Gaan na inhoud

Flekkefjord

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Flekkefjord

Kaart van Vest-Agder Wapen
Ligging in Vest-Agder
 Land Vlag van Noorweë Noorweë
 Provinsie (Fylke) Vest-Agder
 Koördinate 58°19′N 06°40′O / 58.317°N 6.667°O / 58.317; 6.667
 Stigting Voor 1580
 Oppervlakte:  
 - Totaal 551 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2015) 9 069[1]
 - Bevolkingsdigtheid 16,4/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 Burgemeester Jan Sigbjørnsen (Høyre)
 Amptelike webwerf flekkefjord.kommune.no

Flekkefjord is die mees westelike stad en munisipaliteit (Noors: kommune) in die Sørland-streek aan die suidweskus van Noorweë. Flekkefjord lê in die provinsie (fylke) Vest-Agder en grens in die weste aan die munisipaliteite Sokndal en Lund (provinsie Rogaland), in die noorde aan Sirdal en in die ooste aan Kvinesdal.

Flekkefjord het op 1 Januarie 1838 'n munisipaliteit geword en op 1 Januarie 1965 met die landelike munisipaliteite Bakke, Gyland, Hidra en Nes saamgesmelt. Die stad het reeds in die 17de eeu 'n belangrike ekonomiese rol as uitvoerhawe vir Noorse hout gespeel. As gevolg van die houthandel met die Nederlanders het talle Flekkefjorders hulle tydelik of permanent in Nederland gevestig.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die eerste setlaars het hulle reeds in die Wiking-tydperk in die gebied gevestig, en dit het eeue lank as 'n belangrike landingsplek gedien. Die eerste historiese verwysing na die huidige dorp dateer uit die jaar 1580. In 1589 het koning James I van Skotland in Flekkefjord voet aan wal gesit en vervolgens na Oslo getrek waar hy met die dogter van die Deense koning Frederik II, Anne van Denemarke, getrou het.

Toe die stad Kristiansand in 1641 deur koning Christiaan IV gestig is, was hy van plan om die bevolking van Flekkefjord na die nuwe nedersetting te verskuif, maar baie van die bewoners het hier aangebly en voortgegaan om handel te dryf. Flekkefjord se vroeë ekonomiese opswaai het egter eers met sy voorregte ten opsigte van die houthandel in 1660 begin. Noorse stene was eweneens gewild, en in 1736 het volgens oorlewering meer as 300 Nederlandse skepe Noorse plaveiselstene na Nederland vervoer.

Die handel met Wes-Europa het vir talle bewoners die aanleiding gegee om hulle in Nederland te vestig. Sommige van die emigrante het later na Flekkefjord teruggekeer en die Hollandse leefstyl, meubels en name saamgebring, net soos die destydse Nederlandse standaarde ten opsigte van higiëne en sindelikheid deur meisies ingevoer is wat vooraf in Nederland as huisbediendes werksaam was.

Die ontginning van die ryk haringsbronne langs die kus het omtrent 1750 tot 'n nuwe bloeitydperk gelei wat van Flekkefjord in die volgende dekade die belangrikste uitvoerhawe vir haring in die land gemaak het. As gevolg van die opswaai in die visserybedryf het ook 'n aantal kuiperye in die dorp ontstaan.

'n Gewapende Deense sloep tydens die Deens-Britse Kanonneerbootoorlog

Tydens die Napoleontiese Oorloë het Flekkefjord danksy die gunstige invloed van die plaaslike getye, die groot houtbronne van die omgewing en sy tradisionele handelsbande met die Nederlanders tot 'n smokkelaarshawe ontwikkel wat in die tydperk voor 1807 eikehout, wat destyds onder meer vir die bou van oorlogskepe benodig is, na die Frans-besette Nederland uitgevoer het.

Tot 1807 het die koninkryk Denemarke-Noorweë 'n beleid van gewapende neutraliteit gevolg en sy vloot net gebruik om handelskepe in Deense en Noorse waters te beskerm. Maar in die laaste fase van die Napoleontiese Oorloë het die Britte tydens die Slag van Kopenhagen in 1807 beslag op gelê groot dele van die Deense vloot om 'n soortgelyke Franse stap te voorkom. Die Deense regering het vervolgens oorlog teen Groot-Brittanje verklaar en 'n groot hoeveelheid klein oorlogskepe laat bou vir 'n aanval op die Britse vloot.

Die seekonflik tussen Denemark-Noorweë en Brittanje in die periode tussen 1807 en 1814 staan as die Kanonnerbootoorlog bekend. Flekkefjord het tydens die seeoorlog van 'n smokkelaarsdorp na 'n hawe van blokkadebrekers ontwikkel. Danksy die ongewone getye was skepe hier in staat om 24 uur per dag aan te doen.

Ná die oorlog het die Nederlanders hul nou handelsbande met Flekkefjord steeds gehandhaaf en voortgegaan met die invoer van Noorse eike- en dennehout. Die laasgenoemde is veral vanweë die opswaai in Amsterdam se boubedryf benodig, en baie van die Nederlandse hoofstad se 19de eeuse huise is gevolglik van Noorse dennehout gebou. 'n Kwartier van Flekkefjord het sedert die 18de eeu dan ook die naam Hollenderbyen ("Hollandse stad") gedra.

Flekkefjord het op 8 Augustus 1842 stadstatus en markreg gekry. Die haringvissers het hul bedrywighede langs die kus in 1838 gestaak, en die leernywerheid en vyf looierye, wat in 1866 gestig is, het Flekkefjord se nuwe ekonomiese basis gevorm. In die tydperk ná 1900 het ook wol-, hout- en tonnywerhede ontstaan. Later is skeepsbouwerwe en meganiese werkwinkels gestig. Sedert 1877 word die dagblad Agder Flekkefjords Tidende in Flekkefjord uitgegee.

In 1965 is 'n aantal omliggende dorpe by Flekkefjord ingesluit.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (no) "Statistics Norway". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2015. Besoek op 31 Januarie 2016.