Gaan na inhoud

Tassin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Tassin is 'n belangrike manier om inligting te ontvang. Hierdie foto toon tasbare merke wat trappe vir gesiggestremde mense identifiseer.

'n Gevoeligheid vir aanraking met vaste voorwerpe (tassin) kom in die hele diereryk en by die mens voor. Net soos die gehoor- en ewewigsintuie, reageer die tassintuig ook op meganiese prikkels. Die tassintuig is by die hoër diere en die mens oor die hele liggaamsoppervlak versprei en is vir sowel uitwendige prikkels as vir impulse uit die liggaam self gevoelig.

Meestal is die hele liggaam gevoelig vir aanraking met vaste voorwerpe, uitgesonderd die dele wat deur ʼn uitwendige skelet bedek word. By 'n groot aantal diere kom spesiale tasorgane voor wat veral gevoelig is vir aanraking, byvoorbeeld die tentakels en antennae van verskillende ongewerwelde diere, asook die snoet van soogdiere met 'n vroetelende leefwyse, soos molle en varke. Soogdiere wat veral snags aktief is (katagtiges, knaagdiere), het gevoelige tashare (snorhare) rondom die oë en snoet, wat hulle daartoe in staat stel om in die donker voorwerpe op 'n afstand waar te neem.

By 'n aantal diere speel die tassin ook 'n belangrike rol by die oriëntasie van die liggaam. Die kontak met die bodem (grond) verskaf aan die dier inligting ten opsigte van sy posisie in die ruimte. Nagdiere skuil bedags en soek dan beskerming deur die grootste moontlike deel van hul vel met ʼn vaste voorwerp in aanraking le hou. So byvoorbeeld kruip akkedisse en slange in nou splete in rotse of onder klippe in. Organismes wat in vinnig vloeiende watermassas lewe, soos in riviere, draai hulle om wanneer hulle op die bodem kom, sodat hulle teen die stroomrigting kyk en nie deur die waterstroom meegevoer word nie.

In hoeverre tassin en pyngewaarwording met mekaar in verband staan, is nie bekend nie. Daar is nog baie min ondersoeke gedoen oor pynsin (behalwe by die mens). Tog kan daar aangeneem word dat die hoër werweldiere wel 'n deeglike pynsensasie kan ondervind.

Bou en werking

[wysig | wysig bron]

Die waarneming van 'n voorwerp deur aanraking berus op 'n plaaslike verandering (vervorming) in die huid. Dit word deur reseptore waargeneem en omgesit in 'n senuwee-impuls, wat na die sentrale senuweestelsel gelei word. Die mate van bewuswording hang af van die grootte van die vervorming, die snelheid waarmee dit plaasvind en die grootte van die oppervlak (dus die aantal reseptore) wat geprikkel word. By 'n ligte aanraking ontstaan slegs 'n aanrakingsgewaarwording; by sterker prikkeling ontstaan 'n drukgevoel wat uiteindelik met pyn gekombineer word.

Indien konstante druk uitgeoefen word, tree 'n mate van aanpassing na 'n sekere tyd in, sodat 'n mens na 'n tyd byvoorbeeld nie meer die dra van 'n ring, hoed of skoene bewustelik voel nie. Periodieke aanrakings wat mekaar vinnig opvolg, gee ʼn vibrasiesensasie. Deur hierdie verskille in gewaarwordinge kan ʼn mens inligting verkry omtrent die vorm, grootte, massa en struktuur van 'n prikkelende voorwerp. Op grond van hul werking word 2 tipes tassintuie onderskei.

Die eerste tipe tassintuig bly voortdurend impulse afgee aan die sentrale senuweestelsel so lank daar 'n prikkel is. Meestal is dit tassintuie wat inwendige prikkels registreer, soos die druksintuigies in die wand van bloedvate, wat die bloeddruk waarneem, of sintuie wat spierspanning meet. Oor die algemeen gaan dit om sintuie wat van belang is vir prosesse wat opeenvolgend en voortdurend gekontroleer moet word. By die tweede tipe sintuig verdwyn die senuwee-impuls vinnig (al bly die prikkeltoestand konstant). Hierdie stelsel reageer dus op vinnige veranderinge en is dus biologies van belang.

Op grond van hul uitwendige bou word die tassintuie verdeel in vrye senuwee-eindes, Merkel se selle, Meissner se liggaampies, Pacini se liggaampies en die senuwee-eindes rondom haarskedes. Eersgenoemde speel 'n belangrike rol by die waarneming van sensasies soos pyn en jeuk. Merkel se selle lê in die epidermis, kom meestal saam met die vrye senuwee-eindes voor en funksioneer moontlik as druksintuie. Meissner se liggaampies (drukreseptore) lê in die bindweefsel van die vel, veral op onbehaarde plekke soos handpalms en voetsole.

Hierdie reseptore is langwerpige, peervormige orgaantjies en is 40 tot 100 μ lank en 30 tot 60 μ in deursnee. Hierdie druksintuigies kom ook in die uitwendige dele van die geslagsorgane en in die tepels voor. Pacini se liggaampies kom by die hoër werweldiere en die mens voor. Hulle is ook drukreseptore, maar is groter as die vorige tipe, naamlik 1 tot 4 mm. Hulle lê onder die epidermis, maar kan ook verspreid in die liggaam voorkom, veral in die bindweefsel rondom die spiere, senuwees en gewrigte.

Die orgaantjies is eiervormig, opgebou uit 'n aantal konsentriese lae (lamellae) rondom die vrye uiteinde van ʼn sensoriese senuwee. Plaaslike druk veroorsaak 'n vervorming van die lamellae, waardeur senuweeimpulse ontstaan. Die liggaampies reageer sowel op prikkels vanuit die liggaam self as op uitwendige stimuli. Sowel die ongewerwelde as gewerwelde diere en die mens het ʼn goed ontwikkelde vermoë om die presiese plek van prikkeling te lokaliseer.

Die tasgevoeligheid of taktiele vermoë is groter namate die aantal taspunte per oppervlakeenheid groter is. Op die tong van die mens kom gemiddeld 200 taspunte per cm2 voor en op die vingerpunte 100 per cm2. Die kleinste afstand waarop 'n mens 2 prikkels wat tegelyk toegedien is, kan voel, bedra op die tong 1 mm, op die vingerpunte 2 mm en op die rugvel 6 tot 7 cm, wat beteken dat die taktiele oplossingsvermoë op die tong die grootste is.

Van die taktiele vermoë van die vingerpunte word byvoorbeeld deur blindes gebruik gemaak wanneer hulle brailleskrif lees. Organismes kan, afgesien van die sterkte van 'n prikkel, ook identifiseer tussen die aard van die prikkel. Die trilhaardiertjiie Stylonchia kan byvoorbeeld onderskei of 'n oppervlak ru of glad is. 'n Besondere tipe "gevoelsorgaan" kom in die epidermis van alle waterbewonende vertebrata voor en staan bekend as 'n sylynsintuig. Dit reageer op waterstromings (verandering in waterdruk) wat deur 'n bewegende voorwerp (soos 'n prooi, maat of predator) opgewek word.

Aangesien die sylynsintuig tydens embrionale ontwikkeling uit dieselfde plakode (heuweltjie van epidermisselle) ontstaan as die inwendige organe van gehoor en ewewig, word hulle nie onder die tassin geklassifiseer nie, maar wel onder die akoestikolaterale sisteem.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]