Gaan na inhoud

Sjokolade

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sjokolade
'n Winkel in die Belgiese hoofstad Brussel spog met hierdie sjokoladefontein

Sjokolade is 'n lewensmiddel en lekkerny wat uit kakao, suiker en melk vervaardig word. Die woord "sjokolade" kom van Nahoeatl xócoc "bitter" en atl "water".

Kakao is vanaf omstreeks 2000 v.C. in die Suid-Amerikaanse stroomgebiede van Amazonas en Orinoko verbou.[1][2] Die kakaopoeier is met water vermeng en gedrink. Die Olmeke, Maya en Azteke in Sentraal-Amerika het eweneens hierdie tradisie oorgeneem. Kakaobone was waardevol genoeg om selfs as betaalmiddel te dien.

Kakaobone

Die Asteke het die bitter en pikante drank, wat hulle xocoatl genoem het, as kosbaar en as 'n drank van die gode geag; hulle het slegs goue drinkglasies gebruik om die drank plegtig te geniet en die glasies ná die seremonie weggegooi. Dit was met sterk speserye en peper gemeng.

Die mense van Europa het tydens die eeu van ontdekkingsreise met kakao kennis gemaak. Die eerste Europeër, wat die sjokoladedrank geproe het, was die Spaanse conquistador Hernán Cortés. Op sy veroweringstog in Mexiko het hy gesien hoe die Asteekse koning Moctezuma kakao uit die goue beker drink. In 1528 het hy kakaobone na Spanje saamgeneem waar water en suikerriet by die kakao gevoeg is. Die warm sjokolade het binnekort 'n gunstelingdrank van die Spaanse adel geword.

Samuel Pepys (1633-1703), die beroemde Engelse dagboekskrywer, het 'n spesiale aantekening in sy joernaal gemaak nadat hy die eerste keer die genot van hierdie drankie gesmaak het.[3]

In die 18de eeu het sjokolade ook in ander Europese lande gewild geraak, en sjokoladehuise het met koffiehuise begin meeding. Die Nederlandse chemikus Conrad van Houten het in 1828 daarin geslaag om die kakaobotter uit te pers en kakaopoeier te vervaardig. Sjokolade het egter steeds 'n drank met 'n bitter en sanderige smaak gebly.

Eers sowat twee dekades later is gemaalde kakaobone, kakaobotter en suiker vermeng en geëet. Die Engelse maatskappy J.S. Fry (nou Cadbury) het die nuwe soort sjokolade vanaf 1847 aangebied. Melksjokolade was 'n Switserse uitvinding van die jaar 1875; die kandyvervaardiger Daniel Peter en die chemikus Henri Nestlé het sjokolade met gekondenseerde melk begin vermeng.

Nogtans het sjokolade in die 19de eeu 'n effens sanderige tekstuur gehad. In 1879 het die bekende Switserse sjokoladevervaardiger Rodolphe Lindt 'n nuwe metode voorgestel waarmee hy die smaak en tekstuur van sjokolade duidelik kon verbeter. Vir sy beroemde Switserse sjokolade is nuwe masjiene en 'n nuwe houer, die sogenaamde conche (afgelei van die Spaanse woord concha wat letterlik "mossel" beteken) gebruik wat die vloeibare sjokolade sowat drie dae lank geroer het om dit glad te maak. Met hierdie proses, die sogenaamde homogenisering, is die sjokolade se vaste en vloeibare bestanddele vir die eerste keer optimaal vermeng (dit wil sê elke klein deeltjie is van kakaobotter omhul), en sy geurstowwe kon ten volle ontwikkel, terwyl dit van sy bitter bestanddele ontslae geraak het.

Sjokolade van eersterangse gehalte vereis egter ook dat die kakaobone versigtig gerooster en alle vaste toevoegsels fyn gemaal word (gewoonlik tot 'n grootte van net enkele duisendstes van 'n millimeter). Rodolphe Lindt het daarin geslaag om 'n nuwe soort sjokolade aan te bied wat in teenstelling met sy voorgangers letterlik op die tong begin smelt het.

In Noord-Amerika is sjokolade vir die eerste keer in 1765 in Massachusetts vervaardig; aan die begin van die 20ste eeu is sjokolade grootskaals geproduseer en sodoende vir iedereen bekostigbaar gemaak. Dit was veral die Amerikaanse entrepreneur Milton Hershey wat vanaf 1903 met sy Hershey Chocolate Company in Pennsilvanië baanbrekerswerk gedoen het. Net soos die beste Europese sjokoladeprodusente het hy die bestanddele van die sjokolade sowat drie dae lank laat roer om die beste resultaat te verkry. Hy het die Switserse resep egter verander en vars volmelk vir sy sjokolade gebruik.

Die sjokoladeprodusente beskou hulle resepte tradisioneel as geheim; daar is egter bepaalde voorkeure. In Sentraal-Europa word sjokolade volgens die Switserse metode vervaardig - kakaobone uit verskillende lande word gemeng en sorgvuldig geroer. Die Nederlanders en Franses gee die voorkeur aan kakaobone uit hulle voormalige kolonies, die Spanjaarde hou nog steeds van Suid-Amerikaanse kakao, en die Amerikaners wil 'n bietjie ekstra suiker hê.

Die Europese markte is teen die begin van die 21ste eeu deur 'n nuwe voorkeur van gebruikers gekenmerk - dit is nou veral sjokoladesoorte met 'n kakaobestanddeel van meer as sewentig persent wat by fynproewers besonder gewild raak. Eksotiese toevoegsels soos brandrissies word graag by hierdie bitter soorte sjokolade gemeng.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Powis, Terry G.; Cyphers, Ann; Gaikwad, Nilesh W.; Grivetti, Louis; Cheong, Kong (24 Mei 2011). "Cacao use and the San Lorenzo Olmec". Proceedings of the National Academy of Sciences (in Engels). 108 (21): 8595–8600. Bibcode:2011PNAS..108.8595P. doi:10.1073/pnas.1100620108. ISSN 0027-8424. PMC 3102397. PMID 21555564.
  2. "Consumían olmecas chocolate hace 3000 años". El Universal (in Spaans). Mexico City. 29 Julie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2013.
  3. Kennis, vol 6, 1980, bl. 1052-1053, ISBN 0 7981 0828 2

Sien ook

[wysig | wysig bron]
  • Kakaoboon

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]