Metz
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Frankryk |
Région (gewes) | Grand Est |
Département | Moselle |
Koördinate | 49°07′N 6°10′O / 49.117°N 6.167°O |
Stigting | 5de eeu v.C. |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 41,94 vk km |
Hoogte bo seevlak | 162–256 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2012) | 119 551 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 851/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 389 851 |
Tydsone | UTC +1 |
- Somertyd | UTC +2 |
Burgemeester | Dominique Gros |
Amptelike webwerf | metz.fr |
Metz is 'n stad en munisipaliteit in die Franse gewes Grand Est. Dit is die prefektuur (hoofstad) van die département Moselle. Die munisipale gebied het 'n bevolking van sowat 120 000 (2008) en 'n oppervlakte van 42 km². Metz is vandag 'n belangrike administratiewe, nywerheid- en handelsentrum by die samevloeiing van die riviere Seille en Moesel (Frans: Moselle).
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die eerste nedersettings dateer uit die tydperk van 3000 v.C.; die gewes lê in die Keltiese gebied van Europa. Gaius Julius Caesar verower die stad in die 1ste eeu v.C. In die Romeinse tyd kry dit aanvanklik die Latyns-Galliese naam Divodurum (Burg van die Gode), wat in die Keisertyd tot Mediomatricum verander word – 'n aanduiding van die Keltiese stam van die gebied. Mediomatricum groei vinnig en word een van die welvarendste stede in Gallië; sy bevolkingstal oortref selfs dié van Lutetia (die antieke Parys).
Die vroeë Gallo-Romeinse bloeitydperk eindig met die Hunne-inval van die jaar 451, toe Attila se troepe die stad verwoes. Die stad word in die 6de eeu as 'n bisdom en Frankiese palts herstig. In die volgende eeu is Metz 'n kulturele sentrum en die hoofstad van die Austrasië (die oostelike gedeelte van die Frankiese Ryk).
Met die splitsing van die Karolingiese Ryk in 843 word Metz Lotaringies, terwyl die hertogdom Lotaringe in 870 'n Franstalige deel van die Duitse Ryk word. Die stad staan nou bekend onder sy Middeleeuse naam Mettis. Metz is sedert 925 'n Vrye Rykstad. Die biskoppe het in die 10de eeu die gesag oor die stad en kan die hertoë se pogings om die stad te annekseer steeds keer. Die stedelike adel begin in die 12de eeu 'n aantal stedelike instellings vir die groeiende bevolking te stig, terwyl hulle enige magsdeling met die ambagsmanne van die stad afkeur. Veral die soutproduksie maak van Metz in die middeleeue 'n welvarende stad.
Die binnestad van Metz word in die 13de en 14de eeu in die gotiese boustyl heropgerig. Metz is in dié tyd die stad met die grootste grondgebied in die Duitse Ryk.
Op 10 April 1552 beset die Franse koning Hendrik II die stad saam met die bisdomme Toul en Verdun. In die Vredesluiting van Münster 1648 slaag Frankryk daarin die gebiede amptelik te annekseer. In die verloop van die 17de eeu word dit as 'n strategiese vesting in die Franse ooste ontwikkel.
Metz word nog twee keer Duits, in die tydperk van 1871 tot 1918 word Elsas-Lotaringe na die Franko-Pruisiese Oorlog 'n Duitse ryksland, en van 1940 tot 1944 beset Duitse troepe die gewes om dit by die Duitse Ryk in te lyf.
Besienswaardighede
[wysig | wysig bron]- Die gotiese katedraal St-Etienne, wat in die jaar 1220 begin en in 1520 voltooi is, het 'n aantal bekoorlike glasvensters wat deur Marc Chagall ontwerp is.
- Die Jaumont-sandsteen met sy kenmerkende goue kleur is die belangrikste boumateriaal vir die historiese geboue van die stad; saans word die argitektoniese besonderhede met behulp van kollig-stralers baie duidelik sigbaar.
- Die tweede grootste vlooimark van Frankryk vind een tot twee keer per maand plaas.
- Die Moselmeer in die stadsentrum is 'n paradys vir windseil-entoesiaste.
Kookkuns
[wysig | wysig bron]Die bekendste geregte van Metz en die omgewing is die Quiche lorraine ('n pikante tert met onder meer spek en eiers), die Cochon de lait de Metz (in melk gekookte varkvleis), die Potée Lorraine ('n bredie van groente) en die Tarte à la mirabelle ('n vrugtetert).
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Metz. |
- (en) Toerisme-inligting oor Metz op Wikivoyage
- (fr) Die amptelike webwerf van die munisipaliteit
- (en) "Metz". Encyclopædia Britannica. Besoek op 12 April 2019.