Gaan na inhoud

Choefoe

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Choefoe
Ook bekend as Cheops, Khufu,
Chnoem-choef, Soefis
Die standbeeld van Choefoe in die Kaïromuseum.
Die standbeeld van Choefoe in die Kaïromuseum.
Farao van die 4de Dinastie
Periode  2589–2566 v.C.[1][2] (63 jaar volgens Manetho); (23 of 46 volgens moderne historici) [3]
Voorganger  Snofroe
Opvolger  Djedefre
Vader  Snofroe
Moeder  Heteferes I
Oorlede  2566 v.C.
Monumente  Groot Piramide van Giza
Choefoe in Egiptiese hiërogliewe
Serech of Horusnaam
G5
Aa24w
Nebty-naam
G16
Aa24
r
Goue Horus-naam
G8
G5G5
Portaal  Portaalicoon   Antieke Egipte

Choefoe (Engels: Khufu, Grieks: Cheops) was die tweede Egiptiese farao van die 4de Dinastie tydens die eerste helfte van die Ou Ryk van Egipte (26ste eeu v.C.). Hy het sy pa of stiefpa, farao Snofroe, opgevolg. Daar word algemeen aanvaar hy het die Groot Piramide van Giza laat bou wat een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld is, maar baie ander aspekte van sy bewind is swak aangeteken.[3][4]

Die enigste heeltemal bewaarde portret van die koning is 'n klein ivoorbeeldjie wat in 1903 by Abudos ontdek is in die ruïne van 'n tempel uit 'n latere tydperk. Alle ander reliëfs en beelde is in fragmente ontdek, en baie van sy geboue het verlore gegaan. Alles wat van Choefoe bekend is, kom uit inskripsies in sy nekropolis by Giza en latere dokumente.[3][4]

Choefoe se nekropolis en piramide is in die noordoostelike deel van die Gizaplato opgerig, dalk oor die gebrek aan bouruimte en die los gruis by Dahsjoer, waar Snofroe se drie piramides staan. Die klippe is buite glad gepoleer en het geblink. Binne is daar drie kamers: die begrafnis-, beeld- en 'n ondergrondse kamer. 'n Pad van sowat 'n 3/4 km verbind die dodetempel met die valleitempel. Die vorm en grootte van dié tempel is onbekend, want nie eens die fondament is oor nie. Aan die oostekant van die piramide lê die oostelike begraafplaas met die mastabas van prinse en prinsesse. Drie klein satellietpiramides van koninginne is ook daar opgerig. 'n Moontlike deel van Choefoe se begrafniskomplek is die Groot Sfinks, maar dis moeilik om te sê omdat geen perfek bewaarde portret van Choefoe bewaar gebly het om dit te vergelyk nie.

Die meeste dokumente wat koning Choefoe noem, is omstreeks 300 v.C. deur antieke Egiptiese en Griekse historici geskryf. Choefoe se doodsberigte is weersprekend: Terwyl die koning 'n lang kulturele erflating gehad het tydens die Ou en Nuwe Ryk, is die antieke Griekse historici Manetho, Diodorus en Herodotos se beskrywings van sy karakter baie negatief. Vanweë dié dokumente bestaan 'n obskure en kritiese beeld van Choefoe se karakter.[3][4]

Choefoe se naam

[wysig | wysig bron]

Choefoe se naam is opgedra aan die god Chnoem, wat kan dui op 'n toename in Chnoem se gewildheid en godsdienstige belangrikheid. Verskeie koninklike en godsdienstige titels uit dié tyd kan daarop dui dat Egiptiese farao's hulle goddelike oorsprong en status probeer beklemtoon het deur hulle cartouchename (amptelike koninklike name) aan sekere gode op te dra. Choefoe het homself dalk as 'n goddelike skepper beskou, 'n rol wat gegee is aan Chnoem, die god van die skepping en van groei. Choefoe se volle naam (Chnoem-choef) beteken "Chnoem beskerm my".[5][6] Hoewel sy naam volgens moderne Egiptologiese uitspraak "Choefoe" was, is dit tydens sy bewind waarskynlik uitgespreek as Kha(w)yafwi(y), en tydens die Hellenistiese tydperk as Khewaf(w).[7]

Die farao het amptelik twee weergawes van sy geboortenaam gebruik: Chnoem-choef en Choefoe. Die eerste, volle naam dui op Choefoe se godsdienstige lojaliteit jeens Chnoem, maar die tweede, korter naam nie. Dit is onbekend hoekom die koning die korter weergawe gebruik het. Dit kan wees dat die tweede naam nie aan enige god gekoppel moes wees nie.[3][4]

Choefoe is goed bekend onder sy Hellenistiese naam Χέοψ (Kéops of Cheops) deur Diodorus en Herodotos, maar minder bekend onder sy ander Hellenistiese naam, Σοῦφις (Sóéfis), deur Manetho.[3][4] Flavius Josephus het 'n skaars vorm van sy naam, Σόφε (Sófe), gebruik.[8]

Familie

[wysig | wysig bron]

Choefoe se oorsprong

[wysig | wysig bron]
Uitbeelding van Snofroe.

Choefoe se koninklike familie was taamlik groot. Dit is onseker of hy Snofroe se biologiese seun was. Baie Egiptoloë glo so, maar bloot omdat dit tradisie was dat die oudste seun of ’n aangewese afstammeling die troon geërf het.[9]

In 1925 is die grafkelder van koningin Heteferes I (G 7000x) oos van Choefoe se piramide ontdek. Daarin was verskeie inskripsies wat haar "moeder van ’n koning" (Moet-nesoet) noem, saam met die naam van farao Snofroe. Dit het dus aanvanklik gelyk of Heteferes die vrou van Snofroe was, en dat hulle Choefoe se ouers was. Daar word egter nou daaroor getwyfel omdat dit nie bekend is dat Heteferes die titel "vrou van die koning" (Hemet-nesoet) gehad het nie, en dit is noodsaaklik om haar status as koningin te staaf.[9][10]

In plaas van die koningsvrou se titel, het sy die titel "biologiese dogter van ’n god" (Sat-netjer-chetef) gehad en dit laat navorsers dink Choefoe was dalk nie Snofroe se biologiese seun nie, maar dat Snofroe Choefoe se rang en familieposisie gewettig het met ’n huwelik en dat hy Choefoe se ma die titel dogter van ’n lewende god gegee het. Dié teorie word versterk deur die feit dat Choefoe se ma naby hom begrawe is en nie in die dodeakker van haar man, soos die gebruik was, nie.[9][10][11]

Stamboom

[wysig | wysig bron]

Hier onder volg van die name van mense wat beslis familie van Choefoe was.
Ouers:[9][10][11]

  • Snofroe: Waarskynlik sy pa, maar moontlik sy stiefpa. Beroemde farao en die bouer van drie piramides.
  • Heteferes I: Heel waarskynlik sy ma. Vrou van farao Snofroe en bekend vir haar waardevolle grafgoedere wat by Giza ontdek is.
Portret van prins Rahotep.
Stele van prinses Nefertiabet.

Vroue:[9][10][11]

  • Meritites I: Eerste vrou van Choefoe.
  • Henoetsen: Tweede vrou van Choefoe.

Broers en susters:[9][10][11]

  • Heteferes: Vrou van Anchaf
  • Anchaf: Oudste broer. Sy neef sou later farao Chafra word.
  • Nefermaat: Halfbroer.
  • Rahotep: Oudste broer of halfbroer.

Seuns van Choefoe:[9][10][11]

  • Kawab: Waarkynlik die oudste seun en kroonprins, maar hy is voor Choefoe dood.
  • Djedefre: Ook bekend as Radjedef en Ratoises. Was die eerste troonopvolger.
  • Chafra: Waarskynlik die tweede troonopvolger.
  • Djedefhor: Ook bekend as Hordjedef.
  • Baoefra: Dalk 'n seun van Choefoe.
  • Babaef I: Ook bekend as Chnoem-baef I
  • Choefoechaf I: Ook bekend as Kaefchoefoe I
  • Minchaf I
  • Horbaef

Dogters:[9][10][11][12]

  • Nefertiabet: Bekend vir haar mooi stele.
  • Heteferes II: Vrou van prins Kawab, later getroud met farao Djedefre
  • Meresanch II
  • Meritites II: Getroud met Achetotep.
  • Chamerernebti I: Vrou van farao Chafra en ma van Menkaoere

Bewind

[wysig | wysig bron]
'n Granietfragment met Choefoe se horusnaam, Medjedoe, daarop.

Lengte van sy bewind

[wysig | wysig bron]

Dit is nog onduidelik hoe lank Choefoe oor Egipte regeer het, omdat historiese dokumente mekaar weerspreek en moderne bronne skaars is. Datums van sy laaste jare dui aan hy het amper sy 30ste herdenking bereik, maar dit dalk net-net misgeloop.[13]

'n Inskripsie is in die Dakhla-oase in die Libiese Woestyn ontdek. Choefoe se serechnaam is in "Hor-Medjedoe" se 27ste jaar in 'n rots uitgegrawe.[14]

Verskeie papirusdokumente, bekend as die Dagboek van Merer, is by Choefoe se hawe by Wadi al-Jarf ondek. Daarin is die vervoer van kalksteenblokke van Toera na die Groot Piramide van Giza in die "jaar ná die 13de beestelling onder Hor-Medjedw" aangeteken.[15][16]

Die laaste bekende datum van Choefoe se bewind hou verband met sy begrafnis. Vier graffiti uit 'n rots gekap aan die suidekant van die Groot Piramide vertel van die 28ste of 29ste bewindsjaar van Choefoe: die 14de sensus, maand 1 van die oesseisoen, sjemoe.[13]

Volgens die Turynse Koningslys uit die 19de Dinastie het Choefoe 23 jaar lank regeer.[3][17] Volgens die historikus Herodotos was dit 50 jaar en volgens die antieke historikus Manetho 63 jaar. Dié laasgenoemde getalle word nou as oordrewe of 'n misverstand beskou.[3]

Politieke bedrywighede

[wysig | wysig bron]

Daar is net 'n paar verwysings na Choefoe se politieke bedrywighede in en buite Egipte. In Egipte word hy in verskeie inskripsies op geboue en standbeelde genoem. Choefoe se naam verskyn in inskripsies op die terrein Elkab en die eiland Elefantyn, en in steengroewe by Hatnoeb en Wadi Hammamat. By Saqqara is twee terracottabeeldjies van die godin Bastet ontdek waarop Choefoe se horusnaam op die voetstukke voorkom. Hulle is in die tyd van die Middelryk by Saqqara gelaat, maar hulle skepping kan na Choefoe se bewind teruggespeur word.[18]

Wadi Maghareh

[wysig | wysig bron]
'n Tekening van Choefoe van die Wadi Maghareh.[19]

By Wadi Maghareh in Sinai is ’n rotsinskripsie wat Choefoe met die dubbelkroon uitbeeld. Hy het verskeie ekspedisies daarheen gestuur om turkoois- en kopermyne te vind.[20] Nes ander konings wie se name ook daar in inskripsies voorkom, soos Sechemchet, Snofroe en Sahoere, was hy op soek na dié twee edelstowwe.[20]

Hy het ook kontak met die stad Bublos in Libanon gehad. Hy het verskeie ekspedisies daarheen gestuur in ’n poging om kopergereedskap en wapens te ruil vir waardevolle Libanese sederhout. Dié hout was nodig om groot, stabiele begrafnisbote te bou, en die bote in die Groot Piramide was inderdaad van dié hout gemaak.[21]

Wadi al-Jarf

[wysig | wysig bron]

Nuwe getuienis oor Choefoe se politieke bedrywighede is sowat 'n dekade gelede gevind op die plek van die antieke hawe Wadi al-Jarf aan die Rooiseekus oos van Egipte. Ná verskeie vroeëre pogings in 1823 en 1954 om daar uitgrawings te doen, het ’n span argeoloë onder leiding van die Franse Egiptoloë Pierre Tallét en Gregory Marouard in Junie 2011 weer opgrawings daar begin doen. Van die materiaal wat hulle in 2013 gevind het, was ’n versameling van honderde papirusfragmente[15][16] van 4 500 jaar gelede.[15][16] Die dokumente word tans in die Egiptiese Museum in Kaïro uitgestal.

Tien van die dokumente was goed bewaar. Die meeste dateer uit die 27ste jaar van Choefoe se bewind en beskryf hoe die sentrale administrasie kos en voorraad na die matrose en hawewerkers gestuur het. Die datums op die dokumente is baie belangrik omdat dit ooreenstem met hoe datums in die Ou Ryk geskryf is, asook dat die briewe aan die koning self gerig was. Choefoe word daarin onder sy Horusnaam aangespreek. Dit is gewoonlik gedoen wanneer die koning nog gelewe het; as hy dood was, is sy cartouche- of geboortenaam gebruik. Een dokument is veral belangrik: die dagboek van ene Merer, ’n amptenaar wat betrokke was by die bou van die Groot Piramide. Dit het navorsers ’n blik gegee op drie maande van Merer se lewe en op die alledaagse lewe van mense in die 4de Dinastie.

Inskripsies van Choefoe se cartouchenaam kom ook voor op van die swaar kalksteenblokke op die terrein. Die hawe was van strategiese en ekonomiese belang vir Choefoe, want skepe het waardevolle materiaal soos turkoois, koper en erts van Sinai hier afgelaai. Die fragmente bevat verskeie lyste met die voorraad wat daar afgelewer is. ’n Sekere hawe aan die oorkantse kus van Wadi al-Jarf, aan die weskus van Sinai, word ook genoem, en die dokumente openbaar dus vir die eerste keer in die geskiedenis ’n duidelike seilskiproete oor die Rooisee. Dit is die oudste bekende seilroete van Antieke Egipte.[15][16]

Monumente en standbeelde

[wysig | wysig bron]
Detail van die ivooridool van Choefoe.

Standbeelde

[wysig | wysig bron]

Die enigste driedemensionele beeld van Choefoe wat die toets van die tyd ongeskonde deurstaan het, is 'n klein en goed gerestoureerde ivoorbeeldjie. Dit beeld die koning uit met die rooi Desjret-kroon van Benede-Egipte.[22] Hy sit op 'n troon met 'n kort rugleuning. Aan die linkerkant van sy knieë is sy Horusnaam, Medjedoe, en aan die regterkant is die onderste deel van sy cartouchenaam, Chnoem-choef, sigbaar. Choefoe hou 'n slaanketting in sy linkerhand, en sy regterhand rus saam met sy laer arm op sy regterbeen. Die artefak is in 1903 deur Flinders Petrie naby Abudos ontdek.[23]

Choefoe se kop. Ou Ryk, 4de Dinastie, omstreeks 2500 v.C.

Vandag is die beeldjie gerestoureer en word dit uitgestal in die Egiptiese Museum van Kaïro onder die nommer JE 36143.[24] Die meeste Egiptoloë glo die beeldjie kom uit Choefoe se tyd, maar sekere geleerdes soos Zahi Hawass dink dit was 'n kunsreproduksie uit die 26ste Dinastie. Die gesig is ongewoon plomp en toon geen emosionele uitdrukking nie. Hawass het dit vergelyk met die standbeelde van kontemporêre beelde, soos dié van Snofroe, Chafra en Menkaoere. Die gesigte van dié konings is almal mooi, skraal en met 'n sagte uitdrukking; daarteenoor lyk Choefoe op die marmerbeeldjie of die kunstenaar nie eintlik omgegee het vir professionaliteit of toewyding nie.[22][24]

Hawass glo Choefoe sou nooit die tentoonstelling van so 'n slordige werk goedgekeur het nie. Verder meen hy die troon waarop die figuur sit, stem nie ooreen met die kunsstyl van trone uit die Ou Ryk nie. Die Ou Ryk se trone het rugleunings gehad wat tot by die farao se nek gereik het. Maar wat hom eindelik oortuig het dat die beeldjie 'n reproduksie van 'n veel later tydperk was, was die slaanketting in Choefoe se linkerhand. Sulke uitbeeldings het eers in die Middelryk begin verskyn.[22][24]

Choefoe se kop in ivoor in die Altes Museum in Berlyn.

Uitgrawings in 2001 en 2003 by Saqqara het twee terracottabeelde van 'n leeugodin (moontlik Bastet of Sechmet) onthul. Aan haar voete is die figure van twee konings met 'n kinderlike voorkoms. Die regterfiguur kan as Choefoe uitgeken word danksy sy Horusnaam, en die linkerkantse figuur is dié van Pepi I van die 6de Dinastie, wat by sy geboortenaam genoem word. Die figure van Pepi I is later by die ander beelde gevoeg, want hulle staan apart en 'n ent van die godin af.[25]

Die Palermosteen vertel op sy fragment C-2 van die skepping van twee oorgroot staande standbeelde vir die koning; die een was van koper en die ander een van suiwer goud.[3][22]

Verder het verskeie fragmente van sittende beelde van albaster en travertyn, wat deur George Reisner by Giza ontdek is, eens Choefoe se volle koninklike titel bevat. Vandag is die ten volle of gedeeltelik bewaarde cartouches met die naam Choefoe of Chnoem-choef oor. Een van die fragmente, van 'n klein sittende persoon, wys die bene en voete van die kneukels af na onder. Aan die regterklant is die naam ...foe in 'n cartouche sigbaar, wat maklik die cartouchenaaam Choefoe kon gewees het.[22][26]

Verskeie kopbeelde wat ontdek is, kan ook Choefoe uitbeeld.[27][28]

'n Reliëffragment wat Choefoe met die rooi kroon uitbeeld.

Reliëfs

[wysig | wysig bron]

Choefoe word op verskeie reliëfs uitgbeeld wat in sy nekropolis en elders verstrooi is. Almal is van glad gepoleerde kalksteen gemaak. Sommige het ontstaan in die geruïneerde piramidetempel; hulle het aanvanklik die mure heeltemal bedek. Ander is in die piramide-nekropolis van koning Amenemhat I by Lisjt herbruik en by Tanis en Boebastis.[3][22] Een van die fragmente wys die cartouche van Choefoe met die frase "die bou van die heiligdomme van die gode".

Nog een wys 'n ry vet osse wat met blomme versier is – hulle is tydens 'n optog as offerandes voorberei.[29] 'n Derde een wys die vroegste bekende uitbeelding van oorlogstuig: Die toneel word genoem "boogskutters berei voor", want dit wys boogskutters gereed om te skiet. 'n Vierde voorbeeld wys die koning met die dubbele kroon wat 'n seekoei deurboor.[30][31]

By die Wadi Maghareh in Sinai is 'n rotsinskripsie ontdek met Choefoe se name en titels. Dit lui: "Hor-Medjedoe, Chnoef-choef, Bikoei-Neboe, die groot god en vernietiger van die grotbewoners, alle beskerming en lewe is met hom". In een toneel dra Choefoe die dubbele kroon; daarnaby is die uitbeelding van die god Thoth sigbaar. In 'n ander toneel daarnaby dra Choefoe die Atefkroon (van Osiris) en verslaan hy 'n vyand. In dié toneel is die god Wepwawet teenwoordig.[20][32]

Nie een van die reliëfs wys Choefoe waar hy offerandes aan 'n god bring nie. Dit is merkwaardig, want reliëfs van Snofroe en van al die konings van Menkaoere af wys dit. Dit verduidelik dalk hoekom latere Griekse historici aangeneem het dat Choefoe dalk alle tempels laat sluit en enige offerandes verbied het.[22][33]

Piramidekompleks

[wysig | wysig bron]
Die Groot Piramide van Giza.
Die Groot Sfinks.

Die piramidekompleks van Choefoe is in die noordoostelike deel van die Gizaplato opgerig. Dit kan wees dat die gebrek aan bouruimte en kalksteengroewe en die los gruis by Dahsjoer Choefoe genoodsaak het om noord te skuif, weg van die piramide van sy voorganger, Snofroe. Choefoe het die hoë kant van die natuurlike plato vir sy piramide gekies sodat dit van ver af sigbaar kon wees. Choefoe het besluit om sy pramide Achet-Choefoe ("die horison van Choefoe") te noem.[34][35][36][37]

Die Groot Piramide se basis is sowat 230,4 x 230,4 m en is vandag 138,7 m hoog. Dit was eens 147 m hoog, maar dele is weg weens grafroof. Die piramide het smal trappies van rof gekapte blokke donker kalksteen. Die klippe is buite glad gepoleer sodat die piramide in 'n helder lig gehul was toe dit nuut was. Die binnegange en kamers se mure is van gepoleerde graniet – een van die hardste soorte klippe in Choefoe se tyd.[34][35][36]

'n Kaart van Choefoe se nekropolis.
Seëlafdrukke van Choefoe se Achet-Choefoe.

Die oorspronklike ingang tot die piramide is aan die noordekant. Binne is daar drie kamers: Bo is die begrafniskamer (die "koningskamer"), in die middel is die beeldkamer (verkeerdelik die "koninginkamer" genoem) en onder die fontein is 'n onvoltooide ondergrondse kamer. Terwyl die grafkamer se doel duidelik is vanweë die groot sarkofaag van graniet, word die doel van die "koninginkamer" steeds betwis – dit kon die kelder vir Choefoe se ka-beeld gewees het. Die ondergrondse kamer se doel bly 'n geheim omdat dit nie voltooi is nie.[34][35][36]

'n Nou gang wat uit die westelike punt van die kamer suidwaarts loop en 'n onvoltooide skag in die middel aan die oostekant dui dalk daarop dat die ondergrondse kamer die oudste van die drie was en dat die oorspronklike bouplan van 'n eenvoudige kompleks met verskeie kamers en gange was. Om onbekende redes is die bouwerk egter gestaak en nog twee kamers is in die piramide gebou. Merkwaardig is die sogenaamde Groot Galery wat na die koningskamer lei. Dit het 'n belangrike doel gehad: Dit het die gewig van die steenmassa bo die koningskamer afgelei na die omringende rotse.[34][35][36]

Choefoe se piramide is omring deur 'n muur, met elke segment 10 m van die piramide af. Aan die oostekant, reg voor die piramide, is Choefoe se dodetempel. Die fondament is van swart basalt gebou. Pilare en portale was van rooi graniet en die plafonstene van wit kalksteen. Vandag is net die fondament oor. 'n Pad van sowat 'n 3/4 km verbind die dodetempel met die valleitempel. Die valleitempel is waarskynlik van dieselfde stene gemaak as die dodetempel, maar omdat nie eens die fondament oor is nie, is die oorspronklike vorm en grootte van die valleitempel onbekend.[34][35][36][37]

Aan die oostekant van die piramide lê die oostelike begraafplaas van die Choefoe-nekropolis met die mastabas van prinse en prinsesse. Drie klein satellietpiramides, dié van koninginne Heteferes (G1-a), Meritites I (G1-b) en dalk Henoetsen (G1-c), is by die suidoostelike hoek van Choefoe se piramide opgerig. Die kultuspiramide van Choefoe is in 2005 net agter die koninginpiramides G1-b en G1-c ontdek. Suid van die piramides lê nog mastabas en die putte van Choefoe se begrafnisbote. Wes van die piramide lê die westelike begraafplaas, waar die hoogste amptenare en die priesters begrawe is.[34][35][36][37]

'n Moontlike deel van Choefoe se begrafniskomplek is die Groot Sfinks van Giza. Dit is 'n kalksteenbeeld van 73,5 × 20,3 m in die vorm van 'n rustende leeu met die kop van 'n mens. Dit het 'n koninklike hooftooisel op. Die Sfinks is uit die plato van Giza gekap en oorspronklik rooi, oker, groen en swart geverf. Tot vandag word betwis wie die opdrag vir die bou daarvan gegee het: Die waarskynlikste kandidate is Choefoe, sy oudste seun, Djedefre, en sy jongste seun, Chafra. Deel van die probleem is dat daar geen perfek bewaarde portret van Choefoe is sodat gesien kan word hoe sy gesig gelyk het nie. Beide Djedefre en Chafra se gesigte lyk soos die Sfinks s'n, maar hulle stem nie perfek ooreen nie.

Nog 'n raaisel is die oorspronklike kultus- en simboliese funksie van die beeld. Heelwat later het die Egiptenare dit Heroe-im-Achet ("Horus aan die horison") en die Arabiere dit Aboe el-Hὀl ("vader van terreur") genoem. Dit kan bloot wees dat die Sfinks, as 'n allegoriese en geheimsinnige voorstelling van die koning, die heilige begraafplaas van Giza bewaak het.[34][35][36][37]

Choefoe in latere Egiptiese tradisies

[wysig | wysig bron]
Die cartouchenaam Chefoeu in die Abudos-koningslys.

Ou Ryk

[wysig | wysig bron]

Choefoe het in die Ou Ryk 'n uitgebreide dodekultus gehad. Aan die einde van die 6de Dinastie het minstens 67 dodepriesters en 6 onafhanklike hoëamptenare by die nekropolis gedien, soos argeologies bewys. Tien van hulle het reeds in die 4de Dinastie gedien (sewe was koninklike familielede), 28 het in die 5de Dinastie gedien en 29 in die 6de Dinastie. Dit is merkwaardig; Choefoe se beroemde pa/stiefpa, Snofroe, het oor dieselfde tydperk "net" 18 dodepriesters gehad, en selfs Djedefre het net agt en Chafra 28 gehad. Sulke dodekultusse was belangrik, want vir die offergawes moes spesiale gebiede, of domeine, geskep word. In Choefoe se tyd was daar heelwat sulke domeine. Teen die einde van die 6de Dinastie het hulle egter vinnig afgeneem en teen die 7de Dinastie was daar geen.[3][4][38]

Middelryk

[wysig | wysig bron]

By Wadi Hammamat is 'n rotsinskripsie wat van die 12de Dinastie dateer. Daarin is vyf cartouchename: Choefoe, Djedefre, Chafra, Baoefra en Djedefhor. Dit dui daarop dat Choefoe en sy nageslag as heiliges aanbid is. Dit word bevestig deur die vonds van onder meer albasterflesse met Choefoe se naam daarop wat by Koptos, 'n pelgrimsbestemming van Wadi Hammamat-reisigers, ontdek is.[9][10][11]

Die "Droomstele" van naby.

Nuwe Ryk

[wysig | wysig bron]

Gedurende die Nuwe Ryk is die nekropolis van Choefoe en die plaaslike dodekultusse gereorganiseer, en Giza het weer 'n belangrike ekonomiese en kultusbestemming geword. In die 18de Dinastie het koning Amenhotep II 'n dodetempel en koninklike stele naby die Groot Sfinks laat oprig. Sy seun en opvolger, Toetmoses IV, het die Sfinks uit die sand laat grawe en 'n herdenkingstele – bekend as die "Droomstele" – tussen sy voorpote laat oprig. Nie een van die steles dui aan wie die ware bouer van die Groot Sfinks is nie.[3][4][38]

Aan die einde van die 18de Dinastie is 'n tempel vir die godin Isis by satellietpiramide G1-c (dié van koningin Henoetsen) in Choefoe se nekropolis laat oprig wat in die 25ste en 26ste Dinastie uitgebrei is. Van dié tyd af het verskeie "priesters van Isis", wat ook "priesters van Choefoe" was, daar gewerk.[3][4][38]

Laat tydperk

[wysig | wysig bron]

In die Laat Tydperk is talle skarabeë met Choefoe se naam aan die burgers van Egipte verkoop, moontlik as gelukbringers. Meer as 30 het bewaar gebly. By Isis se tempel word 'n stamboom van Isis se priesters vertoon met lyste name van 670 v.C. tot 488 v.C. Uit dieselfde tydperk het die Inventarisstele bewaar gebly, met die name van Choefoe en sy vrou, Henoetsen. Moderne Egiptoloë reken egter Choefoe is teen dié tyd nie meer as 'n koninklike voorouer beskou nie, maar as 'n blote simboliese stigtersfiguur van die geskiedenis van Isis se tempel.[3][4][38][39]

Choefoe in antieke Griekse tradisies

[wysig | wysig bron]
'n Borsbeeld van Herodotos.

Manetho

[wysig | wysig bron]

Die latere Griekse geskiedkundige Manetho noem Choefoe "Soefis" en sê hy het 63 jaar lank regeer. Hy noem ook Choefoe het die Groot Piramide laat bou, maar daarna sê hy dit is volgens sy tydgenoot Herodotos deur "Cheops" laat bou. Manetho het gedink "Cheops" en "Soefis" is twee verskillende farao's.

Herodotos

[wysig | wysig bron]

Herodotos het Choefoe as 'n ketter en wrede tiran uitgebeeld. In sy letterkundige werk Historiae, Boek II, hoofstuk 124-126, skryf hy: "Ná hom (Rampsinitos) het Cheops hulle koning geword, en hy het hulle laat ly: Hy het al die tempels gesluit; daarna het hy die priesters verbied om daar offerandes te bring, en toe het hy alle Egiptenare gedwing om vir hom te werk. Sommige het opdrag gekry om stene van die steengroewe in die Arabiese berge na die Nyl te bring, ander is gedwing om die stene te ontvang nadat hulle met bote oor die rivier vervoer is en hulle op te trek na die Libiese berge. En 100 000 mans het op 'n keer gewerk, onophoudelik vir drie maande. Tien jaar van dié onderdrukking het verbygegaan terwyl die pad gebou is, en dit lyk my nie dit is 'n kleiner werk as die piramide self nie. Want die lengte is 5 furlong en die breedte 10 vaam en die hoogste hoogte 8 vaam, en dit is gemaak van gepoleerde stene en met figure daarop uitgekerf. Hulle sê dit het 10 jaar geduur."

Dan volg 'n beskrywing van die moeisame bou van die piramide oor 20 jaar. "Verder het Cheops so 'n vlak van boosheid bereik dat hy sy eie dogter na 'n bordeel gestuur het toe hy geld nodig gehad het. Hy het haar opdrag gegee om 'n sekere bedrag te kry van dié wat daar gekom het . (Hoeveel dit was, het hulle nie vir my gesê nie.)" Sy het glo ekstra geld ingesamel en daarmee die middelste satellietpiramide voor Choefoe s'n vir haarself laat bou.[38][40][41]

Dieselfde wreedheid is aan Chafra toegedig. Hy was glo net so wreed soos Choefoe en het 56 jaar regeer. "Hulle sê altesaam 106 jaar lank was daar niks behalwe boosheid vir die Egiptenare nie, en die tempels is gesluit gehou en in dié hele tyd nie oopgemaak nie".[38][40][41]

Herodotos sluit die storie oor die wrede konings in hoofstuk 128 af met die woorde: "Die Egiptenare wil nie dié konings se name noem nie (uit haat vir hulle). Hulle het selfs die piramides na Filitis die skaapwagter wat in dié tyd troppe in die streek opgepas het, genoem."[38][40][41]

Diodorus van Sisilië

[wysig | wysig bron]
Diodorus Siculus.

Die antieke geskiedkundige Diodorus beweer Choefoe is later so deur sy mense verafsku dat die dodepriesters in die geheim die sarkofaag en Choefoe se lyk na 'n ander verborge graf geneem het. So het hy die vertellings van die Griekse geleerdes bevestig dat Choefoe se piramide (en die ander twee) die gevolg van slawerny moes gewees het.

Diodorus het hom egter terselfdertyd van Herodotos gedistansieer en gesê Herodotos "vertel net feëverhale en ontspanningsfiksie".

Diodorus sê die Egiptenare van sy tyd kon nie vir hom sê wie werklik die piramides laat bou het nie. Hy sê verder hy vertrou nie eintlik die tolke nie en dat die ware bouer eintlik iemand heel anders kan wees: Choefoe se piramide is volgens hom deur 'n koning met die naam Harmais laat bou, die Chafra-piramide deur koning Amasis II en die Menkaure-piramide deur koning Inaros I.[17]

Choefoe in Arabiese tradisies

[wysig | wysig bron]

Die Arabiere het Egipte in 642 n.C. verower. By die Giza-piramides het hulle gesoek na verduidelikings oor wie dit kon gebou het. Teen dié tyd was geen inwoner van Egipte meer in staat om dit te vertel of om die Egiptiese hiërogliewe te vertaal nie. As gevolg hiervan het die Arabiese historici hulle teorieë neergeskryf.[42]

Die beste bekende verhaal oor Choefoe en sy piramide kom uit die boek Hitat (volledige naam: al-Mawāʿiẓ wa-’l-iʿtibār fī ḏikr al-ḫiṭaṭ wa-’l-ʾāṯār), wat in 1430 deur Moehammad al-Maqrizi geskryf is. Dit bevat verskeie versamelde teorieë en mites oor Choefoe, veral wat betref die Groot Piramide. Hoewel Choefoe self selde genoem word, was baie Arabiese skrywers oortuig daarvan dat die Groot Piramide (én die ander) deur die god Hermes gebou is (wat in Egipties Thoth was en deur die Arabiere Idris genoem word).[42]

Volgens Al-Maqrizi was die Bybelse Amalekiete se naam vir Choefoe Saoerid, Salhoek en/of Sarjak. Hy skryf Choefoe het die piramides laat bou ná herhaalde nagmerries waarin die aarde omgekeer, die sterre neergeval en die mense uit vrees geskree het. In 'n ander nagmerrie het die sterre uit die hemel geval, mense gekaap en hulle toe onder twee groot berge neergesit. Koning Choefoe se profete het hom gewaarsku oor 'n enorme vloed wat Egipte sou verwoes. Om sy skatte en boeke van wysheid te beskerm, het Choefoe die drie pirmides van Giza laat bou.[42]

Moderne Egiptologiese evaluering

[wysig | wysig bron]

Egiptoloë het oor 'n kwessie van tyd moontlike motiewe en redes ondersoek oor hoekom Choefoe se reputasie mettertyd verander het. Nadere ondersoek en vergelykings tussen kontemporêre, latere en Griekse/Koptiese dokumente het getoon Choefoe se reputasie het stadigaan verander en dat die positiewe sienings van die farao steeds in die Griekse tydperk bestaan het.[43]

Alan B. Lloyd wys byvoorbeeld op dokumente en inskripsies uit die 6de Dinastie wat die belangrike dorp Menat-Choefoe noem, wat beteken "verpleegster van Choefoe". Dié dorp het in die Middelryk steeds 'n goeie naam gehad. Lloyd is oortuig daarvan dat so 'n warm naam nie gekies sou gewees het as die koning 'n slegte (of twyfelagtige) reputasie gehad het nie. Daar was ook talle plekke waar dodekultusse vir Choefoe gehou is, selfs buite Giza. Hulle is in latere tydperke steeds gehou.[43]

Die beroemde Klaagliedere uit die Eerste Oorgangstydperk van Egipte onthul 'n paar interessante sienings oor die monumentale grafkelders van die verlede; dit is toe beskou as 'n bewys van ydelheid. Daar is egter geen teken van 'n negatiewe reputasie van die farao's self nie, en dus word Choefoe nie op 'n negatiewe manier beoordeel nie.[43]

Moderne Egiptoloë reken Herodotos en Diodorus se stories is die een of ander vorm van laster volgens die huidige filosofie. Hulle vra dat die antieke tekste met omsigtigheid gelees word. Hulle wys daarop dat die klassieke skrywers sowat 2 000 jaar ná Choefoe gelewe het en dat hulle bronne van destyds verouder was.[38][40] Verder wys sommige Egiptoloë uit dat die filosofieë van die antieke Egiptenare sedert die Ou Ryk verander het. Oorgroot grafkelders het die Grieke en selfs die priesters van die Nuwe Ryk onthuts, want dit het hulle aan die heidense farao Achenaten en sy magsbehepte bouprojekte laat dink.[40][41] Dié negatiewe beeld is vermoedelik op Choefoe geprojekteer.

Nog 'n rede vir Choefoe se slegte reputasie kon versteek gewees het in die Koptiese lesing van sy naam. Die Egiptiese hiërogliewe wat die naam "Choefoe" spel, word in Kopties gelees as "Shêfet", wat in dié taal "slegte geluk" of "sondig" sou beteken. Die Koptiese lesing is afgelei van 'n latere uitspraak van "Choefoe" as "Sjoefoe", wat weer gelei het tot die Griekse lesing "Soefis". Dalk het die slegte betekenis van die Koptiese lesing van "Choefoe" onbewustelik 'n indruk op die Griekse en Latynse skrywers gemaak.[43]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Clayton, Peter A. Chronicle of the Pharaohs. p42. Thames and Hudson, London, 2006. ISBN 978-0-500-28628-9
  2. Malek, Jaromir, "The Old Kingdom" in The Oxford History of Ancient Egypt, red. Ian Shaw, Oxford University Press 2000, ISBN 978-0-19-280458-7 p.88
  3. 3,00 3,01 3,02 3,03 3,04 3,05 3,06 3,07 3,08 3,09 3,10 3,11 3,12 3,13 Thomas Schneider. Lexikon der Pharaonen. Albatros, Düsseldorf 2002, ISBN 3-491-96053-3, ble. 100–104
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 4,5 4,6 4,7 4,8 Aidan Dodson. Monarchs of the Nile. American Univ in Cairo Press, 2000, ISBN 977-424-600-4, ble. 29–34
  5. "BBC - History - Khufu" (in Engels (VK)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2020. Besoek op 10 Maart 2018.
  6. Rosalie F. Baker, Charles F. Baker: Ancient Egyptians: People of the Pyramids (= Oxford Profiles Series). Oxford University Press, 2001, ISBN 0195122216, page 33.
  7. Gundacker, Roman (2015) “The Chronology of the Third and Fourth Dynasties according to Manetho’s Aegyptiaca” in Towards a New History for the Egyptian Old Kingdom, bl. 114–115.
  8. Flavius Josephus, Folker Siegert: Über Die Ursprünglichkeit des Judentums (Contra Apionem), Volume 1, Flavius Josephus. From: Schriften Des Institutum Judaicum Delitzschianum, Westfalen Institutum Iudaicum Delitzschianum Münster). Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen 2008, ISBN 3-525-54206-2, page 85.
  9. 9,0 9,1 9,2 9,3 9,4 9,5 9,6 9,7 9,8 Aidan Dodson & Dyan Hilton: The Complete Royal Families of Ancient Egypt. Thames & Hudson, 2004, ISBN 0-500-05128-3 pp. 52–53
  10. 10,0 10,1 10,2 10,3 10,4 10,5 10,6 10,7 Silke Roth. Die Königsmütter des Alten Ägypten von der Frühzeit bis zum Ende der 12. Dynastie (= Ägypten und Altes Testament 46). Harrassowitz, Wiesbaden 2001, ISBN 3-447-04368-7, ble. 354 – 358 & 388
  11. 11,0 11,1 11,2 11,3 11,4 11,5 11,6 Porter, Bertha and Moss, Rosalind: Topographical Bibliography of Ancient Egyptian Hieroglyphic Texts, Statues, Reliefs and Paintings, Volume III: Memphis, Part I Abu Rawash to Abusir. 2de uitgawe
  12. Grajetzki: Ancient Egyptian Queens: A Hieroglyphic Dictionary. Golden House Publications, London, 2005, ISBN 978-0-9547218-9-3
  13. 13,0 13,1 "Khufu's 30-Year Jubilee: Newly Discovered Pieces of a Puzzle". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2024. Besoek op 21 Mei 2024.
  14. R. Kuper en F. Forster: Khufu's 'mefat' expeditions into the Libyan Desert. In: Egyptian Archaeology, vol. 23, Autumn 2003, bl. 25-28 Foto van die inskripsie Geargiveer 12 November 2020 op Wayback Machine
  15. 15,0 15,1 15,2 15,3 Pierre Tallet, Gregory Marouard: Wadi al-Jarf – An early pharaonic harbour on the Red Sea coast. In: Egyptian Archaeology, vol. 40, Cairo 2012, p. 40-43.
  16. 16,0 16,1 16,2 16,3 Rossella Lorenzi (12 April 2013). "Most Ancient Port, Hieroglyphic Papyri Found". Discovery News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Maart 2016. Besoek op 21 April 2013.
  17. 17,0 17,1 Michael Haase: Eine Stätte für die Ewigkeit: der Pyramidenkomplex des Cheops aus baulicher, architektonischer und kulturgeschichtlicher Sicht. von Zabern, Mainz 2004, ISBN 3805331053, p. 12-13.
  18. Sakuji Yoshimura: Sakuji Yoshimura's Excavating in Egypt for 40 Years: Waseda University Expedition 1966–2006 – Project in celebration of the 125th Anniversary of Waseda University. Waseda University, Tokyo 2006, page 134–137, 223.
  19. Karl Richard Lepsius: Denkmaler Abtheilung II Band III Aanlyn beskikbaar, sien ble. 2, 39 Geargiveer 27 Oktober 2015 op Wayback Machine
  20. 20,0 20,1 20,2 James Henry Breasted: Ancient Records of Egypt: The first through the seventeenth dynasties. University of Illinois Press, New York 2001, ISBN 0-252-06990-0, page 83–84.
  21. Toby A. H. Wilkinson: Early Dynastic Egypt: Strategies, Society and Security. Routledge, Londen 2001, ISBN 0-415-26011-6, page 160–161.
  22. 22,0 22,1 22,2 22,3 22,4 22,5 22,6 Zahi Hawass: The Khufu Statuette: Is it an Old Kingdom Sculpture? In: Paule Posener-Kriéger (Hrsg.): Mélanges Gamal Eddin Mokhtar (= Bibliothèque d'étude, vol. 97, chapter 1) Institut français d'archéologie orientale du Caire, Kairo 1985, ISBN 2-7247-0020-1, page 379–394.
  23. W.M. Flinders Petrie: Abydos II., Egypt Exploration Fund, Londen 1903, bl. 3 & tabl XIII, voorw. XIV.
  24. 24,0 24,1 24,2 Abeer El-Shahawy, Farid S. Atiya: The Egyptian Museum in Cairo: A Walk Through the Alleys of Ancient Egypt. American Univ in Cairo Press, New York/Cairo 2005, ISBN 977-17-2183-6, page 49ff.
  25. Sakuji Yoshimura, Nozomu Kawai, Hiroyuki Kashiwagi: A Sacred Hillside at Northwest Saqqara. A Preliminary Report on the Excavations 2001–2003. In: Mitteilungen des Deutschen Archäologischen Instituts Abteilung Kairo (MDAIK). Volume 61, 2005, page 392–394; sien aanlyn weergawe met foto's Geargiveer 21 Mei 2024 op Wayback Machine.
  26. Dagmar Stockfisch: Untersuchungen zum Totenkult des ägyptischen Königs im Alten Reich. Die Dekoration der königlichen Totenkultanlagen (= Antiquitates, vol. 25.). Kovač, Hamburg 1994, ISBN 3-8300-0857-0.
  27. Richard A. Fazzini, Robert S. Bianchi, James F. Romano, Donald B. Spanel: Ancient Egyptian Art in the Brooklyn Museum. Brooklyn Museum, Brooklyn (NY) 1989, ISBN 0-87273-118-9.
  28. Sylvia Schoske, Dietrich Wildung (Hrsg.): Staatliche Sammlung Ägyptischer Kunst München. (= Zaberns Bildbände zur Archäologie. vol. 31 = Antike Welt. vol. 26, 1995). von Zabern, Mainz 1995, ISBN 3-8053-1837-5, page 43.
  29. Metropolitan Museum of Art, Royal Ontario Museum: Egyptian Art in the Age of the Pyramids. Metropolitan Museum of Art, New York (US) 1999, ISBN 0870999079, p.223.
  30. John Romer: The Great Pyramid: Ancient Egypt Revisited. Cambridge University Press, Cambridge 2007, ISBN 0-521-87166-2, page 414–416.
  31. William James Hamblin: Warfare in the Ancient Near East to 1600 BC: Holy Warriors at the Dawn of History. Routledge, Londen/New York 2006, ISBN 0-415-25589-9, page 332.
  32. Kathryn A. Bard, Steven Blake Shubert: Encyclopedia of the Archaeology of Ancient Egypt. Routledge, Londen 1999, ISBN 0-415-18589-0, page 1071.
  33. Jean Leclant: Sesto Congresso internazionale di egittologia: atti, vol. 2. International Association of Egyptologists, 1993, bl. 186–188.
  34. 34,0 34,1 34,2 34,3 34,4 34,5 34,6 Michael Haase: Eine Stätte für die Ewigkeit. Der Pyramidenkomplex des Cheops aus baulicher, architektonischer und kulturhistorischer Sicht. von Zabern, Mainz 2004, ISBN 3-8053-3105-3.
  35. 35,0 35,1 35,2 35,3 35,4 35,5 35,6 Rainer Stadelmann: Die ägyptischen Pyramiden: Vom Ziegelbau zum Weltwunder. 2. überarteitete und erweiterte Auflage., von Zabern, Mainz 1991, ISBN 3-8053-1142-7.
  36. 36,0 36,1 36,2 36,3 36,4 36,5 36,6 Zahi Hawass: The Programs of the Royal Funerary Complexes of the Fourth Dynasty. In: David O'Connor, David P. Silverman: Ancient Egyptian Kingship. BRILL, Leiden 1994, ISBN 90-04-10041-5.
  37. 37,0 37,1 37,2 37,3 Peter Jánosi: Die Pyramiden: Mythos und Archäologie. Beck, Frankfurt 2004, ISBN 3-406-50831-6, page 70–72.
  38. 38,0 38,1 38,2 38,3 38,4 38,5 38,6 38,7 Dietrich Wildung: Die Rolle ägyptischer Könige im Bewußtsein ihrer Nachwelt, Band 1: Posthume Quellen über die Könige der ersten vier Dynastien (= Münchener Ägyptologische Studien, Bd. 17). Hessling, Berlin 1969, S. 105–205.
  39. Gunnar Sperveslage: Cheops als Heilsbringer in der Spätzeit. In: Sokar, vol. 19, 2009, page 15–21.
  40. 40,0 40,1 40,2 40,3 40,4 Siegfried Morenz: Traditionen um Cheops. In: Zeitschrift für Ägyptische Sprache und Altertumskunde, vol. 97, Berlyn 1971, 0044-216X, ble. 111–118.
  41. 41,0 41,1 41,2 41,3 Wolfgang Helck: Geschichte des Alten Ägypten (= Handbuch der Orientalistik, vol. 1.; Hoofstuk 1: Der Nahe und der Mittlere Osten, vol 1.). BRILL, Leiden 1968, ISBN 90-04-06497-4, page 23–25 & 54–62.
  42. 42,0 42,1 42,2 Stefan Eggers: Das Pyramidenkapitel in Al-Makrizi`s "Hitat". BoD, 2003, ISBN 3833011289, p. 13-20.
  43. 43,0 43,1 43,2 43,3 Alan B. Lloyd: Herodotus, Book II: Commentary 1-98 (volume 43 van: Études préliminaires aux religions orientales dans l'Empire romain). BRILL, Leiden 1993, ISBN 9004077375, page 62 - 63.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]