Jana Coetzee
Jana Coetzee (1927–2012) was ’n Afrikaanse skrywer van veral liefdesverhale.
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Anna Jacoba (Jana) Coetzee is op 27 Oktober 1927 gebore. Sy bly op Hartbeespoort. Vir lank tree sy in België op as evangelis en is ook joernalis. Sy is getroud met Jan en hulle het twee dogters, Rosa en Linda. Haar dogter Rosa is die bekende digter Rosa Smit. Op 14 September 2012 is sy oorlede
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Haar kortverhale word in talle tydskrifte gepubliseer. “Tussen die lewendes” (1975) is ’n romantiese spanningsverhaal. Snaakse dinge gebeur in die lewe van die skatryk Daleen Nel. Sy gaan sien ’n sielkundige, maar dit vererger net haar angs. Daar is oënskynlik net een van twee moontlike verklarings, óf sy is besig om kranksinnig te word óf Glenda MacKay het teruggekeer uit die dood en besit van haar liggaam geneem. Daleen kan na niemand draai vir hulp nie. Marius behoort aan Vicky en haar stieffamilie haat haar – en boonop is hulle haar erfgename.
Die woestyn liefdesverhaal “Vasti van Babilon” (1986) neem die begin van die Bybelverhaal van Ester om die geskiedenis van koningin Vasti te versin. Op die walle van die Eufraat buite Babilon het Vasti en Jeria as kinders saamgespeel en later ontdek dat hulle mekaar liefhet. Sy is egter ’n Persiër en hy ’n Jood uit ’n geslag van bannelinge, wat voortdurend deur sy ouers vermaan word dat hulle God ’n huwelik met ’n heiden verbied. Koning Xerxes, magtige heerser van die Persiese ryk, laat die beeldskone Vasti na sy paleis bring en verhef haar tot koningin. Vasti bly egter afsydig en kil teenoor koning Xerxes en ondermyn telkens sy gesag. Haar uittarting gaan te ver wanneer sy Xerxes se versoek weier om haarself aan wellustelinge te vertoon, waarvoor sy gestraf word. Jeria gaan intussen na Jerusalem om die stad te help opbou, omdat hy glo dat hy en Vasti geen toekoms saam het nie. Hy weet dat hy geen ander vrou as Vasti ooit sal liefhê nie, maar vertrou op sy God, wat hy glo hom verder sal lei.
“Liesbet” (2012) word groot op ’n plaas naby die Magaliesberg waar die Hartbeespoortdam beplan en gebou word. Sy het ’n alles oorheersende liefde vir Grant, die hoof van die projek, maar hy is onbereikbaar. Tydens haar stiefma Kotie se ontydige, traumatiese bevalling neem Liesbet ’n eed waaraan sy met droefheid geketting bly, maar haar liefde vir Grant en die roeping tot moederskap is ondanks alle diepgewortelde besluite onstuitbaar. Jana skryf ook Christelike dramas wat deur die kerk opgevoer word.
Publikasies
[wysig | wysig bron]Jaar | Publikasies |
---|---|
1974 | Die dood speel boemerang |
1975 | Tussen die lewendes |
Vrou sonder skaduwee | |
1976 | Eiland van storms |
Sonder gister se spoor | |
1978 | Onweer oor Mebron |
1979 | Skadu’s tussen die denne |
1981 | Wag op die wind |
’n Plek vir Ester | |
1982 | Eileen Vigus: Haar verhaal (saam met Eileen Vigus) |
1983 | Net die liefde bly |
1986 | Vasti van Babilon |
1989 | Haar vreemde sending |
1991 | Twee eilande |
1992 | Gesneuwelde mure |
1995 | Waar is Miriam? |
1997 | Die brandende vuur |
Taal van die see | |
Weerklank van die klowe | |
1999 | Die Vlieënde Hollander en ander verhale |
2001 | Reëns van vernuwing |
2006 | Liefde se vreemde paaie |
2012 | Liesbet |
Bronne
[wysig | wysig bron]Tydskrifte en koerante
[wysig | wysig bron]- Anoniem “Jana se 30ste boek op die rakke” “Kormorant” 19 Julie 2012
Internet
[wysig | wysig bron]- Esaach: http://esaach.org.za/index.php?title=Coetzee,_Jana
- Rosslyn Publishers: http://www.rosslynpublishers.com/jana-coetzee.html Geargiveer 21 Maart 2017 op Wayback Machine
- Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-n83131444/
- Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au%3ACoetzee%2C+Jana.&qt=hot_author