Gaan na inhoud

Weerwolf

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die illustrasie vir die verhaal "Die Weerwolf Tjank" in die tydskrif Weird Tales, November 1941.

’n Weerwolf is ’n mitologiese figuur wat veral in Europese volksverhale voorkom. Dit is ’n wese wat snags in ’n wolf verander en mense en diere verslind. Die gedaantewisseling is in sommige verhale vrywillig, en in ander teen die betrokkene se wil. Die weerwolf is die onderwerp van talle rilverhale en -rolprente.

Die geloof in weerwolwe kom oor die hele wêreld voor en nes met die vampier is die hedendaagse beeld grotendeels deur die vermaakbedryf geskep. In die meeste gevalle is weerwolwe in hul wolfgedaante woeste monsters wat diere, mense of lyke verskeur voordat hulle na hul menslike vorm terugkeer. Die transformasie van mens tot wolf vind in die meeste verhale plaas met volmaan, hoewel dit kan verskil. Hulle het gewoonlik bomenslike krag en sterk ontwikkelde sintuie. Daar word geglo weerwolwe verander ná hul dood in vampiere.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die mite van Lykaon.

Die woord "weerwolf" stam van die Oergermaanse *wera-wulfa. Wera beteken "man" en wulfa "wolf", dus beteken weerwolf "man-wolf".[1]

Een van die oudste bekende verhale is dié van Lykaon in die Griekse mitologie. Hy sou deur Zeus in ’n wolf verander gewees het nadat hy ’n maaltyd van mensvleis aan dié god voorgesit het. In een weergawe van die mite maak Lykaon sy seun, Nyktimos, dood en sit hom vir Zeus voor om te toets of Zeus so alwetend is dat hy kan agterkom dat dit mensvleis is wat hy eet. Plinius die ouere vertel[2] die verhaal van ’n man uit die familie van Antaeus wat na ’n meer in Arkadië gebring is, sy klere aan ’n boom gehang en oor die meer geswem het. Hy het in ’n wolf verander en nege jaar lank in dié gedaante rondgeswerf. As hy in dié tyd geen mens aangeval het nie, mag hy teruggeswem en weer sy mensegedaante aangeneem het.

Herodotus (IV, 105) vertel dat die Neuri, ’n stam uit Oos-Europa, jaarliks vir ’n paar dae in wolwe verander het en ook Vergilius (Eclogues, viii. 98) is vertroud met die transformasie van mens tot wolf.

Veral Frankryk het in die 16de eeu gebuk gegaan onder ’n "besmetting" van weerwolwe, soos die groot getal regsake getuig oor mense wat daarvan verdink is dat hulle weerwolwe was. In sommige gevalle is bewys gelewer van moord en kannibalisme, maar nie van ’n verbintenis met wolwe nie. In ander gevalle was daar bewys van die bestaan van ’n wolf sonder dat dit met die beskuldigde in verband gebring kon word. ’n Onverklaarbare verskynsel in al dié sake was die bereidwilligheid van die beskuldigdes om nie net te beken nie, maar ook besonderhede te verskaf oor die gedaantewisseling self.

In Pruise, Lyfland en Litoue het weerwolwe – volgens die biskoppe Claus Magnus en Majolus – in die 16de eeu baie meer skade aangerig as gewone, natuurlike wolwe. In Engeland, waar "hekse" nog aan die begin van die 17de eeu vervolg is tydens die bewind van Jakobus I, was die wolf al lank uitgesterf. Daarom kon die monarg self verklaar dat ’n weerwolf iemand was wat aan ’n waanbeeld gely het.[3] Daar is egter wel geglo hekse of towenaars kon hulself in onder meer hase en katte verander.

Weerwolwe in rolprente en ander media

[wysig | wysig bron]

Die hedendaagse beeld wat mense van weerwolwe het, is grootliks deur rolprente en onlangse verhale bepaal. Dié het verskeie eienskappe aan die weerwolf toegevoeg wat nie met die klassieke volksgeloof strook nie. Veral die prent The Wolf Man (1941) het baie daartoe bygedra. Weerwolwe word in flieks gebruik as die simbolisering van die dierlike in die mens, en dit maak dit ’n gewilde onderwerp.

Van die bekendste elemente wat deur die rolprentbedryf aan die weerwolf toegevoeg is, is:

  • Die idee dat die oorgang van mens na wolf nie vrywillig sou plaasvind nie, maar op vasgestelde tye (veral tydens volmaan). In die oorspronklike verhale kon ’n mens elke nag in ’n weerwolf verander, hoewel die kragte tydens volmaan sterker was.
  • Dat weerwolwe nie bestand is teen silwer nie. Hulle kan dus net met ’n silwerwapen (of silwerkoeël) doodgemaak word. Gewone wapens het geen trefkrag nie.
  • Dat mense wat deur weerwolwe gebyt is en oorleef het, self in ’n weerwolf verander.

Weerwolfswaansin as ’n mediese toestand

[wysig | wysig bron]

Sommige moderne navorsers het probeer om die verslae van weerwolfgedrag aan die hand van erkende mediese toestande te verklaar. Dr. Lee Illis van Guy's Hospital in Londen het in 1963 in die verslag On Porphyria and the Aetiology of Werewolves geskryf die historiese weergawes van weerwolwe kon verwys het na die slagoffers van oorgeërfde porfirie. Hy het verduidelik hoe die simptome van ligsensitiwiteit, rooierige tande en psigose gronde kon gewees het vir die beskuldiging dat ’n lyer ’n weerwolf is.[4] Ian Woodward stem egter nie saam nie en wys daarop dat mitologiese weerwolwe uitgebeeld is as ware wolwe en dat hul menslike vorm selde ooreengestem het met die voorkoms van porfirielyers.[5]

Ander het gereken historiese weerwolwe kon lyers gewees het aan hipertrigose, ’n oorerflike toestand wat ’n oormaat haargroei tot gevolg het. Woodward het egter die moontlikheid verwerp omdat dié siekte so seldsaam is terwyl weerwolfgevalle algemeen in die Middeleeuse Europa was.[5] Ook lyers aan Drownsindroom is al genoem as die bron van verhale oor weerwolwe.[6]

Woodward het hondsdolheid voorgestel as die bron en gereken daar is ’n groot ooreenkoms tussen die simptome van dié siekte en sommige van die legendes. Hy het gefokus op die idee dat ’n mens in ’n weerwolf kan verander as jy deur een gebyt is, wat dui op ’n aansteeklike siekte soos hondsdolheid.[5] Die idee dat weerwolfswaansin op dié manier oorgedra kan word, is egter nie deel van die oorspronklike mites nie en het eers in onlangse tye kop uitgesteek.

Weerwolfswaansin kan ook beskou word as ’n delusie, soos die geval was met die vrou wat gesê het sy word tydens toevalle van akute psigose vier verskillende soorte diere.[7]

In Afrikaans

[wysig | wysig bron]

Een van die vroegste verhale in Afrikaans is die vertaling uit Petronius se werk, die Satyricon (omstreeks 66 n.C.), hoofstuk 61, deur T.J. Haarhoff, in sy bundel, Die kortverhaal van die Grieke en Romeine II (1935):[8]

Trimalchio kyk vir Niceros en sê: "Jy was altyd geselliger by ons partytjies as vanaand: nou sit jy oor iets te broei en brom. Maak my nou gelukkig, ek smeek jou, en vertel wat jou wedervaar het."

Niceros was verheug oor die gemoedelikheid van sy vriend en sê: "Mag ek nooit weer 'n oulap wins maak nie, as ek nie al lank verruk is van vreugde om jou in so 'n stemming te sien nie. Nou ja dan, net vir die grap - ofskoon ek vrees daardie geleerde mense sal my uitlag. Ek gee nie om nie: watter kwaad kan uitlag my doen? Dis beter om uitgelag as om publiek bespot te word."

So spreek die held en so is sy verhaal.

"Toe ek nog 'n slaaf was, het ons in 'n nou straatjie gewoon, waar die huis van Gavilla nou is. Daar, soos die gode gewil het, raak ek verlief op die vrou van Terentius die hotelhouer: julle het haar geken, Melissa van Tarentum, 'n mooi ronde dingetjie. Maar dit was nie haar uiterlike skoonheid waarop ek verlief was nie, dit was haar edele karakter. Alles wat ek gevra het, wou sy my gee. As sy 'n oulap maak, kry ek 'n stuiwer. Alles wat ek verdien, het ek in haar sak gesteek en sy het my nooit bedrieg nie.

Eendag sterf haar man op die landgoed van sy baas. En ek het gewerskaf en prakseer hoe om haar op een of ander manier te bereik. Soos julle weet, daag vriende op in tyd van nood. My baas moes toevallig na Capua om sy ou sakies in orde te bring, en ek gryp die kans en vra 'n gas in ons huis om saam met my tot by die vyfde mylklip te gaan. Hy was 'n soldaat, - so dapper soos die hel. Teen hanegekraai trap ons twee: die maan skyn soos middag. Die pad lei tussen grafstene deur, en my maat gaan na die stene toe, terwyl ek liedjies sit en sing en die graftombes tel.

Toe ek omkyk, het my vriend hom uitgetrek en al sy klere langs die pad neergesit. My hart was in my mond, ek staan daar soos 'n dooie man. Die vent maak 'n waterkring om sy klere en verander skielik in 'n wolf.[lower-alpha 1] Moenie dink dat ek die gek skeer nie; g'n geld in die wêreld sou my oor hierdie saak laat lieg nie. Soos ek sê, hy verander in 'n wolf en loop huilend die bosse in. Eers het ek skaars geweet waar ek was; ek loop na sy klere toe, maar hulle het in 'n klip verander. Ek was so amper morsdood van skrik. Maar ek trek my swaard en veg met die skaduwees die hele pad tot ek die huis van my geliefde bereik. Ek het soos 'n spook binnegegaan en byna die gees uitgeblaas: die sweet loop by my bene af, my oë was dof, ek kon skaars weer bykom.

My liewe Melissa was verwonderd dat ek so laat uit was en sê: "As jy nou eerder gekom het, kon jy ons ten minste gehelp het: 'n wolf het op ons landgoed gekom en al ons skape aangepak en soos 'n slagter hul bloed laat vloei. Maar die lag was nie heeltemal aan sy kant nie, al het hy ontsnap: want ons slaaf het hom met 'n speer in die nek gewond."

Nadat ek dit gehoor het, kon ek nie rus nie, maar met dagbreek loop ek na die huis van my baas Gaius, haastig soos 'n besteelde hotelhouer, en toe ek by die plek kom waar die versteende klere gewees het, kry ek niks behalwe 'n dammetjie bloed nie.

Maar toe ek by die huis kom, lê my soldaat soos 'n gevelde os daar in sy bed, en die dokter verbind sy nek.

Toe verstaan ek dat hy 'n weerwolf was, en daarna kon ek nooit meer met hom aan tafel sit nie, al slaan jy my dood.

Ander mense kan hieroor dink wat hulle wil; maar mag al julle beskermgeeste 'n wrok teen my koester as ek lieg."

Ons was almal stom van verbasing, maar Trimalchio sê: "Ek wil jou storie aanneem. Glo my, die hare het penorent op my kop gestaan: want ek weet Niceros vertel nooit onsin nie."

Notas

[wysig | wysig bron]
  1. Die oorspronklike teks lui: At ille circumminxit vestimenta sua, et subito lupus factus est. Hier is "circumminxit" opgebou uit circum- (rondom) en minxit ("hy het gepiepie" - voltooide verlede tyd, derde persoon enkelvoud), dus, om rondom die klere klaar te gepiepie het.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. http://www.etymologie.nl/
  2. Hist. Nat. viii. 22
  3. James I: Demonologie, lib. iii.
  4. Illis, L (Januarie 1964). "On Porphyria and the Ætiology of Werwolves". Proc R Soc Med. 57 (1): 23–6. PMC 1897308. PMID 14114172.
  5. 5,0 5,1 5,2 Woodward, Ian (1979). The Werewolf Delusion. Paddington Press. ISBN 0-448-23170-0.
  6. Lopez, Barry (1978). Of Wolves and Men. New York: Scribner Classics. ISBN 0-7432-4936-4. OCLC 54857556.
  7. Dening T R & West A (1989) Multiple serial lycanthropy. Psychopathology 22: 344-347
  8. Haarhoff, T.J. 1935. Die Weerwolf. In: Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine. Tweede reeks. Pretoria: J.H. de Bussy. bl. 149-152

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]