Feldberg (Swartwoud)
Feldberg | |
---|---|
Ligging | Swartwoud (Duitsland) |
Hoogte | 1 493 meter bo seevlak |
Reeks | Swartwoud |
Koördinate | 47°52′25″N 08°00′14″O / 47.87361°N 8.00389°O |
Die Feldberg is op 1 493 meter bo seevlak die hoogste bergspits van die Swartwoud, 'n bergreeks en streek in die suidweste van die Duitse deelstaat Baden-Württemberg. Dit is ook die hoogste Duitse berg buite die Alpe en die naamgewer vir die nabygeleë dorp Feldberg.
Ligging en panorama
[wysig | wysig bron]Die Feldberg rys suidoos van Freiburg im Breisgau. Die mees nabygeleë dorpe is Hinterzarten (in die noordooste), Titisee (in die ooste), Menzenschwand en Bernau im Schwarzwald (in die suide) en Todtnau (in die suidweste).
Vanuit die hoofpiek strek 'n berghelling wat in suidoostelike rigting eers saggies afdaal en dan weer rys om die kleiner bergspits Seebuck te vorm wat eweneens deel uitmaak van die Feldberg. Die Baldenweger Buck (1 460 meter bo seevlak) is 'n vertakking van hierdie berghelling.
Vanuit die Seebuck daal die Feldberg in noordoostelike rigting steil af tot by die Feldmeer (Duits: Feldsee). Diep ingekeepte valleie strek ook in noordwestelike rigting (die Zastler- en Sint Wilhelmer-valleie) en in suidwestelike rigting (Wiesenvallei).
Die Feldberg kan per motor oor die federale roete (Bundesstaße) B 317 bereik word wat vanuit Titisee oor die Feldbergpas tot by Lörrach en Basel (Switserland) loop. 'n Spoorlyn loop tot by die stasie in Feldberg-Bärental, die hoogste van alle normaalspoorstasies wat deur die nasionale Duitse spoorweë Deutsche Bahn AG beheer word (967 meter bo seevlak). Van hier word besoekers met 'n bus na die bergspits geneem.
Die grootste deel van die Feldberggebied geniet vanweë sy Subalpynse flora die status van 'n natuurbewaringsgebied. Dit is die oudste dergelike gebied in die deelstaat Baden-Württemberg en word sedert 1989 deur 'n voltydse veldwagter, die sogenaamde Feldberg-Ranger, beheer.
Die Feldberg pronk met een van die omvattendste panoramas in Duitsland, veral in die winter gedurende 'n inversielaag. Die uitsig strek in die weste tot by anderkant die Borynvallei en oor die Franse Vogese-bergreeks vanuit die bergspits Ballon d'Alsace (Duits: Elsässer Belchen) tot by die Donon en Odiliaberg (Frans: Mont Sainte-Odile). In die agtergrond word soms die Vosges du Nord (Duits: Südlicher Pfälzerwald) sigbaar. In die noorde kan 'n mens die bergspits Hornisgrinde en in die noordooste die hele Swabiese Alb-bergreeks met die Lemberg en – regs daarvan – die Hegau-vulkane raaksien.
In die suide strek die Alpe vanuit die Alpspitze en Zugspitze in die ooste oor die Allgäuse Alpe, die Lechbron-gebergte, die Verwall-berggroep en Silvretta; verder in die Wes-Alpe die Alpstein met die bergspits Säntis, die berge rondom die Walenmeer, die Glarus-Alpe met die bergspitse Ringelspitz, Glärnisch en Tödi, die Piz Gannaretsch, die Uri-Alpe, Bernse Alpe, Grand Combin en Mont Blanc tot by die Vooralpe van Fribourg in die suidweste. Vanuit die Wes-Alpe en regs van die Mont Blanc loop die Switserse Jura met sy hoogste punt, die Chasseral.