Gaan na inhoud

Die Suiderstem

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Unie-Volkspers Beperk se gebou in Buitengracht, tussen Langmark- en Kerkstraat, Kaapstad.
Die boonste helfte van die voorblad van Die Suiderstem van 14 April 1949. Die foto is dié van Harm Oost, wat die Afrikanerparty se standpunt oor die Kleurlingstemregvraagstuk gestel het nadat Die Burger verkeerdelik berig het die A.P. was ten gunste van die verwydering van Kleurlinge van die algemene kieserslys.
Genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts omstreeks 1939 buite die parlement in Kaapstad. Hulle samewerking vanaf 1934 het 'n Afrikaanse koerant in Kaapland wat die regering goed gesind was, noodsaaklik gemaak.
Henry Fagan was in 1936 betrokke by die oprigting van Die Suiderstem.

Die Suiderstem was 'n Kaapstadse middagblad en lyfblad van die Verenigde Party van 1936 tot 1949.

Ontstaan

[wysig | wysig bron]

In 1932 het twee koerante wat die indertydse Suid-Afrikaanse Party goedgesind was, De Zuid-Afrikaan vereenigd met Ons Land (algemeen bekend as Ons Land) en De Goede Hoop, saam met hulle uitgewer, Van de Sandt de Villiers en Kie., van die toneel verdwyn en so die regerende party, wat in 1934 saam met die Nasionale Party die Verenigde Party geword het, sonder 'n Kaapse lyfblad gelaat. Die enigste Afrikaanse dagblad in Kaapstad was toe Die Burger, 'n vurige ondersteuner van die Gesuiwerde Nasionale Party. In 1936 rig regeringsondersteuners die Unie-Volkspers Beperk in Kaapstad op en die maatskappy se nuwe middagblad, Die Suiderstem maak sy buiging op 8 Oktober 1936 as ondersteuner van die V.P.

Die Suiderstem is aanvanklik deur die Cape Times gedruk. Hieroor het Die Burger op 12 Oktober 1936 geskryf: "Nadat die mantel van Ons Land 'n hele aantal jare ongebruik rondgelê het, is dit gedurende die afgelope week deur 'n nuwe Afrikaanse koerant opgetel. Die S.A.P.-Unioniste Cape Argus en Cape Times het nou 'n bondgenoot in Kaapstad bygekry in hul stryd teen die Nasionale Party en in hul verdediging van die Smelterregering." Later is 'n eie pers aan Riebeeckplein opgerig. Mettertyd kom 'n Afrikaanse weekblad, Naweek, tot stand onder redakteurskap van E.B. Grosskopf, 'n pionierjoernalis van die Nasionale Pers.

In Port Elizabeth is Blaar Coetzee aangestel as redakteur van die V.P. se halfweeklikse Afrikaanse blad, Ons Land. Die koerant is einde Oktober 1939 gestig. Die eerste redakteur van Die Suiderstem was dr. C.J.S. Strydom, wat deur Abraham Jonker vervang is toe hy lid van Unie-Volkspers se direksie geword het. Uys Krige, skrywer en digter, was die letterkunderedakteur.

Uitbreiding

[wysig | wysig bron]

Gou is 'n groot kapitaal van £100 000 byeen gebring. Die Unie-Volkspers het takke opgerig in Port Elizabeth, Bloemfontein, Johannesburg en op Vereeniging, Pietersburg, Standerton, Volksrust en elders in die Transvaal, asook in Suidwes-Afrika in Windhoek, waar die Die Suidwes-Afrikaner lang jare die V.P. se lyfblad was in kompetisie met die Nasionale Party se Suidwester. Van die skrywers wat in die jare 40 boeke by die Unie-Volkspers laat uitgee het, was onder meer Freda Linde, Uys Krige, E.B. Grosskopf, I.D. du Plessis en A.H. Jonker. Die maatskappy het ook sy eie boekwinkel opgerig.

Die Burger en Die Suiderstem het eers redelik beleefd teenoor mekaar opgetree, maar met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en die bedanking van genl. J.B.M. Hertzog, het oorlog ook tussen die twee koerante uitgebreek. Die Suiderstem het die oorlogsverklaring teen Duitsland heelhartig ondersteun, terwyl Die Burger neutraliteit bepleit het.

Verdwyning

[wysig | wysig bron]

Die ondergang van die V.P. se partypolitieke blaaie het gou op die skokkende nederlaag in die verkiesing van 1948 gevolg. Waar die Unie-Volkspers se omset in sommige jare £350 000 beloop het, was sy skuld teen 1949 sowat £500 000. Die maatskappy se voorsitter, sen. A.M. Conroy, het sir De Villiers Graaff persoonlik genader om dit te delg, maar hy het geweier. Die maatskappy is uiteindelik gelikwideer en die Nasionale Pers het in 1951 besondere winskope gemaak met sy tender vir 'n rolpers en ander perstoerusting.

Die verdwyning van Die Suiderstem het beteken dat sedert 1950, toe Die Volkstem in Johannesburg gesluit het, daar nêrens in Suid-Afrika twee Afrikaanse dagblaaie in dieselfde stad uitgegee is wat verskillende politieke partye ondersteun het nie. Trouens, van daardie datum af tot ongeveer 1994 het alle Afrikaanse dagblaaie die Nasionale Party ondersteun. Tans bestaan die situasie dat alle Afrikaanse dagblaaie in Suid-Afrika aan een mediagroep (Naspers) behoort. Die enigste Afrikaanse dagblad enige plek ter wêreld wat nie geheel en al aan Naspers behoort nie, is die Republikein in Windhoek, waarin Naspers in September 2007 'n 50%-aandeel gekoop het.

'n Advertensie in die 1937-jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring vir "Op ons taalakker" in Die Suiderstem.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (af) Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]