Gaan na inhoud

Titus Andronicus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Titus Andronicus, of The Most Lamentable Romaine Tragedie of Titus Andronicus is 'n vroeë tragedie in vyf bedrywe van William Shakespeare. Die toneelstuk is in die periode tussen 1589 en 1594 geskrywe, en die eerste gedrukte uitgawe het in 1594 verskyn.

Die historiese agtergrond en inhoud

[wysig | wysig bron]
Die titelbladsy van Titus Andronicus in die eerste kwarto-uitgawe van die jaar 1594

Die tipiese tragedie van die Elisabethaanse tydperk het gewoonlik historiese stof hanteer. Titus Andronicus speel hom af in die 4de eeuse Rome, maar sy verhaal en karakters is fiktief. Shakespeare is moontlik deur Seneca se antieke tragedies geïnspireer om hierdie toneelstuk te skryf; die Romeinse tragedies is gewoonlik in die pouses van gladiatore-wedstryde opgevoer en was dus gemik op bloeddorstige gehore.

Aangesien die stof van Titus Andronicus ook in die 18de eeuse versies van 'n ballade en 'n populêre boek voorkom, wat moontlik op vroeëre originele teruggaan, is dit nie duidelik of Shakespeare die sentrale motief self geskep het nie. Maar selfs al het Shakespeare die motief uit 'n vroeër werk oorgeneem, was hy tog die skepper van die toneelstuk. Terwyl die mees dramatiese elemente van Titus Andronicus ooreenkomste met Senecaanse toneelstukke toon, verwys die gees en styl waarin Shakespeare die stuk geskryf het na een van die gewildste werke van die klassieke antieke letterkunde, Ovidius Naso se Metamorfose en die verkragting van Philomela.

Wraak en weerwraak is die hoofmotiewe in Titus Andronicus. Tamora, koningin van die Gote, is deur die Romeinse generaal Titus Andronicus gevange geneem en wil nou wraak op hom neem vir die rituele moord op haar seun Alarbus. Toe haar ander seuns, Chiron en Demetrius, Titus se dogter Lavinia verkrag en vermink, het sy haar doel bereik.

Vergelding is nou ook hoog op Titus se agenda. Saturninus, die Romeinse keiser met wie Tamora getrou het, word deur haar Swart minnaar, die slaaf Aaron, belieg en glo dat die lewens van sy seuns gespaar sou word indien hy sy eie hand laat afsny.

Titus is al tot op die rand van waansin gepynig, maar hy slaag nogtans daarin om met sy broer Marcus en sy oorlewende seun Lucius spektakulêre wraak op Tamora en Saturninus te neem. Hy sny eers die kele van Tamora se seuns af, kook hulle vleis in 'n pastei, wat aan Tamora voorgesit word, vermoor sy dogter Lavinia sodat sy nie skande en skaamte moet dra nie en steek Tamora dood.

Die handeling versnel nou dramaties. Titus word deur Saturninus vermoor, en Lucius maak Saturninus dood. Lucius word die nuwe Romeinse keiser, begrawe saam met Marcus die dooies en straf Aaron.

Alhoewel die moorde en geweldpleging in Titus Andronicus vir moderne gehore 'n bietjie belaglik lyk (die stuk is al in die Victoriaanse tydperk nouliks opgevoer), slaag Shakespeare op 'n meesterlike manier daarin om uitdrukking te verleen aan leed en geweld wat hand uit ruk. Die geweldpleging en brutaliteit in Titus Andronicus kontrasteer met sy kunsvolle ryme.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Wells, Stanley en Taylor, Gary (uitgewers): The Complete Oxford Shakespeare. Boekdeel III: Tragedies. Oxford: Oxford University Press 1987