Gaan na inhoud

Winnie Rust

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Winnie Rust (Moorreesburg, 14 April 1939Wellington, Wes-Kaap, 11 Mei 2016) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Sy was 77 jaar oud ten tyde van haar moord en het toe reeds meer as 60 jaar op Wellington gewoon. Met die jare het talle van haar verhale in populêre sowel as literêre tydskrifte verskyn. Sy het onder meer bydraes vir tiener- en vrouedagboeke geskryf asook werke oor haar dorp en sy geskiedenis, en was betrokke by die dorpsmuseum. Van 2000 af was sy die skrywer van die rubriek "Post Scriptum" in die Paarl Post. Haar pa is self ’n skrywer wat onder andere taalhandleidings vir die gebruik van Afrikaans skryf.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Herkoms en vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Wilhelmina van der Merwe is op 14 April 1939 op Moorreesburg gebore. Sy was in 1954 (volgens 'n bron, maar dit was waarskynlik 1957 of '58) hoofdogter van die plaaslike Hugenote Hoërskool. Haar vader, dr. C.P. van der Merwe, was rektor van die Hugenote-kollege en broer van die digter Boerneef. Haar broer, Chris van der Merwe, was ook 'n akademikus.

Op sesjarige ouderdom trek die familie na Wellington, waar sy haar hele skoolopleiding ontvang en in 1956 aan Hugenote Hoërskool matrikuleer. Sy is die hoofmeisie en ook die dux-leerling. Aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf sy in 1959 ’n B.A.-graad met Duits en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke en die jaar daarna ’n onderwysdiploma.

Loopbaan en gemeenskapswerk

[wysig | wysig bron]

In 1961 hou sy vir slegs ’n jaar lank skool wanneer sy Afrikaans as Tweede Taal gee aan die Hoër Meisieskool Rustenburg in Rondebosch in Kaapstad. Aan die einde van hierdie jaar trou sy met dr. Manie Rust, wat ’n mediese praktyk op Wellington het. Voortaan is sy voltydse moeder vir hulle vier kinders (’n seun, Hugo, en drie dogters, Winnie, Grietjie en Helena) maar bedryf later ’n gastehuis op die dorp.

In 1997 begin sy weer studeer en verwerf in 1998 ’n B.A. Honneurs-graad in Afrikaans en Nederlands en in 2000 ’n M.A.-graad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar gemeenskapswerk sluit onder andere in dat sy in 1994 die stigter is van ’n plaaslike leeskring, betrokke is by die plaaslike museum en ook by Vriende van Afrikaans. Sy dien op die raad van die Wellington Onderwyskollege en is ook trusteeraadslid van die Breytenbach Sentrum, wat die Breytenbach-huis waar Breyten Breytenbach groot geword het, in ’n kultuursentrum omskep. Verder is sy ’n aktiewe lid van die dorp se dramavereniging, is lid van die Marturia-koor en doen voorlesings vir Bybelkor, wat vir radio-uitsendings gebruik word.

Sterfte

[wysig | wysig bron]

Rust is op 'n tragiese wyse vermoor. Haar man, dr. Manie Rust (87), het omstreeks halfvier op die middag van haar dood die hekklokkie by hul woning in Derdelaan, Uitsig, hoor lui. Toe hy opstaan om te gaan kyk wie by die hek is, het hy sy vrou dood op die kombuisvloer aangetref. Sy het beserings aan haar gesig gehad en haar hande en voete was vasgebind. Sy is oorleef deur vier kinders en ses kleinkinders.

Skryfwerk 

[wysig | wysig bron]

Rust was ’n beminde inwoner van Wellington wat nou betrokke was by die geskiedenis van die dorp. Van die boeke wat sy geskryf het, sluit in Margie van die Seminary en ander verhale, Martha gravin van Stamford en Trek. Martha het in 2005 die kortlys vir die Rapport/Jan Rabie-prys gehaal. Dié boek, haar eerste roman, het gespruit uit haar bydrae tot Die geskiedenis van Wellington en distrik tot die jaar 2000. Haar verhaal "Lei vriend'lik lig" is in 2006 opgeneem in die bloemlesing oor plaasverhale deur Riana Scheepers, Die melkweg het 'n ster laat val. Tussen haar skryfwerk deur was Rust nou betrokke by lees- en poësiekringe en het ook van tyd tot tyd digkunsprogramme opgestel en boekbesprekings gelei.

Reeds as jong kind begin sy skryf en van haar verhaaltjies verskyn op skool in die destydse Jongspan. Haar kortverhale word in literêre en gewone tydskrifte gepubliseer (onder andere Tydskrif vir Letterkunde) en van haar rubrieke verskyn gereeld onder die titel Post Scriptum in die Paarl Post.[1]

Romans

[wysig | wysig bron]

Martha vertel in romanvorm die op die waarheid gebaseerde verhaal van Harry Grey,[2]’n gewese priester uit die Britse adelstand, wat hom in die negentiende eeu in Wellington en later Wynberg vestig.[3] Martha Solomons is die dogter van ’n vrygestelde slaaf wat hy hier ontmoet.[4] Na die geboorte van hulle kind trou hy met Martha en sy word die eerste bruin vrou om ’n Britse titel deur die huwelik te verwerf (Gravin van Stamford). Die verhaal word eindelik ’n weergawe van die storie van menige vrou wat diep innerlike krag moet gebruik om ’n lewe en toekoms vir haar en haar kinders uit te kap, al is die oormag ook hoe groot. Martha is in 2005 ’n finalis vir die Jan Rabie-prys.

Trek[5] is ’n verhaal van die mense van alle rasse van Wellington, wie se lewens met mekaar verweef is.[6] Die roman word in twee dele verdeel. Die eerste ongetitelde deel speel af oor ’n tydperk van bykans tagtig jaar en volg in groot mate die lewe van Girlie Moses en die dorpsbewoners en bruin plaaswerkers wie se paaie met haar kruis.[7] Die tweede gedeelte van die verhaal volg op die eerste en speel af oor ’n paar maande, met die aksie wat hoofsaaklik sentreer rondom die karakters van Lambert en sy skoonsuster. Sentraal staan die gedwonge verskuiwings van die bruin mense uit die middedorp tydens die apartheidsjare, wat ’n traumatiese invloed op almal het. Die wit familie word verteenwoordig deur die sagte Lambert wat omgee vir die bruin mense en vasgevang is in sy hulpeloosheid om iets daadwerkliks vir hulle te doen, sy skoonsuster Lettie en broer Boeta van der Merwe. Lambert raak verlief op Miss Girlie, die mooi bruin onderwyseres. Daarenteen is Boeta simbool van die wreedheid en harteloosheid van apartheid en hy word eindelik verstote en eensaam oud. Sy dogter Magriet trek weg na ’n ander land en hy sien haar nooit weer nie. Hanna en haar familie van plaaswerkers kry swaar, maar sy hou kop omhoog ondanks die omstandighede en is ten spyte van alles eindelik die een wat uitreik na Boeta en vir hom bid voor hy sterf. Die mense in hierdie roman moet fisies trek, maar ook figuurlik om aanklank te vind by ander en te groei.

Kortverhale

[wysig | wysig bron]

Die Wellington Museum, waar sy vir lank betrokke is, probeer om elke jaar op Vrouedag ’n vrou uit die geskiedenis van die dorp te vereer. Hierdie betrokkenheid en die vertellings van familielede en ander mense bring haar in aanraking met verskeie merkwaardige vroue, wie se stories sy in Margie van die seminary en ander verhale vertel. Die stories word deur ’n identiese spreker aan mekaar verbind. Die titelverhaal is oor haar eie ma, wat haar opleiding by die seminarie ondergaan en geïnspireer word deur die lering van kuisheid. Hierna weerstaan sy die aantrekkingskrag van die teenoorgestelde geslag, maar moet eindelik onwillig voor die krag van die liefde swig. In die aftreeoord waar haar ma gebly het, kom die spreker af op die agterkleinkind van Elizabeth Rolland, ’n sendelingsvrou. Hiervandaan word ander vroue met raakpunte gevolg en beskryf.

Een van haar tydskrifverhale, Die Maartblom, geskryf onder haar nooiensvan, word in die versamelbundel Sarie se liefdestreffers onder redaksie van Esmé Mittner opgeneem, terwyl Lei vriend’lik lig in Die melkweg het ’n ster laat val van Riana Scheepers verskyn.

Karin Eloff neem John in Bloots op en Voëlvry in Skarlakenkoors.

Samesteller

[wysig | wysig bron]

As samesteller versorg Winnie Rust die versamelbundel Bainskloof en ander bergstories en saam met Rina Wiid skryf sy oor Die Oranjerivierkampe uit die Anglo-Boereoorlog. Sy begin om verhale oor plaaslike persoonlikhede op te teken en help in 2003 vir Charlotte Cupido om episodes uit haar lewe saam te stel, wat in 2003 as Vra na die ou paaie gepubliseer is.

Literêre werke

[wysig | wysig bron]

Van die literêre tydskrif Literator het sy reeds twee Litera-pryse vir debuutskrywers ontvang, in 1999 vir Queen Elizabeth en in 2001 vir Trek aan jou klere Boeta.

Radiodrama

[wysig | wysig bron]

Sy skryf ook ’n radioreeks oor ’n bootreis op ’n Franse kanaal wat as ’n Reis met ’n verskil uitgesaai word.

Geestelike fiksie

[wysig | wysig bron]

Verder skryf sy prosa van meer geestelike aard. Aangeraak deur die liefde het as subtitel Gedagtes rondom die Christenvrou vandag. In hierdie boek toon sy aan hoedat die vrou se rol as tuisteskepper verander het in die materiële moderne wêreld en wys op die dinge wat vir ’n Christenvrou swaarder behoort te weeg as ’n ekstra inkomste. Hierdie boek is publikasie van die radioreeks wat sy vir Vrouerubriek onder die titel Die verfynde gees uitgesaai het.

Dagboekstukke van Andrew Murray vertaal en verwerk sy tot die radioreeks Die hartklop van God.

Sy skryf twee Bybelkorgidse, naamlik Liewe Dagboek vir tieners en Vrou 2000 vir vroue. Vir Die Kerkbode is sy medeskrywer van die rubriek Stilhouplek en sy lewer etlike bydraes vir dagboeke vir vroue. Sy skryf ook artikels vir verskeie tydskrifte, waaronder Sarie en Die Landbouweekblad.

Drama

[wysig | wysig bron]

Benewens prosa skryf sy ook dramas. Vrouedagstories is ’n dramatisering van die lewens van gewone vroue wat in Augustus 2004 op Vrouedag in die Wellington Museum opgevoer word.

’n Mens tussen mense en ’n Venster vol son word beide in 2008 by die Woordfees op Stellenbosch opgevoer. ’n Mens tussen mense is die verhaal van Marie Aggenbach, wat moes toekyk hoe haar dogter Theresa geleidelik haar stryd teen vigs verloor en sterf. Theresa het wild gelewe en vyf kinders by vyf verskillende mans gehad. Na haar dood sorg Marie vir Theresa se vyf wesies in haar nederige huisie in Egoli in Wellington en ook vir nog ’n aantal kinders en volwassenes wat aan vigs ly. ’n Venster vol son is geskryf teen die agtergrond van Lisbé Smuts-Smith, in lewe lektrise aan die Departement van Linguistiek en Afrika-tale aan die Universiteit van Kaapstad, wat vroeg die oggend van Maandag 7 Februarie 2005 in haar historiese huis op Wellington met ’n skroewedraaier vermoor is. Alexa (Fuff) Kirsten het haar buurvrou se noodkrete gehoor en haar te hulp gesnel. Alexa is sewentien keer met dieselfde skroewedraaier gesteek en vir dood agtergelaat. Die drama is die verhaal van Alexa se langsame herstel. Sy beweeg steeds met moeite en het geen gevoel aan die regterkant van haar lyf nie. Dit is ook die verhaal van die pad na vergifnis. Met die eerste herdenking van die moord op 7 Februarie 2006 het Fuff en Saskia, dogter van Lisbé, begin met die inbou van gekleurde glasstukke en brokstukke van spieëls in die muur van Fuff se huis in Albertstraat. Die inhoud van die vertoning is grootliks gegrond op ’n reeks briewe wat Fuff aan Lisbé geskryf het na haar dood.

Eerbewyse

[wysig | wysig bron]

In 2005 maak die Wellington ATKV-tak ’n eretoekenning aan haar vir haar bydrae tot die Afrikaanse skryfkuns en word sy en haar man deur die Rapportryerskorps aangewys as Wellingtonners van die Jaar.

Publikasies

[wysig | wysig bron]
Jaar Publikasies
1982 Aangeraak deur die liefde
1983 Liewe Dagboek
1994 Vrou 2000
2002 Die Oranjerivierkampe (saam met Rina Wiid)
2004 Martha
2011 Margie van die seminary en ander verhale
2013 Trek

Bronne

[wysig | wysig bron]

Boeke

[wysig | wysig bron]
  • Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 2005.

Tydskrifte en koerante

[wysig | wysig bron]
  • Anoniem. Winnie Rust vereer. Paarl Post, 21 Desember 2005.
  • Malan, Marlene. Spesiale vroue se verhale van oorlewing op planke gebring. Rapport, 17 Februarie  2008.
  • Viljoen, Elizma. Wellingtonse huisvrou woeker met talente. Die Burger, 4 November 1982.

Ongepubliseerde dokumente

[wysig | wysig bron]

Rust, Winnie Lewenskets Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein

Internet

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Floris, Jo-Ann. Beeld, 13 Desember 2004.
  2. Rautenbach, Elmari. Insig, Julie 2005.
  3. Hambidge, Joan Woorde wat Weeg: http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/03/winnie-rust-martha-n-verhaal-oor-martha.html
  4. Toerien, Barend J. Rapport, 1 Mei 2005.
  5. Foster, Lenelle. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 51 no. 2, Vierde reeks Lente 2014.
  6. Van Niekerk, Annemarié. Rapport, 5 Mei 2013.
  7. Volschenk, Dineke. Beeld, 25 Maart 2013.