Gaan na inhoud

Masels-entstof

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie.
Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word.

Masels-entstof is 'n entstof wat masels voorkom. Immuniteit teen masels word ontwikkel na toediening van een of twee dosisse van die entstof. As meer as 92% van 'n bevolking ingeënt is, is daar gewoonlik nie meer 'n uitbreek van masels nie. Dit kan egter weer voorkom as die inentingsvlakke daal. Die effektiwiteit van die entstof duur baie jare, maar dit is onduidelik of dit mettertyd minder effektief raak. Die entstof kan ook teen masels beskerm as dit binne 'n paar dae na blootstelling aan masels gegee word.[1]

Die entstof is oor die algemeen veilig, selfs vir mense met MIV-infeksie. Newe-effekte is gewoonlik lig en van korte duur. Dit kan pyn op die plek van inspuiting of ligte koors insluit. Anafilakse ('n ernstige allergiese reaksie) is in ongeveer 3,5 tot 10 gevalle per miljoen dosisse gedokumenteer. Die voorkoms van Guillain-Barré-sindroom (vinnige spierverswakking veroorsaak deur die immuunstelsel wat die perifere senuweestelsel beskadig), outisme en inflammatoriese dermsiekte word nie verhoog deur inenting teen masels nie.[1]

Entstof teen pokke

Die entstof is op sigself beskikbaar en in kombinasies soos die MMR-entstof ('n kombinasie met die inenting teen rubella en pampoentjies) of die MMRV-entstof ('n kombinasie van MMR met die waterpokkies-entstof).[1][2] Die inenting teen masels is ewe effektief in alle formulerings om masels te voorkom, maar newe-effekte wissel na gelang van die kombinasie.[1][3] Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat maselsinspuiting op nege maande ouderdom gegee word in gebiede ter wêreld waar die siekte algemeen is, of op twaalf maande waar die siekte nie algemeen voorkom nie.[1] In Suid-Afrika word die entstof teen 6 maande en 12 maande volgens die inentingskedule voorgeskryf.[4] Inenting teen masels is gebaseer op 'n lewendige maar verswakte stam van masels. Dit kom as 'n gedroogde poeier wat met 'n spesifieke vloeistof gemeng word voordat dit onder die vel of in 'n spier ingespuit word. Verifiëring dat die entstof doeltreffend was, kan deur bloedtoetse bepaal word.[1]

Inenting teen masels is die eerste keer in 1963 ingestel.[5] Ongeveer 85% van kinders wêreldwyd het hierdie entstof vanaf 2013 ontvang.[6] In 2015 het ten minste 160 lande twee dosisse voorsien in hul roetine-immunisering.[7] Dit is op die Wêreldgesondheidsorganisasie se lys van essensiële medisyne, die veiligste en doeltreffendste medisyne wat in 'n gesondheidstelsel benodig word.[8]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 "Masels-enstof: Wêreldgesondheidsorganisasie se posisiespapier – April 2017" (PDF). Weekly Epidemiological Record (in Engels). 92 (17): 205–27. April 2017. hdl:10665/255149. PMID 28459148.
  2. Mitchell, Deborah (2013). Die noodsaaklike gids vir entstowwe vir kinders (in Engels). New York: St. Martin's Press. p. 127. ISBN 9781466827509. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 September 2017. {{cite book}}: |archive-date= / |archive-url= timestamp mismatch (hulp)
  3. "Inligtingsblad van die waargenome tempo van entstofreaksies" (PDF). Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) (in Engels). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 19 Desember 2019. Besoek op 1 Desember 2018.
  4. "Die inentingskedules in Suid-Afrika: is u kind op datum?". Parent (in Engels). 22 November 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2020. Besoek op 9 Desember 2019.
  5. Centers for Disease Control and Prevention (2014). CDC-gesondheidsinligting vir internasionale reis 2014 - die geel boek (in Engels). p. 250. ISBN 9780199948505. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 September 2017. {{cite book}}: |archive-date= / |archive-url= timestamp mismatch (hulp)
  6. "Masels Feiteblad N°286". Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) (in Engels). November 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2018. Besoek op 4 Februarie 2015.
  7. "Immunization coverage". Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 April 2018. Besoek op 12 Julie 2017.
  8. "Wêreldlysorganisasie se modellys van noodsaaklike medisyne: 21ste lys 2019" (in Engels). Wêreldgesondheidsorganisasie. 2019. hdl:10665/325771. {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp)