wysig | wysig bron]- Bleek-en-Lloyd-argief aanlyn
- "Memory of the World – The Bleek Collection"
- "South Africa's greatest storyteller" Geargiveer 26 Februarie 2020 op Wayback Machine
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.