Gaan na inhoud

Middelryk van Egipte

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
’n Standbeeld van die eerste farao van die Middelryk, Mentoehotep II.

Die Middelryk van Egipte (ook bekend as die Tydperk van Hereniging) is die periode van Antieke Egipte tussen 2000 en 1700 v.C. Dit het gestrek van die begin van die 11de Dinastie tot aan die einde van die 12de Dinastie. In dié tyd het Osiris die belangrikste god in Egipte geword.[1]

Daar was twee fases: die 11de Dinastie wat vanaf Thebe regeer het, en die 12de Dinastie met sy mag in Lisjt.

Ná die val van die Ou Ryk het Egipte ’n tydperk van onenigheid en kulturele agteruitgang binnegegaan bekend as die Eerste Oorgangstydperk.[2] Aan die einde van dié tyd het die 10de en die 11de Dinastie om die mag baklei. Die stryd is deur Mentoehotep II van die 11de Dinastie beëindig toe hy sy mag oor die hele Egipte verenig.[2] Hy word dus beskou as die stigter van die Middelryk.[3]

Die 12de Dinastie het begin met die bewind van Amenemhet I. Daar is ’n teorie dat hy Mentoehotep se troon afgeneem het.[4] Hoewel daar geen rekords oor hierdie magstryd is nie, is daar aanduidings van ’n burgeroorlog aan die einde van die 11de Dinastie.[5] Wat wel seker is, hoe Amenemhet I ook al aan die bewind gekom het, is dat hy nie ’n koninklike van geboorte was nie.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. David, Rosalie (2002). Religion and Magic in Ancient Egypt. Penguin Books. p. 156
  2. 2,0 2,1 Grimal. (1988) p. 156
  3. Habachi. (1963) pp. 16-52
  4. Gardiner, Alan (1964). Egypt of the Pharaohs. Oxford University Press.
  5. Redford, Donald (1992). Egypt, Canaan, and Israel in Ancient Times. Princeton University Press. ISBN 0-691-00086-7.