Brokaat
Brokaat is 'n tekstielstof wat besonder dekoratief en ryklik versierd is, en volgens die skietspoeltegniek geweef word. Dit word dikwels van gekleurde sy, met of sonder goue en silwer drade geweef. [1] Die naam is van Italiaanse broccato wat "reliëfbedrukte lap" beteken, afkomstig. [2]
Brokaat word tipies op 'n weefstoestel wat getrek word, geweef. Dit is 'n aanvullende inslagtegniek; dit wil sê, die ornamentele brokaat word vervaardig deur aanvullende, nie-strukturele inslagdrade, benewens die standaard inslagdrade wat die skeringdrade bymekaar hou. Die doel hiervan is om dit te laat lyk asof die weefwerk bo-op die materiaal geborduur is.
In Guatemala is brokaat die gewildste tegniek wat gebruik word om materiaal wat deur Maja-wewers op handweefgetoue geweef word, te versier.
Die ornamentele eienskappe van brokaat word beklemtoon, en as toevoegings tot die hoofstof aangebring, wat dit soms styf maak, hoewel dit meer dikwels 'n effek van lae reliëf op die oppervlak tot gevolg het. By sommige, maar nie almal nie, het hierdie toevoegings 'n eiesoortige voorkoms aan die agterkant van die materiaal, waar die aanvullende inslagdrade of drywende drade van die brokaat, of gedeeltes van die materiaal wat so versier is, in los groepies hang of weggeknip kan word. [1] As die inslagdrade aaneenlopend is aan die agterkant van die brokaat, staan dit bekend as 'n deurlopende brokaat; die aanvullende inslagdrade strek van die een selfkant tot die volgende selfkant. Die drade word wel by snywerk en broché weggesny. By nie-aaneenlopende brokaat word die aanvullende drade net by die gedeeltes wat patrone het, ingeweef.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]China
[wysig | wysig bron]Die vervaardiging van brokaat het in China tydens die Tydperk van die Strydende State begin. Baie brokaatstowwe is in grafkelders van die tydperk gevind.
Bisantium
[wysig | wysig bron]Brokaatstof, wat uit die Middeleeue dateer, was een van die min luukse tekstielstowwe wat deur adellikes regdeur China, Indië, Persië, Griekeland, Japan, Korea en Bisantium gedra is. Brokaat, wat deur die Bisantyne geweef is, was 'n besonder gesogte tekstielstof. Van die vierde tot die sesde eeu het die produksie van sybrokaat skynbaar selde plaasgevind, met linne en wol wat oorheersend gebruik is om brokaat te weef. Gedurende hierdie periode was daar geen algemene kennis van die produksie van systowwe nie, met die uitsondering van die Chinese wat die kennis streng bewaar het. Mettertyd het kennis van syproduksie onder ander kulture bekend geword en weswaarts versprei. Namate syproduksie onder Westerse kulture bekend geword het, het die handel uit die Ooste begin afneem. Bisantynse geskiedkundiges het vasgestel dat 'n paar monnike in die 6de eeu die geheim van die sybedryf na die Bisantynse keiser gebring het. As gevolg hiervan het Westerse kulture geleer hoe om sywurms te teel, groot te maak en te voer. Vanaf hierdie tydperk, tot die negentiende eeu, het Bisantium met betrekking tot die vervaardiging van alle soorte symotiewe, insluitend brokaat, damas, brokatelles en tapisserieagtige materiale, die grootste en mees sentrale produsent in die Westerse wêreld geword.
Tydens die vroeë Middeleeue kon slegs die rykste mense brokaatstowwe bekostig, omdat die Bisantynse keiser buitengewone pryse vir die tekstielstof gevra het. Die ontwerpe wat in brokaatstowwe geweef is, was dikwels van Persiese oorsprong. Dit was ook algemeen om Christelike onderwerpe in die komplekse weefpatrone van die stof uitgebeeld te sien. Wanneer hierdie luukse materiale vir kledingstukke of muurbehangsels gebruik is, is dit soms met edelgesteentes en halfedelgesteenstes, klein emalje medaljons, borduurwerk en appliekwerk versier.
Die laat Middeleeue
[wysig | wysig bron]Tydens die laat Middeleeue is die lewe van 'n adellike deur vermaak gekenmerk: ry en jag, musiek en dans, en feesmale. Al hierdie aktiwiteite het 'n geleentheid vir die vertoon van mode geword. Welgestelde edelmanne en edelvroue het sybrokaat, afkomstig van Italië, en Duitse fluweel wat met pels versier is, gedra. Gedurende die 14de en 15de eeu het die hof van Boergondië bekendheid verwerf vir hulle modieuse smaak en luukse kleredrag.
Renaissance Italië
[wysig | wysig bron]Gedurende die Renaissance, veral tydens die Italiaanse Renaissance, was brokaat ook 'n belangrike materiaal. Hoewel wol en sy die primêre materiale was wat deur die Europeërs tydens die Renaissance gebruik is, en ondanks die gebrek aan dokumentêre bewyse daarvoor, word daar beweer dat, weens die toename in die kompleksiteit van die ornamentasie van Italiaanse weefstowwe van die 15de eeu, daar waarskynlik in hierdie tydperk verbeteringe in die syweefgetoue plaasgevind het. Die kompleksiteit en hoë gehalte van luukse systowwe het tot gevolg gehad dat Italië die belangrikste en beste vervaardiger van die mooiste systowwe in die hele Europa geword het. Die byna skulpturele lyne van modes gedurende die Renaissance het perfek gepas by die voortreflike skoonheid en elegansie van brokaat, damas en ander buitegewone systowwe.
Die oorsprong van brokaatmotiewe het Chinees, Indies en Persies gebly, wat 'n weerspieëling van die handel tussen die Verre Ooste en Italië was. Daar word beweer dat sommige Renaissance-skilders tekstielstowwe ontwerp en geskets het vir die vervaardiging van materiale, en dit dan ook in hulle skilderye geïnkorporeer het.
Moderne gebruike
[wysig | wysig bron]Deesdae word brokaatstowwe meestal vir stoffering en gordyne gebruik. Dit word egter ook vir aand- en formele klere, ampsgewade en kostuums gebruik. Die gebruik van edelgesteentes en halfedelgesteentes vir die versiering van brokaat word nie meer algemeen gebruik nie; blinkers en kralewerk word wel as versiering gebruik. Brokaatstowwe word nou grotendeels op 'n Jacquard-weefgetou geweef, wat met die Jacquard-tegniek baie komplekse tapisserieagtige ontwerpe kan skep. Alhoewel baie brokaatstowwe soos tapisserieë lyk en deur sommige mode-promosies as sodanig geadverteer word, moet dit nie met werklike tapisserieë verwar word nie. Tekstielstowwe soos brokaat, brokatelle, damas en tapisserieagtige stowwe staan bekend as jacquardontwerpe.
Galery
[wysig | wysig bron]-
Sybrokaat (detail), seuns wat op bokke ry. Ming-dinastie, 15de/16de eeu.
-
Persiese sybrokaat. Brokaatwewer: Seyyed Hossein Mozhgani, 1974, Ministerie van kultuur en kuns, Iran.
-
Tradisionele Hajong-brokaat.
-
Isabelle De Strange, brokaatrok, c. 1938, NGA 13643
Sien ook
[wysig | wysig bron]- Borduurwerk
- Banarasi sari
- Meera Mehta
- Songket
- Zari
Bronne
[wysig | wysig bron]- Chisholm, Hugh, red. (1911). "Brocade". Encylopaedia Britannica. 4 (11th ed.). Cambridge University Press. pp. 620-622.
- Brocade: EtymologyOnline
- Ye, Lang; Fei, Zhengang; Wang, Tianyou, red. (2007). China: Five Thousand Years of History and Civilization. Hong Kong: City University of Hong Kong Press. p. 410. ISBN 978-962-937-140-1.
- Sullivan, Michael (1999). The Arts of China (4th ed.). Berkeley: University of California Press. ISBN 0-520-21876-0.
- Tortora, Phyllis G. (2009). Survey of Historic Costume. New York: Fairchild Books. p. 110.
- Tortora, Phyllis G. (2009). Survey of Historic Dress. New York: Fairchild Books. pp. 147-148.
- Tortora, Phyllis G. (2009). Survey of Historic Dress. New York: Fairchild Books. pp. 183-184
- Collier, Billie J. (2009). Understanding Textiles. Upper Saddle River, N.J.: Pearson Prentice Hall. p.303.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 Brocade, volume 4, p. 620-622
- ↑ brocade: EtymologyOnline
Verdere leeswerk
[wysig | wysig bron]- Brocade paper (fragment), originally belonging to a sample book of J.M. Munck, Augsburg 1751 treasure 5 National Library of the Netherlands
- Marypaul Yates. Fabrics A Guide for Interior Designers and Architects. WW Norton & Co.
- Ventura, Carol. Maya Hair Sashes Backstrap Woven in Jacaltenango, Guatemala, Cintas Mayas tejidas con el telar de cintura en Jacaltenango, Guatemala, 2003. ISBN 0-9721253-1-0 ISBN 0-9721253-1-0 .
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Brokaat.