Gaan na inhoud

Atlas Shrugged

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Atlas Shrugged
SkrywerAyn Rand
LandVlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
TaalEngels
GenreFilosofiese fiksie
Wetenskapsfiksie
geheimsinnige fiksie
roman
utopie
UitgewerRandom House
Uitgegee1957
Bladsye1168 (eerste uitgawe)

Atlas Shrugged is 'n boek geskryf deur Ayn Rand en is vir die eerste keer in 1957 in die V.S.A gepubliseer. Die boek was haar laaste en ook langste novelle en word allerweë as haar magnum opus beskou.[1] Atlas Shrugged sluit elemente van misterie en wetenskapsfiksie in [2] en dit bevat die mees omvangryke beskrywing van haar filosofie van Objektivisme.

Die boek handel oor 'n fiktiewe distopiese Verenigde State waar 'n groep van die samelewing se mees produktiewe burgers wat uit protes teen uitbuiting en toenemende belastings uit die samelewing verdwyn. Hulle word gelei deur John Galt. Galt beskryf die doelwit van die staking as om die "motor van die wêreld" tot stilstand te bring deur die breinkrag te onttrek wat die samelewing se groei en produktiwiteit aandryf. Hierdie mense, "van verstand" hoop om die wêreld te wys dat 'n beskawing waar die indiwidu nie vry is om te skep nie gedoem is en dat 'n samelewing waar elke mens 'n slaaf van die regering en die samelewing is, nie kan bestaan nie en dat die vernietiging van die winsmotief die ineenstorting van 'n beskawing tot gevolg het.

In die verhaal sien die hoofkarakter, Dagny Taggart, hoe die samelewing rondom haar ineenstort soos die regering meer en meer beheer oor besighede en nywerhede uitoefen.

Die boek se titel is 'n verwysing na Atlas, 'n Titaan uit Griekse mitologie, wat in die verhaal beskryf word as 'n "reus wat die wêreld op sy skouers dra".[3] Die betekenis van die verwysing word duidelik in 'n gesprek tussen twee karakters in die boek, naamlik Francisco d'Anconia en Hank Rearden, waarin d'Anconia Rearden vra watter advies hy Atlas sou gee as hy sou waarneem dat hoe harder hy probeer om die wêreld op te hou, hoe swaarder die las word. Rearden kon nie 'n antwoord verskaf nie en d'Anconia gee hom sy eie antwoord: dit is dat hy moet afskud (oftewel shrug in Engels).

Die tema van Atlas Shrugged, soos Rand dit beskryf, is "die rol van die mens se verstand in sy bestaan". Die boek ondersoek 'n aantal filosofiese temas wat Rand uiteindelik verder ontwikkel het tot die filisofie van Objektivisme.[4][5] Die boek maak voorspraak vir die kernbeginsels van Rand se filosofie van Objektivisme en beskryf haar begrip van menslike prestasie. Die boek raak aan vele fasette van Rand se filosifie soos die steun vir rede, indiwidualisme, kapitalisme en die mislukking van regeringsdwang.

Atlas Shrugged het baie negatiewe reaksie ontlok na die publikasie daarvan in 1957, maar het sedertdien baie gewildheid geniet met goeie verkope in die dekades daarna.

Konteks

[wysig | wysig bron]

Rand het na Atlas Shrugged verwys as 'n roman, "nie oor die moord van 'n mens se liggaam nie, maar oor die moord – en hergeboorte – van 'n mens se siel".[6] Haar gestelde doelwit vir die skryf van die boek was om "te wys hoe desperaat die wêreld voortrekkers benodig en hoe wreed die wêreld hulle behandel en ook om te beskryf hoe die wêreld sonder sulke mense sou lyk.[6]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Rand, Ayn. Journals of Ayn Rand, geredigeer deur David Harriman. (1997) Dutton. ISBN 0-525-94370-6 bl. 704 Harriman haal Rand aan uit 'n onderhoud in 1961 waarin Rand sê, "Atlas Shrugged was die hoogtepunt en voltooiing van die doel wat ek aan my self op die ouderdom van nege gestel het. Dit is 'n uitdrukking van alles wat ek in die skryf van fiksie wou sien."
  2. Gladstein, Mimi (1999). The New Ayn Rand Companion. Westport: Greenwood Press. p. 42. ISBN 0-313-30321-5.
  3. Soos opgeteken staan in Hesiod se Teogonie hou Atlas die hemel omhoog as straf vir sy oorlogvoering teen Zeus.
  4. Michael Shermer. The Mind of the Market. (2008). Times Books. ISBN 0-8050-7832-0, bl. XX
  5. "Scandals lead execs to 'Atlas Shrugged'" USA Today, 23 September 2002
  6. 6,0 6,1 Ayn Rand's Literature of Capitalism deur Harriet Rubin, The New York Times, 15 September, 2007