Gaan na inhoud

Karl Marx

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Karl Heinrich Marx
Karl Marx in 1875

Gebore 5 Mei 1818
Trier, Koninkryk Pruise, Duitse Bond
Oorlede 14 Maart 1883 (op 64)
Londen, Engeland
Blyplek Duitsland, Frankryk, België, Verenigde Koninkryk
Nasionaliteit Duits
Vakgebied Politiek, ekonomie, filosofie, sosiologie, arbeid, geskiedenis, klassestryd, natuurwetenskap, historikus
Alma mater Universiteit van Bonn
Universiteit van Berlyn
Universiteit van Jena
Doktorale promotor(s) Filosofie
Bekend vir Manifest der Kommunistischen Partei (met Friedrich Engels), Das Kapital, Der achtzehnte Brumaire des Louis Bonaparte, Die Deutsche Ideologie
Beïnvloed deur Hegel, Feuerbach, Spinoza, Proudhon, Stirner, Smith, Voltaire, Ricardo, Vico, Robespierre, Rousseau, Shakespeare, Goethe, Helvétius, d'Holbach, Liebig, Darwin, Fourier, Robert Owen, Hess, Guizot, Pecqueur, Aristoteles, Epikuris
Handtekening

Karl Heinrich Marx (Trier, 5 Mei 1818Londen, 14 Maart 1883) was 'n Duitse denker wat 'n belangrike invloed gehad op die (politieke) filosofie, die ekonomie en die sosiologie. Hy was een van die grondleggers van die arbeidersbeweging. Das Kapital word meestal as sy belangrikste werk beskou. Marxisme word op dié werk sowel as die denke van Karl Marx (en Friedrich Engels) gebaseer.

Jeug en studentetyd

[wysig | wysig bron]

Karl Marx word gebore in Duitsland, as seun van Heinrich Marx (1782–1838) en Henriette Preszburg (oorlede 1863). Sy ouers was oorspronklik Jode en stam beide uit 'n rabbiegeslag – Heinrich Marx heet oorspronklik Hirschel Mardochai – maar hy word 'n Lutherse Protestant nadat hy in 1815 na Trier verhuis het. Dit was moelik vir Heinrich om in Pruise as Jood sy werk as advokaat te bly beoefen. Karl word groot in 'n gematigde liberale gesin, wat 'n sekere vlak van welstand handhaaf, maar nie werklik ryk was nie.

Sy geboortehuis is sedert 5 Mei 1968 as 'n museum ingerig: die Karl Marx-huis huisves 'n permanente tentoonstelling, gewyd aan die lewe en werk van Karl Marx.

Karl voltooi die hoërskool in Trier in 1835. Die opstel wat hy vir 'n eksamen geskyf het naamlik "Beskouing van 'n jongeling oor die keuse van 'n beroep" het bewaar gebly.

In Oktober 1835 gaan Marx regte studeer in Bonn. Daar kom van die studie nie veel tereg nie omdat hy meer tyd bestee aan die studentelewe. Na 'n jaar besluit Karl se vader dat dit beter vir hom is om in Berlyn te gaan studeer. Ondertussen raak Karl (aanvanklik in die geheim) aan Jenny von Westphalen verloof. In Berlyn kry die jong Marx meer belangstelling vir intellektuele sake, en verruil hy die studie van regte met die van filosofie. Hy verdiep homself in die ideë van Immanuel Kant en Johann Gottlieb Fichte, maar hy kom veral baie sterk onder die invloed van Georg Hegel. Hegel self is in 1831 oorlede, maar sy filosofie oorheers denke aan die universiteit na sy dood nog sterker as tydens sy lewe. Onder sy volgelinge het verskillende strominge posgevat. Sommige is baie konserwatief (die Hegeliaanse filosofie geld in die tyd as die Pruisiese staatsfilosofie), maar daar is ook linkse interpretasies. Aan die laasgenoede stroming bekend as die jong-Hegeliane, voel Marx homself verbonde soos ook Bruno Bauer en Arnold Ruge. Hulle is veral krities wat betref godsdiens.

Marx besluit om nie sy studies in Berlyn voort te sit nie omdat hy verwag het dat sy proefskrif weens sy reputasie as 'n jong-Hegeliaan nie positief ontvang sou word nie. Marx gaan na die Universiteit van Jena en behaal daar in 1841 sy graad met 'n proefskrif oor "Die verskil tussen die natuurfilosofie van Democritus en die van Epikurus". Na die beëindiging van sy studie verhuis Marx na Bonn. Hy hoop om daar 'n aanstelling as universiteitsdosent te kry. In die konserwatiewe Bonn kry hy dit nie reg nie en word Marx 'n joernalis.

1842–1843: Keulen, die Rheinische Zeitung

[wysig | wysig bron]

Die Rheinische Zeitung (Rynlandse koerant) was 'n "radikaal-demokratiese" koerant wat vanaf 1 Januarie 1842 in Keulen uitgegee word. Marx en Bruno Bauer word medewerkers van die blad, en in Oktober 1842 word Marx hoofredakteur. Die koerant ontwikkel homself tot 'n spreekbuis vir jong besigheidsmense, bankiers en industrialiste. Marx verhuis na Keulen. Die koerant word meer uitgesproke. Terwyl die oplaag aansienlik styg, word sensuur egter ook strenger. Op 1 Januarie 1843 word die koerant verbied. Marx publiseer o.a. oor persvryheid, die wette insake houtdiefstal en oor die armoede van die wynboere in die Moesel-streek.

19 Junie 1843 trou Jenny von Westphalen en Karl Marx, nadat hulle mekaar al vanaf hul jeug ken en sewe jaar verloof was. Die huwelik vind plaas in Kreuznach, waar hulle ook enkele maande bly woon.

Intussen het Marx kennisgemaak met die werk van Ludwig Feuerbach. Veral Feuerbach se "Die wese van die Christendom" (gepubliseer in 1841) het bygedra tot die ontwikkeling van die materialistiese vertrekpunt van Marx.

1843–1844: Parys, die Deutsch-Französische Jahrbücher

[wysig | wysig bron]

Marx word gevra om as redakteur van die Deutsch-Französische Jahrbücher (Duits-Franse Jaarboek) te dien. Hiervoor trek hy na Parys in die herfs van 1843.

Van dié jaarboek sal slegs één (dubbel-)uitgawe gepubliseer word, in Februarie 1844. In die publikasie is twee artikels van Marx:

  • Kritiek op Hegel se regssfilosofie: Inleiding.
  • Die vraagstuk van die Jode (Zur Judenfrage),'n Bespreking van twee artikels van Bruno Bauer oor die vraagstuk van die Jode.

Ook twee van Friedrich Engels se artikels word in die Duits-Franse Jaarboek gepubliseer:

  • Skets van 'n Kritiek op die Politieke Ekonomie (Umrisse zu einer Kritik der Nationalökonomie)
  • Bespreking van Thomas Carlyle se "Verlede en hede".

Tenslotte bevat die Jaarboek ook 'n aantal briewe van Marx.

Die lewenslange saamenwerking tussen Karl Marx en Friedrich Engels het in die Jaarboek vir het eerste keer vorm aangeneem. Hulle het mekaar in 1842 ontmoet, maar die kennismaking het net oppervlakkig gebly. Die "Skets" het Marx se belangstelling in die klassieke politieke ekonomie aangewakker. Marx werk tussen April en Augustus 1844 aan sy (nooit voltooide) Economisch-filosofische Manuscripten (ook wel genoem: die Paryse Manuskripte). Dié word vir die eerste keer in 1932 gepubliseer.

Tydens sy verblyf in Parys maak Marx kennis met verskeie Franse sosialiste. Die aktiwiteite en publikaties van Marx bly nie onopgemerk nie. Die Pruisiese regering formuleer aanklagte van hoogverraad teen hom en vra die Franse regering om hom uit te lewer.

1845–1847: Brussel, die Kommunistiese Manifes

[wysig | wysig bron]

Begin 1845 vertrek Marx na Brussel. Hy doen afstand van sy Pruisiese staatsburgerskap. Die eerste gesamenlike werk tussen Marx en Engels verskyn in Februarie 1845: Die Heilige Familie, 'n kritiek op Bruno Bauer. In dieselfde jaar begin hulle met die skyf van Die Duitse Ideologie – 'n kritiek op Feuerbach, Bruno Bauer en Max Stirner –, met daarin opgeneem die beroemde Stellinge oor Feuerbach. 'n Uitgewer word nie aanvanklik hiervoor gevind nie. Die eerste volledige publikasie dateer uit 1932.

In 1847 verskyn "Die armoede van die filosofie", 'n kritiek op "Die filosofie van die armoede" deur Pierre-Joseph Proudhon. Anders as wat die titel voorstel is die veral 'n ekonomiese uiteensetting, waarin die waardeteorie breedvoerig aan die orde kom. Die arbeids(ver-)deling word bespreek en kompetisie.

Einde 1847 woon hy die byeenkoms van Bond van Regverdiges (later: Bond van die Kommuniste) in Londen by. Engels is ook aanwesig. Marx en Engels kry die opdrag om 'n program te skryf: wat op 21 Februarie 1848 verskyn naamlik die "Kommunistiese Manifes" wat as motto het: "Proletariërs van alle lande, verenig U!" Die beroemde beginreël van die Manifest lui: "'n Gedaante spook in Europa – die gedaante van kommunisme."

1848 word "die revolusiejaar" genoem. In Frankryk, Nederland, Italië en Oostenryk breek opstande uit. Marx gaan begin 1848 terug na Parys. In April gaan hy terug na die Rynland, waar hy in Junie – saam met Engels – vir die Neue Rheinische Zeitung (NRZ – die Nuwe Rynlandse Koerant) werk.

In Mei 1849 verskyn die laatste uitgawe van die NRZ, in rooi.

Marx word opnuut verban. Hy gaan terug na Parys, maar vertrek in 1850 na Londen.

1850: Londen

[wysig | wysig bron]

Die res van sy lewe sal Marx in Londen woon. Hy fokus hier verval op sy ekonomiese studies, in die leessaal van die Britse Museum. Finansieel gaan dit met hom lang tye sleg: in Maart 1850 word hy met sy gesin met vier klein kinders uit sy woning gesit en word sy besittings verbeurd verklaar. Teen die einde van die sestiger jare word sy finansiële sorge minder.

Sy vrou Jenny het hom met sy aktiwiteite altyd lojaal ondersteun en verrig selfs ook die sekretariële take vir hom. Hulle huwelikslewe was egter nie vry van spanning nie. Die gesin leef in armoedige omstandighede, ook kom Marx se vriend Friedrich Engels gereeld te hulp as die nood baie hoog word. Drie van sy sewe kinders is op 'n jong leeftyd oorlede.

Die verhouding tussen die twee word ook nie beter toe Marx 'n buite-egtelike kind verwek, 'n seun genaamd Frederick (1851–1929), by die Duitse diensmeisie Helene Demuth. Die vaderskap word amptelik deur Friedrich Engels op hom geneem, 'n vriend by wie Marx altyd kon aanklop om hulp.

Ondertussen verskyn:

  • 1850: Die Klassenstryd in Frankryk – 'n historiese materialistisese interpretasie van die gebeurtenisse in die revolusiejaar.
  • 1852: Die Agttiende Brumaire van Lodewyk Napoleon – eweneens 'n ondersoek van die periode 1848 tot 1851 in Frankryk.
  • 1859: Bydrae tot die kritiek van die politieke ekonomie (Zur Kritik der Politischen Őkonomie) – 'n voorstudie vir Die Kapitaal, met die bekende voorwoord en die baie aangehaalde inleiding.

Polities bring Marx 'n aantal jare in betreklike afsondering deur. Hierdie afsondering kom ten einde met die stigting van die International Working Men’s Association (of Internasionale Arbeiders-Assosiasie) op 28 September 1864 (later bekend as die Eerste Internasionaal).

In 1867 verskyn die eerste deel van Das Kapital (Die Kapitaal), Marx se "magnum opus". Die opvolgende dele sou nie tydens Marx se lewe verskyn nie.

Die laaste jare

[wysig | wysig bron]

Gedurende die jare na 1867 verskyn nog enkele belangrike werke, waaronder in 1871: Die Burgeroorlog in Frankryk.

In 1872 woon Marx die kongres van die Internationaal in Den Haag by.

Eers in 1970 word die teks volledig gepubliseer van 'n stuk wat Marx in 1875 skryf na aanleiding van die stigting van die Duitse Sosiaal-Demokratiese party: die Kritiek op die Program van Gotha.

Toe sy vrou Jenny op 2 Desember 1881 oorlede is, was Marx self te siek, om haar begrafnis by te woon. Friedrich Engels praat by haar graf:

"Ek hoef nie oor haar persoonlike eienskappe te praat nie. Haar vriende ken haar en sal haar nie vergeet nie. As daar ooit 'n vrou was, wie se grootste geluk was, om ander gelukkig te maak, dan was dit hierdie vrou."

Engels voeg ook by dat op die sterfdag van Jenny Marx gesê het: "Die Moor het ook gesterf" ("Die Moor" was 'n bynaam van Marx).

Op 11 Januarie 1883 is Marx se dogter Jenny ook skielik dood. Die terugslag het hom swaar geraak en is hy self ook op 14 Maart oorlede. Op 17 Maart word hy in die Highgate-begraafplaas, aan die noordekant van Londen, begrawe.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]