Gaan na inhoud

Gereformeerde kerk Maclear-Elliot

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Gereformeerde Kerk
Maclear-Elliot
Sluit in  Elliot
Ida
Maclear
Ugie
Denominasie  Gereformeerde Kerk
Klassis  Klassis Boland
Huidige predikant(e)  Vakant
Belydende lidmate  36
Dooplidmate  9
Adres Thomsonstraat
Maclear en
Charterstraat
Elliot
Geskiedenis
Stigtingsdatum  1991
Eerste predikant  W.J. Botha 1992–1999

Die Gereformeerde kerk Maclear-Elliot het in 1991 ontstaan toe die wyk Elliot, van 1899 tot 1979 die selfstandige Gereformeerde kerk Elliot en daarna tot 1991 ’n wyk van die Gereformeerde kerk Barkly-Oos, by die Gereformeerde kerk Maclear ingelyf is. Omdat dit in werklikheid net ’n naamsverandering was, word die saamgestelde gemeente se stigtingsdatum steeds as 1926 aangegee, dié van die ou Gereformeerde kerk Maclear. Die gemeentes wat nou Maclear-Elliot vorm, het in 1960 saam 120 belydende lidmate gehad en 62 dooplidmate. In 1997 het Maclear-Elliot 34 belydende en 16 dooplidmate gehad, einde 2013 onderskeidelik 43 en 15 en 'n jaar later 41 en 10.

Geskiedenis: Maclear

[wysig | wysig bron]

Eredienste is reeds van 1910 af op Pitseng in die latere Transkei op die plaas Belgrave van oudl. H.J. Alberts gehou. ’n Skoolgebou met twee vertrekke is ook vir die dienste gebruik. Die predikant van Barkly-Oos het drie keer per jaar met die Naudésnekpas oor die Drakensberg gery, dikwels te perd oor onbegaanbare sneeubedekte paaie. Later het die begeerte by dié lidmate ontstaan om saam met dié op Maclear en Ugie van die gemeente Barkly-Oos af te stig.

Op 11 Desember 1926 is die nuwe gemeente Maclear toe gestig onder leiding van ds. Dirk Postma, leraar van die Gereformeerde kerk Burgersdorp van 1906 tot sy dood op 29 Desember 1940. Aangesien die gemeente geldelik nie sterk was nie, kon die lidmate nie bekostig om ’n kerk te laat oprig nie; daarom het hulle ’n saaltjie langs die Central-hotel gehuur. Later het hulle ook die destydse kerk van die NG gemeente Maclear gedeel en Sondagmiddae dienste daarin gehou. Nagmaal is elke drie maande bedien. Weens die geldnood kon die gemeente ook nie selfstandig ’n predikant bekostig nie; dus moes predikante van nabygeleë dorpe, soos Dordrecht en Indwe, en konsulente help met die bediening.

In 1940 het die gemeente wel besluit om ’n kerk te bou en op 9 November daardie jaar het ds. W.J. Snyman van die Gereformeerde kerk Venterstad die hoeksteen gelê. Dié gebou is in 1942 voltooi. Die hout vir die kerk se dak is gesaag van bome wat op die kerkterrein gegroei het.

Op 16 Julie 1969 het die kerkraad besluit om die kerkgebou op te knap. Dit het onder meer behels da die houtvensters deur staalraamvensters vervang is, die konsistorie vergroot is en ’n doeltreffende ingang voor aan die kerk aangebou is wat as hoofingang sou dien. ’n Vertrek met spoeltoilette is agter die kerk gebou, nuwe kerkbanke is aangebring en elektriese ligte is vervang. Die preekstoel is ook opgeknap en die hele gebou is geverf. ’n Fabriek in Johannesburg het sagter sitplekke vervaardig. In dié tyd het die Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal sy eerste kerkgebou verkoop en het dr. R. Venter van die Gereformeerde kerk Randburg gereël dat die preekstoel aan Maclear geskenk word. Fishers op Queenstown het nuwe Nagmaaltafels gemaak.

Op 30 Oktober 1971 het die kerkraad besluit om ’n orrelfonds te stig. Die kerkklok en traporrel is aan die sendinggemeente geskenk en die gemeentesang was maar sukkelend sonder ’n orrel. Op 15 Desember 1972 het SA Orrelbouers ’n pyporrel volledig geïnstalleer. Op 6 November 1974 het die boukommissie voorgestel dat ’n sinkdak oor die portaal opgerig, stroke sement om die kerkgebou aangebring en die buitekant opnuut geverf word.

Geskiedenis: Elliot

[wysig | wysig bron]
Die Gereformeerde kerk Elliot is by Maclear ingelyf, maar dienste word nog hier gehou.

Reeds in 1886 is ’n buitestasie in Temboeland, die gebied oorkant die suidelike Drakensberg, gestig. Dit was onder die toesig en bediening van die kerkraad van die Gereformeerde kerk Barkly-Oos. Op 28 Januarie 1899 is die Gereformeerde kerk Elliot as selfstandige gemeente afgestig. Toe het daar reeds ’n klein kerkgebou op die dorp gestaan wat ondanks sy grootte in lidmate se behoeftes voorsien het.

Op 13 April 1906 is oudl. S.C.J. van Niekerk opdrag gegee om ’n nuwe kerk op te rig. Dit was ’n tipiese saalkerk en het geen vensters aan die voorkant gehad nie. Ds. P.C. Snyman van die Gereformeerde kerk Steynsburg het die plegtigheid tydens die hoeksteenlegging op 6 Oktober 1906 waargeneem. Die skare het Psalm 118:11 gesing en ’n gebed is gedoen. Dié gebou is die volgende jaar in gebruik geneem. Die kerkgebou sou verhuur word teen £1.10 per maand, maar die bron meld nie deur wie aan wie nie.

In 1938 is ’n trap voor die kerkgebou aangebring en in 1955 is nuwe banke, ’n preekstoel, Nagmaaltafel en los stoele in gebruik geneem. Toe is al die ou banke verkoop.

Elliot hê in 1960 nog 88 belydende en 43 dooplidmate gehad vergeleke met Maclear se 32 en 19 en Barkly-Oos se 136 en 59. Nietemin was dit Elliot wat op 18 Augustus 1979 ontbind en ’n wyk van Barkly-Oos geword het. Van 1980 tot 1991 was daar ’n bedieningsooreekoms tussen Barkly-Oos, Elliot en Maclear. Daarna is ’n kombinasie-akte aanvaar en het Elliot ’n wyk geword van Maclear, waarvan die naam toe verander is na die Gereformeerde kerk Maclear-Elliot.

In 2010 (en waarskynlik vandag nog) is die kerkgebou op Elliot steeds twee Sondae per maand vir eredienste gebruik. Op 19 November 2006 het die plaaslike Gereformeerdes die honderdjarige herdenking van die hoeksteenlegging feestelik gevier en ’n gedenksteen onthul. Die ou traporrel staan vandag nog agterin die kerkgebou.

Predikante

[wysig | wysig bron]
  1. Botha, Willem Jacobus, 1992 – 1999 (in kombinasie met Barkly-Oos)
  2. De Bruyn, Albertus Stefanus Andries, 2000 – 2005 (in kombinasie met Barkly-Oos)
  3. Van der Merwe, Willem Petrus, 2006 – 2009 (in kombinasie met Barkly-Oos)
  4. Jobse, Wilhan, 2010 – 2012 (in kombinasie met Barkly-Oos)
  5. De Bruyn, Dirk Jacobus, 2014 – hede (in kombinasie met Barkly-Oos)

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Sien ook

[wysig | wysig bron]