Biljart
Biljart is 'n binnenshuise spel wat twee spelers om 'n biljarttafel met drie balle en met 'n biljartstok elk speel. Dit is reeds teen die middel van die 16e eeu in Brittanje en Frankryk gespeel, en hoewel die Franse tans nie onder die groot meesters van biljart tel nie, het hulle hul stempel op die spel gelaat. Die meeste terme is nog Frans. Biljart verskil wesenlik van snoeker, 'n soortgelyke spel wat beter bekend is in Suid-Afrika. Snoeker word met meer balle gespeel op 'n tafel met 6 net-vangsakkies om die rand.
Die spil waarom biljart draai, is die maak van raakskote, naamlik karambole. Drie balle, 'n rooie, 'n witte en 'n witte met een swart kolletjie, word op die tafel geplaas, Die balle, van ivoor of kunsstof, is tussen 61 mm en 61,5 mm in deursnee en weeg tussen 210 g en 220 g. Die grootte van die tafel kan wissel, maar die breedte moet altyd die helfte van die lengte wees. Die tafel het 'n rubberband om sy binnewand. Om 'n karambool aan te teken, moet een van die wit balle (die speelbal) só met die biljartstok gestoot word dat dit aan albei ander balle raak terwyl dit rol. 'n Geldige karambool tel een punt en die speler kan aanhou speel tot hy 'n karambool gemis het. Daarna is dit die ander speler se beurt.
Om wedstryde tussen topspelers vir toeskouers aantreklik te maak, is spesiale spelvorms uitgedink, byvoorbeeld die libre. Hierby mag onbeperk gekaramboleer word, behalwe in sekere beperkte sones. By bandstote is 'n karambool net geldig as die speelbal minstens een keer die rubberband tref voor hy die derde bal raak. In die geval van driebandstote moet die speelbal die rubberband minstens drie keer raak nadat die tweede bal getref is en voordat die derde bal getref word. Vir kaderspelle word die speelvlak in ses of nege vakke verdeel. Binne die vakke mag slegs een raakskoot gemaak word sonder dat die balle die vakke verlaat. Kaderspelle kan nog ingewikkelder gemaak word deurdat ankerlyne aangebring word. Die reëls vir kadervakke geld ook vir ankers. 'n Skeidsregter en 'n tellinghouer is die enigste amptenare by wedstryde.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Wêreldspektrum, Vol. 3, 65, ISBN 0 908409 44 3