Gerbrechta van Biljon
Gerbrechta Sophia (Gebrechtje of Breggie) van Biljon (gebore Smit, distrik Cradock, Kaapkolonie, 4 November 1829 – datum en plek onbekend) was een van die eerste lidmate van die Gereformeerde Kerk en die laaste skoonmoeder van dié kerkverband se eerste predikant, ds. Dirk Postma.
Breggie Smit se vader was Jacobus Petrus Erasmus Smit, gebore op 26 Januarie 1800 op die plaas Brakrivier, distrik Cradock, en oorlede op 30 November 1848. Uit sy eerste huwelik, met Martha Gerbrechta Sophia de Klerk, gebore op 3 Mei 1810, is vyf kinders gebore, van wie Breggie die oudste was. Breggie Smit was getroud met Willem Johannes van Biljon, gebore op 17 Maart 1825 op of by Cradock. Breggie en Willem van Biljon se jongste kind, Johanna (1854–1901), is op 20 Desember 1869 op 14-jarige leeftyd in die eg verbind met die 51-jarige ds. Dirk Postma, wat toe maar twee maande en 17 dae vir die vierde keer ’n wewenaar was.
Deur haar jongste kind se huwelik was Breggie die ouma van drie predikantsvroue en een predikant: Brechtje van Rooy, gebore op 26 Maart 1871, was die eggenote van ds. J.A. (Koos) van Rooy. Breggie se dogter se derde kind en enigste seun wat grootgeword het, ds. Willem Postma, het bekend geword as die skrywer Dr. O'Kulis. Willem se suster Laurika was prof. J.A. du Plessis se eerste vrou en Aletta sy tweede. Maria, die jongste van al Breggie se skoonseun se 20 kinders, was getroud met die geliefde digter en Psalmberymer Totius.
Breggie en haar man het geboer op die plaas Hoedklip in die distrik Burgersdorp. Hulle het nie oorspronklik behoort tot die streng ortodokse Doppers wat ook teen die sing van gesange gekant was nie, maar deur ’n diep en grondige ondersoek van die Skrif en die saligmakende waarhede van die Woord kon hulle hulle nie verenig met wat hulle en hul geesgenote as "liberale nuwighede" bestempel het nie. Hulle het die NG Kerk dan ook reeds enkele jare voor die afskeiding van 1859 verlaat en toe hulle verneem dat ds. Postma uit Transvaal in die Vrystaat (omstreeks April daardie jaar) aangekom het, het hulle daarheen gereis en aangesluit met die stigting van die Gereformeerde kerk Reddersburg op 12 Mei. Willem van Biljon het die gemeente Burgersdorp eers as diaken en toe as ouderling gedien en dit verteenwoordig op die eerste algemene sinode, dié op Reddersburg. Hy het ook deelgeneem aan die Grensoorlog van 1874.
Breggie en Willem het drie dogters en drie seuns gehad. Een van dié seuns, Stefanus J.P. van Biljon, is in 1860 gebore en was getroud met Hester Pretorius. Hy was ook 'n Burgersdorpse diaken, maar is oorlede in die ouderdom van 37. Sy plaas was Wonderboom, waar hy grootgeword en later geboer het. Oor dié plaas het Marie du Toit, kleindogter van Willem en Breggie van Biljon, in 1959 geskryf: "Op die plaas Wonderboom het ons baie aangename vakansies by my grootouers, ouderling W. van Biljon en sy eggenote, deurgebring." S.J.P. van Biljon het vier seuns en twee dogters gehad. Sy seun Willem van Biljon is in 1889 gebore en was getroud met Catharina Styger (dus moontlik familie van die aktrise Paula Styger. Hulle het op die plaas Winnaarsbaken in die distrik Burgersdorp gewoon. Hy het 24 jaar met tussenposes as ouderling in Burgersdorp se Gereformeerde kerkraad gedien en ook in kommissies en op meerdere vergaderings. Vyf dogters is uit dié huwelik gebore.
Van Breggie van Biljon het ds. L.J. du Plessis in die Gereformeerde Kerk se 50-jarige gedenkboek van 1909 geskryf: "Die ou moeder Van Biljon was ’n lig in haar huislike en kerklike lewe. Sonder ophef, maar in stilte het sy deur woord en daad getuig en was haar geloof ook ander tot seën." (Die oorspronklike Nederlands: "Zonder ophef, maar in stilte getuigde zij van het licht der genade dat in haar was en ongemerkt dan ook naar buiten, in woord en daad zich openbaart, haar eigen huis en anderen ten zegen."[1]
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Die Gereformeerde Vroueblad. 1959. Die Gereformeerde vrou 1859-1959. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.
- (nl) Du Plessis, ds. L.J. in Cachet, prof. Jan Lion. 1909. Gedenkboek van het 50-jarig bestaan der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika A.D. 1859–1909. Potchefstroom: A.H. Koopmans.
- (en) Haar genealogiese besonderhede op die webtuiste geni.com. URL besoek op 3 Oktober 2016.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (nl) Du Plessis, ds. L.J. in Lion Cachet, prof. J. 1909. Gedenkboek van het 50-jarig bestaan der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika A.D. 1859–1909. Potchefstroom A.H. Koopmans.