Gaan na inhoud

Kernwapen

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Lande met kernwapens ██ Kernlande binne die Kernwapensluitverdrag (Frankryk, Rusland, Verenigde Koninkryk, Verenigde State, Volksrepubliek China) ██ Kernlande buite die Kernwapensluitverdrag (Indië, Noord-Korea, Pakistan) ██ Nie-amptelike kernlande buite die Kernwapensluitverdrag (Israel) ██ Vermoede Kernwapenprogram (Iran, Sirië) ██ Lidlande van die kerndeelname ██ Voormalige kernlande
Die wolk van die atoombom wat op 9 Augustus 1945 op Nagasaki laat val is
Nevada, 7 Augustus 1957. 'n Vryvlieënde lugskip word tydens 'n kerntoetsing deur die skokgolf ten gronde gestuur. Die lugskip was onbeman en meer as 8 km vanaf die impaksgebied.
██ Kernwapenvrye sones ██ Kernlande ██ Kerndeelname ██ Lande binne die Nieverspreidingsverdrag

'n Kernwapen is 'n wapen wat sy vernietigende krag kry van kernreaksies, wat weer verkry word deur die splitsing of samesmelting van atome (kernfusie). Die gevolg is dat selfs 'n klein kernwapen wat 'n klein hoeveelheid energie afgee steeds merkwaardig sterker is as die grootste konvensionele plofstowwe en 'n enkele wapen is daartoe in staat om 'n hele stad te vernietig. Die eerste toets van 'n splitsingsbom het 'n hoeveelheid energie vrygestel wat ongeveer gelyk is aan 20 000 ton TNT (84 TJ).[1]

In die geskiedenis van oorlogvoering is kernwapens nog net twee keer gebruik, tydens die laaste dae van die Tweede Wêreldoorlog. Die eerste gebeurtenis het op die oggend van 6 Augustus 1945 plaasgevind, toe die Verenigde State 'n uraanbom met die kodenaam Little Boy op die Japannese stad Hirosjima laat val het. Die tweede gebeurtenis was drie dae later toe die Verenigde State 'n plutoniumbom met die kodenaam Fat Man op die stad Nagasaki laat val het. Die resultaat van die gebruik van hierdie wapens was die onmiddellike dood van ongeveer 100 000 tot 200 000 mense (en selfs meer mettertyd).[2] Die destydse gebruik van die wapens was en is nog steeds 'n kontroversiële kwessie – kritici oor die wêreld heen beweer dat dit onnodige massamoorde was, terwyl ander glo dat hulle die uiteindelike dodetal aan beide kante verminder het deur 'n vroegtydige einde aan die oorlog te bring.

Sedert die Hirosjima- en Nagasaki-aanvalle is kernwapens tydens meer as tweeduisend geleenthede gedetoneer vir demonstrasie- en toetsdoeleindes. Die enigste lande bekend vir die detonering van sulke wapens is (in kronologiese volgorde): die Verenigde State, die Sowjetunie, die Verenigde Koninkryk, Frankryk, die Volksrepubliek China, Indië, Pakistan en Noord-Korea.[3][4]

Verskeie ander lande mag wel kernwapens besit en dit nooit erken nie, of hulle beweerde besit was nog nooit suksesvol, onafhanklik bepaal of nagegaan nie. Israel het byvoorbeeld moderne afleweringsvliegtuie en beskik oor 'n uitgebreide militêre kernprogram met honderde kernwapens wat deur missiele afgelewer kan word. Die land volg egter amptelik 'n beleid van "dubbelsinnigheid" waarvolgens die besit van kernwapens nie erken of ontken word nie. Volgens somminge beramings besit die land so veel as 200 kernwapenkoppe. Iran word tans deur die Verenigde State beskuldig dat dit probeer om 'n militêre kernvermoë te ontwikkel, maar Iran se regering beweer dat die erkende kernaktiwiteite, soos uraanverryking, vir vreedsame doeleindes is. Suid-Afrika het ook in die geheim 'n klein kernarsenaal opgebou in die laat 1970–80's, maar het dit na die einde van Apartheid in die vroeë 1990's ontbind en afgetakel.[5]

Behalwe vir hulle gebruik as wapens word kernplofstowwe ook getoets en gebruik vir verskeie nie-militêre doeleindes. Sintetiese elemente soos Einsteinium, wat deur kernfusie geskep word, was tydens die nasleep van die eerste toets van 'n waterstofbom ontdek.

Die Kernsperverdrag wat op Julie 1968 geteken is en op 5 Maart 1970 in werking getree het, het ten doel om die verspreiding van kernwapens te verminder, maar die doeltreffendheid daarvan is bevraagteken, en politieke spanning het in die 1970's en 1980's groot gebly. Die modernisering van wapens duur tot vandag toe voort.[6]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Atomic Power for War and Peace". Popular Mechanics. Oktober 1945. pp. 18–19.
  2. "Frequently Asked Questions #1" (in Engels). Radiation Effects Research Foundation. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2018. Besoek op 18 September 2007. total number of deaths is not known precisely ... acute (within two to four months) deaths ... Hiroshima ... 90,000–166,000 ... Nagasaki ... 60,000–80,000
  3. "Federation of American Scientists: Status of World Nuclear Forces" (in Engels). Fas.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2016. Besoek op 29 Desember 2012.
  4. "Nuclear Weapons – Israel" (in Engels). Fas.org. 8 Januarie 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Augustus 2019. Besoek op 15 Desember 2010.
  5. Executive release. "South African nuclear bomb". Nuclear Threat Initiatives (in Engels). Nuclear Threat Initiatives, South Africa (NTI South Africa). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2016. Besoek op 13 Maart 2012.
  6. Ian Lowe, "Three minutes to midnight", Australasian Science, Maart 2016, bl. 49.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]