Frederik Van Zyl Slabbert

(Aangestuur vanaf Frederik van Zyl Slabbert)
Hierdie artikel bevat nie ’n bronnelys nie, wat beteken dat die inhoud nie geverifieer kan word nie.
Enige bevraagtekende inligting mag dus ook mettertyd verwyder word. Help Wikipedia deur betroubare bronne tot die artikel by te voeg.

Frederik Van Zyl Slabbert (2 Maart 194014 Mei 2010) was 'n Suid-Afrikaanse politieke ontleder, sakeman, skrywer, akademikus en voormalige leier van die amptelike opposisie, die Progressiewe Federale Party, in die Volksraad van 1979 tot 1986.

Frederik Van Zyl Slabbert

Ampstermyn
1979 – 1986
Voorafgegaan deur Colin Eglin
Opgevolg deur Colin Eglin

Persoonlike besonderhede
Gebore 2 Maart 1940
Pretoria, Transvaal
Sterf 14 Mei 2010
Johannesburg, Gauteng, Suid-Afrika
Politieke party Progressiewe Federale Party
Alma mater Universiteit Stellenbosch

Hy is in Pretoria gebore en het grootgeword in die huidige provinsie Limpopo. In 1958 matrikuleer hy aan die Afrikaanse Hoërskool Pietersburg in die teenswoordige Polokwane. Na skool studeer hy 'n jaar lank aan die Universiteit van die Witwatersrand en verskuif daarna na die Universiteit Stellenbosch, waar hy onder meer aan die Kweekskool studeer, maar uiteindelik die grade B.A. in 1961, Honneurs (met lof) in 1962, 'n meestersgraad (met lof) in 1964 en 'n doktorsgraad in die filosofie in 1967 verwerf.

Na hy afstudeer, sluit hy hom agtereenvolgens aan as lektor in sosiologie aan by die Universiteit Stellenbosch, Rhodes-universiteit, Universiteit van Kaapstad en Universiteit van die Witwatersrand, waar hy in 1973 as hoogleraar aangestel word.

In 1974 betree hy die politiek as kandidaat vir die Progressiewe Party in die kiesafdeling Rondebosch. Hoewel sy kanse as uiters gering beskou is, klop hy in die algemene verkiesing op 24 April 1974 die kandidaat van die Verenigde Party met meer as 1 600 stemme en sluit hom aan by Helen Suzman, Colin Eglin en drie ander PP-parlementslede.

Nadat die Verenigde Party in 1977 ontbind het , kry die Progressiewe Reformiste Party die naas meeste setels in die algemene verkiesing op 30 November en word met sy 19 parlementslede die Amptelike Opposisie. Nadat Colin Eglin as leier van die PFP bedank, volg Slabbert hom op 3 September 1979 op en word terselfdertyd leier van die Amptelike Opposisie.

Die PFP het vroeg in 1986 'n groot terugslag beleef met Slabbert se bedanking. Hy bedank terselfdertyd as LV vir Claremont. Hy het aangevoer hy het ontnugter geraak met die regering se opvatting van wat beskou kon word as ware hervorming, terwyl hy ook die Parlement se voortgesette relevansie in die oplossing van Suid-Afrika se politieke probleme bevraagteken het. 'n Paar dae later het dr. Alex Boraine, LV vir Pinelands, ook bedank. As stigters van die Institute for Democratic Alternatives in South Africa (IDASA) was hulle aan die voorpunt van die ontmoeting van 50 vooraanstaande Suid-Afrikaners in die Dakar-beraad, Dakar, Senegal, met leiers van die African National Congress op 1 Julie 1987.

Slabbert het nooit weer aktief by die politiek betrokke geraak nie, maar was in 1990 mede-stigter van 'n swart beleggingstrust, Khula. In 1998 word hy aangestel as voorsitter van Adcorp Holdings en het ook in die direksie van talle genoteerde maatskappye, onder meer Wooltru, Investec en Radiospoor, gedien. In 2004 is hy aangewys as die 82e mees invloedryke Suid-Afrikaner tydens SABC3 se program om die honderd belangrikste Suid-Afrikaners te kies.

Hy was redakteur en medeskrywer van talle boeke. Sy laaste boek verskyn in 2006 gelyktydig in Afrikaans en Engels, met die Afrikaanse titel Duskant die geskiedenis. Hy tree in 2009 uit as kanselier van die Universiteit Stellenbosch weens gesondheidsprobleme.

Slabbert sterf na hy uit die hospitaal ontslaan is tuis in Johannesburg aan 'n lewerkwaal.