Gaan na inhoud

Sint Petersburg

Koördinate: 59°57′N 30°18′O / 59.950°N 30.300°O / 59.950; 30.300
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sint Petersburg
Санкт-Петербург
(Federale stad)
Kloksgewys van links bo: Sint Isak-katedraal troon bo die stad uit; die Fort van Petrus en Paulus; Paleisplein; Peterhof; Nefski-prospekt; die Winterpaleis.
Kloksgewys van links bo: Sint Isak-katedraal troon bo die stad uit; die Fort van Petrus en Paulus; Paleisplein; Peterhof; Nefski-prospekt; die Winterpaleis.
Politieke status
Land Russiese Federasie
Federale distrik Noordwestelike
Ekonomiese streek Noordwestelike
Stigting 27 Mei 1703
Regering
Leier Georgi Poltawtsjenko
Amp Goewerneur
Wetgewer Wetgewende Raad
Bevolking
Sensus 2020
Totaal 5 392 992[1]
Volgorde 4de
Digtheid 3 843,9/km²
Statistiek
Oppervlakte 1 439 km²
Volgorde 82ste
Tydsone UTC+04:00
Registrasienommer 78, 98, 178
Amptelike tale Russies
Webtuiste gov.spb.ru Edit this at Wikidata
Wapen en vlag

Portaal  Portaalicoon   Rusland

Sint Petersburg (Russies: Санкт-Петербург; transkripsie: Sankt-Peterburg, [ˈsankt pʲɪtʲɪrˈburk], ) is ’n federale stad van Rusland, geleë in die Noordwestelike Federale Distrik aan die Newarivier oos van die Golf van Finland. Die stad, wat na tsaar Pieter die Grote se beskermheilige, die apostel Simon Petrus, genoem is en die Duitse naam Sankt Petersburg dra, het met die begin van die Eerste Wêreldoorlog, toe anti-Duitse gevoelens opgewek is, die Russiese naam Petrograd (Russies: Петроград) gekry en is later tot ere van Wladimir Lenin Leningrad (Russies: Ленинград) genoem. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie is in 1991 'n referendum gehou oor die stadsnaam. Sint Petersburg, wat deur sy bewoners dikwels kortweg Piter genoem word, het sy oorspronklike naam teruggekry.

Lugaansig van die Peterhof-paleis, die gunstelingpaleis en somerresidensie van tsaar Pieter die Grote waarna dikwels as die "Russiese Versailles" verwys word
Wit Nagte gedurende midsomer in Junie en Julie
Sint Petersburgse hoërskoolleerders vier hul matriekeksamen sedert die 1950's met 'n vrolike en kleurryke fees in Junie waarin die hele stad deel – Alje Paroesa of die "Fees van skarlaken seile"
Bolsjeochtinski-brug met Smolni-katedraal teen die agtergrond

Sint Petersburg is op 27 Mei 1703 gestig deur Pieter die Grote van die Russiese Ryk en was langer as tweehonderd jaar (1712–1728, 1732–1918) die land se hoofstad. Met 'n bevolking van 5,39 miljoen (soos op 1 Januarie 2020) is dit die tweede grootste stad in Rusland na Moskou, asook die vierde grootste in Europa na Londen en Parys. Sint Petersburg is een van Europa se vernaamste wetenskap-, kultuur- en nywerheidsentrums en ’n belangrike hawe aan die Baltiese See. Daarnaas is dit die wêreld se noordelikste miljoenestad.

Die "Venesië van die Noorde", soos Sint Petersburg – 'n stad wat op 42 eilande in die Newa-delta ontstaan wat deur meer as 400 brûe en talle kanale met mekaar verbind word – dikwels genoem word, was die resultaat van 'n grootskaalse stedelike bouprojek wat in 1703 onder tsaar Pieter die Grote begin is en slegs danksy die grootskaalse gebruik van dwangarbeiders – onder wie Russiese soldate, Sweedse en Ottomaanse krygsgevangenes – en Finse en Estniese werkers verwesenlik kon word. Hierdie mense het in minder as twintig jaar 'n stad voltooi wat, volgens die ontwerp van die Franse boumeester en tuinontwerper Jean-Baptiste Alexandre Leblond (1679−1719), wat in 1716 as hoofargitek vir die Sint Petersburg-projek aangestel is, 'n onherbergsame kusgebied in 'n eersterangse Europese metropool met paleise, kerke en kloosters asook tweeverdiepingwoonhuise omgeskep het.

Tsaar Pieter die Grote se visie was om vir Rusland – destyds 'n uitgestrekte, maar agtergeblewe ryk – 'n "venster na die weste" te open om sy land toeganklik te maak vir die ontwikkelde Europa se ambagte, kuns en beskawing. As timmerman in Amsterdam het hy self onder die indruk van 'n moderne stad gestaan wat as voorbeeld vir sy nuwe regeringsetel sou dien – 'n vooruitstrewende metropool met seehawe, kanale en brûe.

Sint Petersburg se pragstraat, die Nefskij-prospekt met sy indrukwekkende Jugendstilfasades, die Russiese Museum en die Grand Hotel Europa, ding mee met Parys se Champs-Élysées en die Kurfürstendamm in Berlyn – en vir die digter Nikolai Gogol was hierdie laan die grootste aantreklikheid in Rusland se Oosseemetropool.

Sint Petersburg se argitektoniese erfenis verenig 'n verskeidenheid uiteenlopende boustyle soos barok-, rokoko- en suiwer neoklassieke boustyle met geboue soos die Admiraliteits-, Winter- en Marmerpaleis en die Hermitage. So is die historiese middestad tot Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.

Sint Petersburg was in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, 'n dinamiese periode van ontwikkeling in die Russiese Ryk, die setel van die meeste banke en sodoende die spilpunt van Russiese kapitalisme en globalisering, waar sosiale klasse gevorm en maatskaplike mobiliteit begin het (maar ook grootskaalse verstedelikings- en transformasieprosesse aan die gang was – die oorgrote meerderheid van Sint Petersburgers in die jare voor die Groot Oorlog was voormalige boere), die bakermat van nuwe strominge in literatuur, argitektuur, musiek en skilderkuns, van Russiese massakultuur en van 'n lewendige burgerlike samelewing – prosesse wat van die stad omstreeks 1900 een van die sentra van Europese modernisme gemaak het en eers deur die Russiese Oktoberrewolusie in 1917, waarin die stad 'n sleutelrol gespeel het, skielik tot stilstand gedwing is.[2]

Ter geleentheid van sy driehonderdjarige jubileum in 2003 het Sint Petersburg sy status as een van Europa se groot metropole hervat.

Stadsnaam en bynaam

[wysig | wysig bron]

Pieter die Grote het die stad, wat hy laat bou het, genoem na sy beskermheilige, die apostel Petrus. Aanvanklik is – na gelang van sy verblyf in Nederland – die Nederlandse toponimie Sankt-Pieterburch gekies, maar dit is kort na die stad se stigting na die Duitse Sankt-Peterburg verander. Ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, toe anti-Duitse sentiment hoog geloop het, is die stad herdoop tot Petrograd. Ná Wladimir Lenin se afsterwe is dit ter ere van die Sowjetleier hernoem as Leningrad. Met die verbrokkeling van die Sowjetunie en die ontbinding van die kommunistiese regeringstelsel het die stad op 6 September 1991 weer sy historiese naam teruggekry. Die omliggende distrik se naam is nogtans nie aangetas nie – dit staan steeds bekend as die Leningrad-oblast.

Naas "Venesië van die Noorde" word na Sint Petersburg ook verwys as die "Palmyra van die Noorde", die "Noordelike Hoofstad van Rusland" (na gelang van sy mededinging met Moskou, Rusland se ander groot metropool en huidige hoofstad) en "Stad op 101 Eilande" ('n sinspeling op die stad se ligging in die Newarivierdelta met sy talle eilande).[3]

Geografie

[wysig | wysig bron]
Strandlewe naby 'n hotel in die stadsdeel Zelenogorsk

Sint Petersburg het in 'n voormalige moerasgebied naby die Newamonding in die Finse Golf ontstaan. Die huidige stadsgebied strek oor 1 431 km² (insluitende die voorstede Peterhof en Poesjkin wat sedert 1999 administratief onder beheer van die Sint Petersburgse stadsregering staan), waarvan sowat 'n tiende deur waterliggame beslaan word. Van die oorspronlike eilande in die stadsgebied het 42 bewaar gebly. Hul getal is merkbaar verminder nadat baie kanale opgevul is.

Omrede die Newamonding ongeveer op seevlak geleë is, en grondwater tydens die boubedrywighede reeds op 'n diepte van enkele sentimeter aangetref is, moes die beboude gebied op hoër geleë terrein ontstaan. Tans is Sint Petersburg tussen twee en vier meter bo seevlak geleë. Die oewers is met granietblokke beveilig wat die stad nie net teen vloedwater beskerm nie, maar ook bydra tot Sint Petersburg se stadskarakter. Die Russiese digter Alexander Poesjkin het die Newa in sy gedig Die Ysterruiter derhalwe as 'n rivier beskryf wat "in graniet gehul" is.

Nogtans word Sint Petersburg voortdurend deur vloedwater en oorstromings bedreig. Die stadsdeel Kronstadt, wat op 'n eiland geleë is, dien as nulpunt vir die waterstand. Die "Kronstadtse waterpeil" se nulpunt is sowat 15 sentimeter hoër as die Amsterdamse waterpeil (wat ook in Duitsland gebruiklik is). Dit is die verwysingspunt vir waterpeilmetings in groot dele van Oos-Europa. Tot en met 1993 is dit ook in die oostelike deelstate van die herenigde Duitsland vir hierdie doeleinde gebruik.

Sint Petersburg is reeds verskeie kere deur oorstromings geraak. Volgens die amptelike statistiek van 2003 is die stad vanaf sy stigting 295 keer oorstroom (waarvan 44 oorstromings vanaf 1980 voorgekom het). Verwoestende oorstromings het die stad in 1824 en 1924 getref. Tydens die vloed van 1824, wat as inspirasie vir Poesjkin se Ysterruiter-gedig gedien het, was die waterpeil 4,2 meter bo die nulpunt. Tussen 200 en 500 inwoners het hul lewens verloor, terwyl 462 geboue vernietig is.

Klimaat

[wysig | wysig bron]

Sint Petersburg, die noordelikste miljoenemetropool op aarde, is op die 60ste en dus dieselfde breedtegraad geleë soos die Skandinawiese hoofstede Oslo en Stockholm, die suide van Alaska en die suidpunt van Groenland. Die wisselende weerstoestande van Sint Petersburg word deur sy ligging aan die Oossee bepaal. Die stad het 'n seeklimaat met gematigde somers en gemiddelde temperature van tussen 19 en 22 °C. Gedurendce die wintermaande daal die kwik tot gemiddeldes tussen -4 en -8 °C. Die hoogste temperatuur ooit is in 2010 met 37 °C gemeet, die laagste was -42 °C in die winter van 1941.

Die ligging op die noordelike 60ste breedtegraad beteken dat die stad in die tyd van die Somersonstilstand snags nie volledig in donkerheid gehul is nie. Die sogenaamde Wit Nagte van Sint Petersburg lok inheemses en toeriste na buite. Een van die gewildste besiensxwaardighede is die opening van Sint Petersburg se brûe vir skeepsvervoer tussen 1 uur snags en 5 uur soggens.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

'n Beplande stad

[wysig | wysig bron]
Die Bronsruiter, ’n monument ter ere van Pieter die Grote, op Sint Petersburg se Senaatsplein
Die verlate paleisruïne van groothertog Nikolai Nikolajewitsj in Znamenka (Peterhof) voer mens terug na 'n vergane tydperk
Sonstrale val helder deur die vensters van die verlate paleis. As gevolg van die rewolusie in 1917 het die meeste adellikes uit die stad gevlug. Baie verlate wonings het vervolgens begin verval. So het waterpype gedurende die winter bevries en in die lente gebars
Die Lachta-sentrum in die gelyknamige stadsdeel, met 462 m die hoogste wolkekrabber in die Russiese Federasie, dien onder meer as hoofkwartier vir die energie-onderneming Gazprom

Pieter die Grote het Sint Petersburg op 27 Mei 1703 gestig in 'n voorheen yl bevolkte gebied wat hy – net soos die Baltiese provinsies – deur oorlogvoering van Swede verower het. Die militêre oorwinnings was eweneens aan 'n moderniseringsproses te danke – danksy Wes-Europese spesialiste is die Russiese leër in 'n strydmag met groot slaankrag omgeskep. Voordat dit aan die tsaar se verwagtinge kon voldoen, is geweldige bedrae daaraan bestee. In Sint Petersburg se stigtingsjaar is byna die hele Russiese staatsbegroting vir militêre uitgawes aangewend. Nog in 1725, die jaar van Pieter se afsterwe, het verdedigingsuitgawes sowat tagtig persent van die totale staatsbesteding verteenwoordig. Tot vandag toe speel die Russiese vloot en leër 'n belangrike rol in die stad.

Vir Pieter het hierdie beleggings uiteindelik die gewenste vrugte afgewerp. Hy – wat as tsaar meer nog as Iwan IV die weswaartse oriëntasie van Rusland op byna alle gebiede, van politiek tot modes (Russiese mans is gedwing om hul baarde af te sny en Wes-Europese klere te dra) met alle mag bevorder het – het Sint Petersburg beskou as sy "venster op die Weste" – groot genoeg om die wind van verandering oor sy uitgestrekte ryk te laat waai. Wat modernisering betref, was Pieter nie net ambisieus nie, maar het hy ook gou ongeduldig geraak met sy onderdane.

Toe hy ná sy studies in Wes-Europa, wat 'n verblyf daar van anderhalf jaar vereis het, na Moskou teruggekeer het, moes hy sy gesag eers weer verstewig en opponente in 'n bloedige stryd uitskakel. Dit was vir hom duidelik dat Moskou met sy dikwels eiesinnige bevolking – wat nie net 'n opposisionele karakter vertoon het nie, maar hardnekkig geweier het om hervormings te aanvaar en steeds vasgeklou het aan ou gelowe en tradisies – aan sy verwagtinge en aanspraak as eersterangse moderne Europese heerser nie langer sou kon voldoen nie. Die enigste opsie was om 'n nuwe moderne hoofstad te bou. Amsterdam, die stad waar Pieter 'n tyd lank gebly het, sou as voorbeeld hiervoor dien.

Sint Petersburg, wat in die nuut-verworwe Oossee-kusgebiede van noordelike Europees-Rusland sou ontstaan, was aanvanklik beperk tot die status van tegnokraties-administratiewe seehawe – as setel van regering en basis vir die Russiese Oosseevloot en leër. Maar gaandeweg sou dit groei tot een van Europa se mees vooruitstrewende metropole. Die pad daarheen was in baie opsigte moeilik begaanbaar.

Die weer, geografie en haglike omstandighede het hul tol geëis met die bou van die stad. Duisende dwangarbeiders is jaarliks na die gebied vervoer, dikwels onder bewaking en selfs vasgeketting om ontsnapping te voorkom.Die kleinste oortredings is onmiddellik en swaar gestraf. Baie het egter ontsnap en talle ander is aan siektes en weens blootstelling aan die elemente dood. Die dodetal tydens die boutydperk van 18 jaar word op tot 100 000 geskat.

In 1712 het Pieter Sint Petersburg amptelik tot nuwe hoofstad verklaar. Die stad het veral floreer onder die bewind van twee van die magtigste vroue in die Russiese geskiedenis – Pieter se dogter keiserin Elisabeth (1740–1762) en keiserin Katharina die Grote (1762–1796). Talle paleise en ander indrukwekkende geboue het in hul regeringstyd ontstaan.

Beleg van Leningrad

[wysig | wysig bron]
Russiese troepe tydens 'n stormaanval

In die Tweede Wêreldoorlog is die stad byna 900 dae lank deur Duitse troepe onder bevel van generaal-veldmaarskalk Wilhelm Ritter beleër en aan bombardement blootgestel. Tydens die beleg van Leningrad tussen 8 September 1941 en 27 Januarie 1944 het die Duitse Weermag op bevel van Adolf Hitler geen poging aangewend om die stad in te neem nie, maar dit van die res van die land afgesny.

In die koudste wintermaande kon kosvoorraad oor die bevrore Ladogameer ingesmokkel en sowat 'n derde van die stadsbewoners in veiligheid gebring word, maar die res van die tyd was daar ’n groot hongersnood, en tot 'n miljoen mense is na raming in hierdie tyd dood – van wie sowat 800 000 van honger gesterf het.

Die Nasionaal-Sosialistiese bewind het ná die inval in die Sowjetunie planne ontwikkel om van die land 'n grootskaalse verskaffer van landbouprodukte vir die Duitse bevolking en weermag te maak. Van begin af is die onvermydelike hongerdood van tientalle miljoene Sowjetburgers, onder meer in die metropole Leningrad en Moskou, koudbloedig aanvaar.

Op 23 September 1941 het die Opperkommando van die Duitse Weermag 'n geheime bevel ontvang: „Der Führer ist entschlossen, die Stadt Petersburg vom Erdboden verschwinden zu lassen. Es besteht nach der Niederwerfung Sowjetrusslands keinerlei Interesse am Fortbestand dieser Großsiedlung.“ ("Die Führer is vasbeslote om die stad Petersburg van die aardbodem te verdelg. Ná die oorwinning oor Sowjetrusland is daar geen behoefte meer om hierdie groot nedersetting te laat voortbestaan nie.")[4]

Vanaf die lente van 1942 was die NS-bewind van plan om die historiese gewes Ingermanland, waarvan Leningrad deel uitgemaak het, volgens die Generalplan Ost te annekseer en Duitse setlaars in die gebied te vestig. Hierdie plan sou op die volksmoord aan sowat drie miljoen inwoners van Leningrad uitgeloop het vir wie by hierdie Neuordnung des Ostraums ("Herordening van gebiede in die Ooste") geen plek meer was nie.

Josef Stalin se bevel was om Leningrad onder alle omstandighede te verdedig en nie aan die Duitse invallers te oorhandig nie. Die stad is deur die Rooi Leër, maar ook 'n halfmiljoen inwoners verdedig wat barrikades en tenkversperrings opgerig het. Vir die eerste keer tydens die Tweede Wêreldoorlog is gebruik gemaak van die gevreesde Katjoesja-missiellanseerder waarna Duitse soldate later as "Stalinorrel" sou verwys. Vir sy heldhaftige verdediging is aan Leningrad later die eretitel Heldestad van die Sowjetunie toegeken.

Moderne geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die nuwe gebou van Rusland se Nasionale Biblioteek het langs die Moskou-prospekt ontstaan
Krestofski-stadion op die gelyknamige eiland

Volgens 'n besluit van Wladimir Lenin het Sint Petersburg in 1918 sy status as regeringsetel kwytgeraak; Russiese departemente en ander regeringsinstellings het vervolgens na Moskou teruggekeer. Vandag is Sint Petersburg – naas Moskou en die Goue Ring van Rusland een van drie hoofbestemmings in die Russiese Federasie vir buitelandse toerisme. Met sy argitektuur uit die agttiende en negentiende eeu, sy talle kanale, lang reguit strate, tuine, parke en paleise beskik die stad oor unieke argitektoniese ensembles. In 2018 het die stad 3,9 miljoen buitelandse ontvang. Ná die invoering van elektroniese visa vir toeriste uit 53 lande op 1 Oktober 2019 sal besoekergetalle in Sint Petersburg en die Leningrad-oblast na verwagting merkbaar toeneem.[5]

Daar is ook talle nywerhede, onder meer staal, chemie en masjienbou. Sint Petersburg is die setel van die Russiese Akademie vir Wetenskappe en het drie universiteite en ’n konservatorium. Daar is sowat 120 museums, waaronder die enorme Hermitage, en 18 teaters, waaronder die Marinskiteater. Sedert 1955 is daar ook ’n moltreinstelsel.

Dit was een van die gasheerstede tydens beide die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2017 en FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018.

Vervoer

[wysig | wysig bron]

Spoorweë

[wysig | wysig bron]

Die eerste spoorlyn in die Russiese Tsareryk is in 1837 vanaf Sint Petersburg na Zarskoje Selo (die "Tsaredorp", soos die keiserlike somerresidensie genoem is) gebou. Veertien jaar later, in 1851, is die treinroete na Moskou geopen, terwyl die spoorlyn na Warskou tussen 1851 en 1862 gebou is. Die Warskou-treinroete het in Vilnius vertak en Sint Petersburg sodoende via die Pruisiese Oosspoorlyn (Preußische Ostbahn) regstreeks met Koningsberg en Berlyn verbind nadat die Pruisiese en Russiese spoornetwerk in 1861 naby die Oos-Pruisiese nedersetting Eydtkuhnen met mekaar verbind is.

Vanaf 1896 tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het hierdie spoorlyn ook die luukse treindiens Nord-Express bedien wat Sint Petersburg met Parys verbind het – met 'n reistyd tussen 48 en 52 uur. Vir passasiers, wat in Parys aangekom het, was daar treinverbindings na die Franse Riviera, Londen, Spanje en Portugal. In Sint Petersburg kon reisigers maklik oorstap na treine soos die Trans-Siberiese Spoorweg wat hulle na die Stille Oseaan en bestemmings in China geneem het.[6]

Openbare watervervoer

[wysig | wysig bron]
Die skeerboot Meteor-197 op die Newa

Skeerbote, in Russies meteori genoem, is 'n gewilde vervoermiddel vir toeriste wat besoeke aan die voorstede Peterhof en Kronstadt bring. Meteori is bote met vlerke benede die wateroppervlak wat danksy hul stygkrag met toenemende spoed bo die wateroppervlak begin opstyg. Hierdie bote kann snelhede van tot 43 knope of 80 km per uur behaal. Die rit vanaf St. Petersburg na Peterhof neem sowat 'n halfuur. Skeerbootvervoer is beperk tot die somermmaande aangesien die Newa in die wintermaande moontlik bevries.[7]

Metro van Sint Petersburg

[wysig | wysig bron]
Narvskaja-stasie op lyn 1

Die moltreinstelsel of metro van Sint Petersburg (Russies: Санкт-Петербургский Метрополитен; Sankt Petersburgskij Metropoliten) word vanweë sy indrukwekkende boustyl en versierings, wat as "ondergrondse paleise vir die volk" beskryf is, as een van die aantreklikstes ter wêreld beskou. Die Sowjetunie se vernaamste argitekte is uitgenooi om stasies te ontwerp waarvan die mure met duisende ton marmer, graniet en kalksteen versier is. Beeldhouwerke, mosaïeke en kandelare is deur kunstenaars ontwerp. Tegelykertyd is Sint Petersburg se metro een van die diepste moltreinstelsels op aarde – met stasies wat op 'n gemiddeld van tussen 70 en 80 meter ondergronds geleë is. Die diepste daarvan, Admiralteiskaja, is teen 'n diepte van 96 meter gebou.

Die Sint Peterburgse stelsel is heelwat jonger as Moskou s'n; die eerste moltreinlyn is op 15 November 1955 in bedryf gestel. Tans bestaan die netwerk uit vyf lyne met 'n totale lengte van 124,8 km en 72 stasies. Daagliks word sowat twee miljoen, jaarliks meer as 720 miljoen passasiers vervoer. Die stelsel het sowat 13 000 medewerkers in diens.

Bekende boorlinge

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "gks.ru: Bevolking soos op 1 Januarie 2020" (in Russies). 24 Januarie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2020.
  2. (de) Karl Schlögel, Frithjof Benjamin Schenk en Markus Ackeret (reds.): Sankt Petersburg. Schauplatz einer Stadtgeschichte. Frankfurt am Main: Campus 2007, bl. 29
  3. "saint-petersburg.com: Quick Facts" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Februarie 2020. Besoek op 7 Februarie 2020.
  4. (de) Jörg Ganzenmüller: Das belagerte Leningrad 1941–1944. Eine Stadt in den Strategien von Angreifern und Verteidigern. Schöningh, Paderborn 2005, bl. 13–82, Zitate bl. 17 en 20; das Joachim Hoffmanns Position betreffende Zitat bezieht sich auf dessen Beitrag: Joachim Hoffmann, Die Kriegführung aus der Sicht der Sowjetunion. In: Das Deutsche Reich und der Zweite Weltkrieg, hrsg. v. Militärgeschichtlichen Forschungsamt. Band 4. Der Angriff auf die Sowjetunion. DVA, Stuttgart 1983, ISBN 3-421-06098-3, S. 713–809, hier bl. 741.
  5. (en) Visit Petersburg – Official St. Petersburg City Guide: E-visa. Besoek op 14 Januarie 2020 Geargiveer 14 Januarie 2020 op Wayback Machine
  6. (en) Ralf Roth en Henry Jacolin (reds.): Eastern European Railways in Transition. Nineteenth to Twenty-first Centuries. Abingdon, Oxon and New York, NY: Routledge 2016, bl. 121
  7. (en) Fodor's Travel Guides: Fodor's Moscow & St. Petersburg (Full-color Travel Guide). Kindle eBoek--uitgawe 2014, pos. 7919-7924

Literatuur

[wysig | wysig bron]
Peterhof
Die Katharina-paleis
Die Moskouse treinstasie van Sint Petersburg is een van vyf hoofstasies in die Newametropool en bedien roetes na Moskou, soos sy naam aandui, en ander bestemmings in die Federasie
  • (en) Edward Acton: Rethinking the Russian Revolution. Oxford University Press 1990
  • (en) Edward Acton, Vladimir Cherniaev en William G. Rosenberg (reds.): A Critical Companion to the Russian Revolution, 1914–1921. Bloomington 1997
  • (en) John Barber: BBC HistoryStalin and the Betrayal of Leningrad
  • (en) Orlando Figes: A People's Tragedy: The Russian Revolution 1891–1924
  • (fr) Oleg Kobtzeff: "Espaces et cultures du Bassin de la Neva: représentations mythiques et réalités géopolitiques", in:Saint-Petersbourg: 1703–2003, Actes du Colloque international, Université de Nantes, Mai 2003, ouvrage coordonné par Walter Zidaric, CRINI, Nantes 2004
  • (ru) Р. А. Нежиховский: Река Нева и Невская губа. Leningrad: Гидрометеоиздат 1981
  • (en) Richard Pipes: The Russian Revolution. New York 1990
  • (en) Edvard Radzinsky: Stalin. The First In-depth Biography Based on Explosive New Documents from Russia's Secret Archives 1997
  • (en) John Reed: Ten Days that Shook the World. Eerste uitgawe 1919, uitgegee deur BONI & Liveright, Inc. vir International Publishers. Transkripsie en aanmerkings deur David Walters vir John Reed Internet Archive. Penguin Books, eerste uitgawe 1980
  • (de) Karl Schlögel: Petersburg. Das Laboratorium der Moderne 1909–1921. München en Berlyn: Carl Hanser 2002
  • (en) Voline: The Unknown Revolution. Black Rose Books
  • (en) Dmitri Volkogonov Stalin: Triumph and Tragedy 1996

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Wiki-webtuistes

Amptelike webtuistes

Algemene inligting

Media

Fotogalerye

Boukuns

59°57′N 30°18′O / 59.950°N 30.300°O / 59.950; 30.300