Gaan na inhoud

Intracoastal Waterway

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
In Pamlico County, Noord-Carolina, word die Intracoastal Waterway deur die Hobucken-brug oorspan. Die brug maak deel uit van die staatsroetes 33 en 304
Die Dismal Swamp Canal in die Great Dismal Swamp-streek van Noord-Carolina en Virginië is die oudste mensgemaakte kanaal in die Verenigde State wat steeds in gebruik is
Die Wando Welch-houerterminaal, Charleston, Suid-Carolina
'n Houerskip verlaat die Charleston-seehawe
Die waterweg is op verskeie plekke oorbrug. Die foto wys die Gordon Persons-brug oor Dauphin-eiland en die waterweg in Mobile, Alabama
Naby New Orleans kruis die Intracoastal Waterway die Bayou Perot (aan die foto se linkerkant; regs vlei die Bayou die Salvadormeer (Lake Salvador) binne
Die waterweg in die suide van Texas, afgeneem deur bemanningslede van die INternasionale Ruimtestasie ISS

Die Intracoastal Waterway (ICW) is 'n waterweg langs die Atlantiese Ooskus van die Verenigde State. Die waterweg, wat volgens 'n besluit van die Amerikaanse Kongres vanaf 1919 gebou en in 1940 voltooi is, het 'n lengte van 3 000 myl (4 800 km) en verbind Boston in Massachusetts as Atlantic Intracoastal Waterway met Key West in Florida. Dit strek as Gulf Intracoastal Waterway vanaf Appalachee in Florida verder weswaarts tot Brownsville in Texas. Die ICW word deur die U.S. Army Corps of Engineers onderhou. Die onderhoud vereis dat dele van die waterweg gereeld uitgebagger word om die vereiste dieptegang vir watervoertuie van twaalf voet te verseker.

Enkele seksies van die waterweg bestaan uit natuurlike inhamme, soutwaterriviere, baaie en seestrate, ander dele daarvan is as kanale aangelê. Die waterweg bied 'n veilig bevaarbare roete waarlangs bote en skepe en hul bemannings nie aan die gevare van die oop see blootgestel is nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die waterweg 'n uiters belangrike roete vir die vervoer van militêre vragte omrede dit buite die operasiegebied van vyandelike duikbote was.

Die waterweg is tolvry vir privaat plesierbote; vir kommersiële watervoertuie moet brandstofbelasting betaal word. Die waterweg se besigste gedeelte is langs die nywerheidsgebiede van Norfolk in Virginië geleë.

America's Great Loop

[wysig | wysig bron]

Saam met die Mississippirivier, wat rivierop bevaar word, en die Groot Mere maak die Intracoastal Waterway deel uit van die sirkelroete America's Great Loop, 'n skeepsroete oor 'n lengte van 6 000 myl (9 400 kilometer) met die seehawens van die Ooskus as eindpunt. Die roete loop langs sommige van Noord-Amerika se historiese kanale, waaronder die Erie Canal, die Champlain Canal, die Rideau Waterway en die Trent-Severn Waterway. Bootuitstappies na albei Noord-Amerikaanse hoofstede, Washington, DC en Ottawa, kan langs die roete geniet word.

Alhoewel daar in 2015 amptelik sowat 15 miljoen bote in die Verenigde State en Kanada geregistreer was, het tot dusver minder as 1 500 bote America's Great Loop in sy volle lengte bevaar.[1] Bootseienaars (Loopers), wat die sirkelroete bemeester het ('n prestasie wat in Engels as crossing the wake beskryf word), hys 'n goue driehoekvlag.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Captain George and Patricia Hospodar: The Great Loop Experience from Concept to Completion. Ocala, FL: Atlantic Publishing Group 2015, bl. 16

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Amptelike webtuistes

Kaart van America's Great Loop