Reconquista
Reconquista | |||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Die Slag van Las Navas de Tolosa | |||||||||
| |||||||||
Strydende partye | |||||||||
Rooms-Katolieke Koninkryke: | Islamitiese ryke:
| ||||||||
Ongevalle en verliese | |||||||||
Beleg van Valencia: 30 000 gevangenes[1] Slag van Las Navas de Tolosa: 60 000 gesneuweldes[2] Slag van Río Salado: 400 000 gesneuweldes (Christelike bewering)[3] |
Reconquista (Spaans: [rekoŋˈkista], Portugees: [ʁəkõŋˈkiʃtɐ]; Katalaans: reconquesta [rekoŋˡkesta] of [rəkuŋˡkestə], "Herverowering") is 'n historiese term wat tans algemeen en retrospektief gebruik word om na 'n periode in die geskiedenis van die Iberiese Skiereiland te verwys wat oor 'n tydperk van sowat 780 jaar strek, van die Islamitiese inval in en verowering van Hispania (die Wes-Gotiese Koninkryk) in 711 tot die val van die laaste Islamitiese staat in Iberië, Granada, wat op 2 Januarie 1492 voor die aanval van Christelike leërs moes swig. In dié periode, wat in verskillende fases onderverdeel kan word, het Christelike magte 'n reeks militêre veldtogte teen Islamitiese state op die skiereiland onderneem.
In die eerste drie eeue van Moors-Islamitiese oorheersing het Christelike magte net enkele pogings onderneem om die invallers te verdryf. Ná 'n mislukte Moorse inval in Spanje in 778 het Frankiese magte in 801 daarin geslaag om Barcelona in te neem. Die Spaanse Mark of Marca Hispanica, 'n strategies belangrike streek tussen die Pireneëreeks en die Ebrorivier, het vervolgens onder Frankiese bewind gekom.
In die noorde van die Iberiese Skiereiland kon Asturiese konings, wat hulself as opvolgers van die Wes-Gotiese monarge beskou het, in die laat 9de eeu voordeel trek uit die verdeeldheid in Moorse geledere en hul magsgebied suidwaarts uitbrei. Spanninge tussen die Christelike koninkryke Kastilië en León in die 10de eeu en die Kalifaat Córdoba se militêre sterkte het die herverowering van die hele Iberiese Skiereiland nogtans in die volgende eeue vertraag.
Die Reconquista het begin met die Slag van Covadonga in 722 (sommige oorlewerings gee 718 as datum) toe Asturiese magte onder bevel van Pelayo, die legendariese stigter van die Koninkryk Asturië, 'n oorwinning oor die More behaal het. Maar eers vanaf die 11de eeu, toe die Islamitiese Almoravide-dinastie sy jihad-teorie ontwikkel het, het ook trekke van religieuse fanatisme aan albei kante van die konflik na vore gekom.
Die Almoravide se magsuitbreiding tussen 1085 en 1095 word as die begin van die tweede fase van die Reconquista beskou waartydens die stryd teen die More 'n Europese dimensie gekry het met die Pous se toenemende betrokkenheid in die konflik. Vrywilligers uit ander dele van Europa het by die Christelike magte aangesluit – waaronder ridders van die Orde van die Tempeliers – om in die "heilige oorlog" teen Moslems te veg. Uiteindelik het Christelike oorwinnings op die Iberiese Skiereiland die aanleiding gegee tot die Kruistogbeweging.
Die Reconquista as proses van de-islamisering en uitbreiding van Christelike koninkryke op die Iberiese Skiereiland is voltooi in 1492, kort voor die Europese ontdekking van die Amerikaanse vastelande – die Nuwe Wêreld - deur Christophorus Kolumbus nog in dieselfde jaar. Spanje en Portugal het vervolgens tot die wêreld se leidende seevarende nasies en koloniale grootmoondhede ontwikkel. Suid- en Wes-Europeërs, wat al deur die geografiese besonderhede van hul vateland aangetrokke moes voel tot die see, het kort voor lank tot die planeet se voorste kulturele en tegnologiese beskawings ontwikkel.
Verwysings
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Reconquista.
Kruistogte : Iste - IIde - IIIde - IVde - Vde - VIde - VIIde - VIIIste - IXde | |||
| |||
Sien ook : Reconquista |