Gaan na inhoud

Russiese Rewolusie (1905)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Russiese Rewolusie (1905)

17 Oktober 1905, deur Ilja Repin.
Datum 22 Januarie 190516 Junie 1907
Ligging Rusland
Resultaat
  • Rewolusionêre verslaan
  • Nikolaas II behou die troon
  • Oktober-manifes
  • Grondwet goedgekeur
Strydende partye
Vlag van Rusland Keiserlike regering
  • Keiserlike weermag
  • Okhrana
  • Swart Honderd
  • Russiese adel
  • Adelsversameling
Rewolusionêre
  • Kleinboere
  • Fabriekswerker
  • Separatiste
  • Sowjet van Sint Petersburg
  • Doema van Moskou
  • Sosiaal-Rewolusionêre Party
  • Russiese Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty
Aanvoerders
Nikolaas II

Vlag van Rusland Sergei Witte

Viktor Chernof

Wladimir Lenin

Die Russiese rewolusie van 1905 (Russies: Революция 1905–1907 годов в России / Revoljucija 1905–1907 godov v Rossii) was ’n landwye, gewelddadige stryd wat teen die regering en die tsaar gemik was. Niemand was in beheer daarvan nie en dit het geen enkele oorsaak of doelwit gehad nie; dit was die gevolg van dekades van onrus en ontevredenheid oor die outokratiese bewind van die Romanof-dinastie en die stadige pas van hervormings in die land. Die direkte oorsaak was die onvermoë van die Russiese militêre magte in die aanvanklik gewilde Russies-Japannese Oorlog, wat ’n reeks rewolusionêre aktiwiteite aan die gang gesit het.

Hoewel die rewolusie taamlik wreed onderdruk is, het dit tog gelei tot ’n vinniger pas van hervorming in Rusland. Dit was egter nie genoeg om ’n tweede rewolusie te keer wat in 1917 ’n einde gebring het aan die Romanof-bewind nie.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]

Die liberale tsaar Aleksander II, wat die lyfeienes in 1861 bevry en ander sosiale hervormings ingestel het, het op 1 Maart 1881 in ’n sluipmoordaanval gesterf. Sy konserwatiewe opvolger, Aleksander III, het met ’n ysterhand regeer. Sowel die staat as die kerk was ondergeskik aan sy outokrasie.

Net 5 persent van Rusland se bevolking was van die adelstand en hulle het feitlik al die grond besit. Die boere en die klein maar groeiende nywerheidswerkersklas (proletariaat) het 84 persent van die bevolking uitgemaak. Hulle grond, werk en produkte is streng deur die aristokrasie beheer en hulle sosiaal-ekonomiese toestande was gewoonlik haglik. In die dekades voor 1905 was daar baie min ernstige onrus in die Russiese Ryk. Politieke ontevredenheid het egter opgebou sedert Aleksander II se 1861-edik wat die lyfeienes bevry het. Voorheen was die lyfeienes brandarm slawe wat op gehuurde grond gewoon en die grondeienaars met kontant en arbeid daarvoor betaal het. Nou het hulle die reg gehad om ook grond te besit, maar die bevryding is nie heeltemal deurgevoer nie en hulle het op die ou einde bitter min vryheid gehad.

Die bevryding was net een van ’n hele reeks regerings-, geregtelike, sosiale, nasionale en ekonomiese hervormings waarmee aan die begin van die 1860's begin is terwyl die land stadig van feodale absolutisme beweeg het na markgedrewe kapitalisme. Die politieke struktuur het egter onveranderd gebly. Pogings om dit te hervorm, is sterk teengestaan deur die monargie en burokrasie. ’n Stelsel van verkose plaaslike rade wat Aleksander begin instel het (vyftig jaar nadat die wet daarvoor goedgekeur is), het groot verwagtinge geskep, maar die proses het geweldig stadig gevorder – en dit het tot frustrasie en rebellie gelei. Die rebelle het begin glo dat die besit van grond en vryheid net haalbaar is met ’n rewolusie.

Op 1 Maart (Ou Styl) 1881 word Aleksander II vermoor in ’n bomontploffing deur die groep Narodnaja Wolja. Daar was al voorheen ’n sluipmoordaanval op hom wat gelei het tot strenger sensuur, die gebruik van ’n geheime polisiemag en die verbanning van liberale. Aleksander II is opgevolg deur sy seun, Aleksander III, ’n erg konserwatiewe mens met ’n eng uitkyk wat grootliks beïnvloed is deur Konstantin Pobedonostsef, ’n voorstander van outokrasie.

Aleksander III het dadelik beperkings begin instel. Plaaslike regering is aan bande gelê, en die werksaamhede van die Russiese geheime politieke polisiediens, die Ochrana, is verskerp. Die polisie het daarin geslaag om sowel rewolusionêre as pro-demokratiese bewegings in hul spore te stuit (hoewel baie van hulle net ondergronds begin werk het). Die Ochrana het die rewolusionêre groepe versplinter deur tronkstraf en verbanning. Baie van dié mense het geëmigreer om aan vervolging te ontsnap. Dit was hierdie emigrasie na Wes-Europa wat Russiese denkers in aanraking gebring het met Marxisme. Die eerste Russiese Marxistiese groep is in 1884 gestig, hoewel dit klein gebly het tot in 1898.

In teenstelling met die sosiale stagnasie van die 1880's en 1890's het industrialisasie groot ekonomiese voordele vir Rusland ingehou. Die probleem was egter dat die rykes ryker en die armes armer geword het.

Nadat Aleksander III in 1894 gesterf het, het sy 26-jarige seun, Nikolaas II, aan die bewind gekom. Nes sy voorganger het Nikolaas geweier om politieke verandering toe te laat. Hy het ook die Joodse minderheid laat vervolg, die pers en universiteite gesensor en politieke gevangenes verban.

Teen 1905 het rewolusionêre groepe herstel van die onderdrukkende 1880's. Die Marxistiese Russiese Sosiaal-Demokratiese Werkersparty (RSDWP) is in 1898 gestig en in 1903 het dit geskeur in twee partye, die Mensjewiste en die Bolsjewiste. Wladimir Iljitsj Oeljanof (Lenin) het in 1902 sy werk Wat moet gedoen word? gepubliseer. Die Sosialisties-Rewolusionêre Party is in 1900 in Charkof gestig en sy "vegeenheid" (Boewaja Organizatsija) het tot in 1905 en ook later talle prominente politici vermoor, onder andere twee ministers van binnelandse sake, Dmitri Sergejewitsj Sipjagin in 1902 en sy opvolger, die gehate Wjatsjeslaf von Plehwe, in 1904. Dit het die regering genoop om nog groter magte aan die polisie te gee.

Die Russies-Japannese Oorlog van 1904–'05 was aanvanklik gewild, maar het later bygedra tot die algemene ontevredenheid. Militêre mislukkings en onduidelike doelwitte met die oorlog het die volk vervreem. Die groot ongelykheid van die bevryding van lyfeienes het opnuut tot onrus gelei en die boere het plase regoor Rusland afgebrand. Die ekonomiese opswaai van die 1890's het getaan en werkers was ontevrede oor hul haglike omstandighede.

Bloedige Sondag

[wysig | wysig bron]
Bloedige Sondag: Deelnemers aan ’n optog vlug weg voor die tsaar se troepe.

In Desember 1904 was daar ’n staking by die Poetilof-fabriek in Sint Petersburg. Saam met werkers wat by ander fabrieke gestaak het uit simpatie, was daar meer as 80 000 stakers. Georgi Gapon, ’n priester, het ’n vreedsame werkersoptog op Sondag 9 Januarie (Ou Styl) 1905 na die Winterpaleis gereël om ’n petisie aan die tsaar te oorhandig.[1] In die petisie is hervormings gevra soos ’n einde aan die Russies-Japannese Oorlog, ’n agt uur lange werkdag, hoër lone en ’n einde aan gedwonge oortyd by fabrieke. Troepe is om die Winterpaleis en op ander belangrike plekke in Sint Petersburg ontplooi.

Op die noodlottige Sondag het stakers en hul gesinne by ses punte in die stad ontmoet. Die werkers het vreedsaam en vrolik deur die stad se strate geloop. Party het kruise, ikone en godsdienstige plakkate gedra, ander Russiese vlae en portrette van die tsaar. Hulle het godsdienstige liedere en God Behoed die Tsaar gesing. Om 14:00 moes die verskillende groepe voor die Winterpaleis bymekaarkom. Oral in die stad het hulle egter gevind dat hulle pad na die paleis deur troepe geblokkeer word. Onseker wat dit beteken en gretig om nie die ontmoeting met die tsaar mis te loop nie, het die groepe mense vorentoe beweeg. In hierdie oomblik van chaos het die soldate losgebrand. Koeëls het mans, vroue en kinders getref en bloedvlekke op die sneeu gelaat.

Die amptelike syfer van slagoffers was 92 dood en ’n paar honderd gewond; die ware syfer was waarskynlik veel hoër. Intussen het Gapon verdwyn en ander leiers is gevange geneem. Hulle is uit die hoofstad verban en het elders gerugte versprei dat duisende mense doodgeskiet is. Daardie dag, bekend as "Bloedige Sondag", het die ou, legendariese geloof dat die tsaar en die volk een is, vernietig. Buite Rusland val die toekomstige Britse eerste minister Ramsay MacDonald die tsaar aan. Hy noem hom ’n "bloedbevlekte skepsel" en "alledaagse moordenaar".[2]

Die einde

[wysig | wysig bron]

Die tsaar stem gou in tot veranderings. Op 18 Februarie (Ou Styl) belowe hy onder meer om ’n "raadgewende" raad aan te stel en om godsdienstige verdraagsaamheid en spraakvryheid in te stel. Die raadgewende staatsdoema het egter bitter min mag gehad – en dit het gelei tot verdere onrus en ’n algemene staking in Oktober.

In dieselfde maand is die Oktober-manifes, wat deur Sergei Witte en Aleksei Obolenski geskryf is, aan die tsaar oorhandig. Daarin word basiese regte erken, die stigting van politieke partye toegestaan en die Doema as die sentrale wetgewende liggaam erken. Die tsaar het drie dae lank uitgestel en gekibbel, maar op 17 Oktober het hy eindelik die manifes geteken om ’n bloedbad te voorkom. Hy was dadelik spyt dat hy die dokument geteken het en het gesê hy "voel siek mat skaamte om die dinastie so te verraai".

Die manifes is wyd verwelkom en onrus het bedaar. Die opstande het in Desember geëindig met ’n laaste opflikkering in Moskou. Tussen 5 en 7 Desember (Ou Styl) was daar ’n algemene staking deur die Russiese werkersklas. Op 7 Desember het die regering troepe gestuur en ’n bitter geveg het in die strate van Sint Petersburg begin. A week later is die Semjonofski-regiment ontplooi. Hulle het demonstrasies met geweervuur onderbreek en ook op werkersbuurte geskiet. Op 18 Desember (Ou Styl), met sowat duisend mense dood en dele van die stad verwoes, het die Bolsjewiste oorgegee.

Gevolge

[wysig | wysig bron]

Ná alles was die land feitlik onveranderd. Die politieke mag was steeds in die hande van die tsaar, en rykdom en grond was tot die adel beperk. Die stigting van die Doema en die onderdrukking van die laaste opstand het egter daarin geslaag om die rewolusionêre groepe te laat verbrokkel. Leiers is opgesluit of verban en die groepe het nie geweet of hulle by die Doema moet aansluit of nie. Die daaropvolgende versplintering en interne struwelinge het die radikale organisasies in ’n chaos gelaat – tot met die stimulus van die Eerste Wêreldoorlog.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Marxiste-biografieë
  2. Massie, Robert K., The Fate of the Romanovs: The Final Chapter, Random House, ISBN 0-394-58048-6, 1995, p. 125

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]